Andrew Murray se boodskap aan predikante oor sending

Kyk ook:

Die volgende is hoofstuk 1 van die boekie Die sleutel tot ’n kragtige getuienisaksie van Andrew Murray. Hy het dit in 1901 geskryf en is in 1988 in ’n verkorte vorm in Afrikaans uitgegee. Ds Attie van Wijk het die voorwoord geskryf.

Die punt wat hy maak is dat “elke predikant sy eie werk sien as deel van Christus se groot sendingopdrag. Die hele wêreld moet sy kudde word. So kan die invloed van die predikant van die kleinste gemeentetjie wyd uitkring.” Dit gaan dus oor ’n “breër visie” en “die wêreldwye uitstuur van die boodskap van verlossing”.

Die belangrike rol wat Andrew Murray in die NG Kerk gespeel het, het eers later in my lewe deurgedring. Ek dink die feit dat die familie van NG Kerke vandag tot in Malawi, Zimbabwe, Zambië, Mosambiek, ens. uitstrek, grotendeels toegeskryf kan word aan die sendingvisie van Andrew Murray en sy geesgenote. Die beleid dat elke gemeente in die Vrystaat verantwoordelikheid moet neem vir ’n swart gemeente is waarskynlik ook die vrug van die inisiatiewe van die sendingbeweging van ’n eeu gelede.

Hoe meer ek betrokke raak by die swart kerke in die omgewing hoe meer besef ek watter geweldige bydra die NG Kerk in die verlede hier gelewer het om die kerk van Christus onder die swart mense te vestig. Ons moet net voortbou op die werk van ons voorgangers.

Wat wêreldsending betref is ek bevoorreg dat die Here my in my lewe op ’n pad gebring het dat ek die effek van ’n wêreldvisie vir die evangelie kon belewe. Dit gee betekenis aan ons werk vir die Here. As ons eers die voorreg en die vreugde van ’n wêreldbediening gesnap het sal ons ervaar dat die lidmate opgewonde raak oor ons gemeente. Hulle sal gemotiveer wees om te gee. Hulle sal aan die praat raak oor die opwindende dinge waarmee hulle gemeente besig is. Daar sal nuwe moontlikhede oopgaan om ons jeug entoesiasties te maak oor die kerk in ons tyd omdat ons met die regte dinge besig is.

Ons hoef nie ver te gaan soek vir ’n visie en ’n missie vir die gemeente nie. Die wêreld is ons visie en die evangelie is ons missie!

Die gedagtes wat ek met julle deel is nie onrealistiese wensdenkery nie. Daar was reeds tye in die geskiedenis van NG Kerk toe ’n wêreldvisie ons gemotiveer het. Ons moet dit net weer optel. In my eie lewe as voorsitter van die Sinodale Sendingkommisie van die Sinode Hoëveld het ek gesien watter verskil dit in gemeentes te weeg bring waar gemeentes die wêreld in die oog het.

In die lig daarvan deel ek met julle die gedeelte uit Andrew Murray se boekie en ek hoop dit sal vir julle entoesiasties maak soos dit my opnuut entoesiasties gemaak het toe ek dit gelees het.

Vriendelike groete

Jan Louw

************

Hoofstuk 1

Gedagtes rondom die Sendingkonferensie

D.L. Moody het my genooi om die groot interkerklike sendingkonferensie in New York in 1900 by te woon en toe te spreek. Die omstandighede tuis was egter nie sodanig dat ek kon gaan nie. Die Anglo-Boereoorlog het pas uitgebreek. Die uitnodiging het my egter laat wonder: sou ek ’n kragtig genoeg boodskap gehad het as ek wel sou kon gaan – ’n boodskap wat so ’n lang reis die moeite werd sou maak? Sou daar genoeg tyd afgestaan kon word aan dit wat vir my die belangrikste leemte in ons hele sendingsituasie was?

Die eintlike probleem

Hoe meer ek oor die saak nagedink het, hoe duideliker het dit vir my geword. As ek wel sou kon gaan, sou ek graag oor myns insiens die kern van die probleem wou praat: Hoe kan die kerk beweeg word om sy belangrikste funksie te vervul,naamlik die uitvoering van Jesus Christus se opdrag om dissipels vir Hom te maak?

In die verslae wat ek gelees het ter voorbereiding van die konferensie, het werksaamhede in die sendingvelde baie aandag geniet, maar die kernprobleem het nie die aandag gekry wat dit verdien nie. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat die werk aan die tuisfront vir my die belangrikste is nie: Hoe om die kerk te inspireer om die primêre sendingopdrag van Jesus Christus uit te voer.

Christus verwag, as Hoof van die kerk, dat die lede van sy liggaam sy opdragte moet gehoorsaam. Daarvoor moet die lede ’n geestelike ingesteldheid hê om die opdrag duidelik te ver staan en dit uit te voer. Argumente en pleidooie gaan weinig of min resultate toon as hierdie geestelike kwaliteit ontbreek. Die belangrikste punt wat dus aangeraak moet word, is: Hoe kan die kerk teruggebring word na die basiese opdrag van Christus? Vir my was dit ’n groot gemis dat daar in die stukke ter voorbereiding van die konferensie, nie oorheersend hieroor gehandel is nie.

Die kerk se rol in sending

Toe ek uiteindelik die konferensieverslae ontvang, was ek gretig om te sien of daar iets oor hierdie kernprobleem genoem is. Daar was baie voorstelle van hoe belangstelling in die sending aangewakker kan word, maar helaas, geen melding is gemaak van die kerk se rol in sending nie. Daar is vaagweg vermoed dat daar iets verkeerd was met die geestelike peil van die lidmate; dog die erns van die probleem is heeltemal mis gekyk. Die wortel van die kwaad was mynsinsiens die louheid van die lidmate van die kerk van Christus, wat nalaat om sy opdrag na te kern. Nêrens in die verslae is genoeg aandag gegee aan wat gedoen kan word om die kerk van Christus in die opsig wakker te skud nie.

Wat by die konferensie bespreek is, kan onder die volgende drie hoofpunte saamgevat word:

1. Die rol van die predikant

In sy lesing Die rol van die predikant in die buitelandse sending, het dr. Pentecost die volgende gesê:

“Die predikant speel ’n sleutelrol in die oplossing van probleme rondom die sending. Voordat die predikant nie self ’n geesdrif vir sending ontwikkel nie, sal geen sendingaksie blywende vrugte afwerp nie.

“Elke predikant moet sy eie werk sien as deel van Christus se groot sendingopdrag. Die hele wêreld moet sy kudde word. Só kan die invloed van die predikant van die kleinste gemeentetjie wyd uitkring. Geen predikant is herder in die ware sin van die woord as hy nie hierdie breër visie het nie; elke predikant behoort besiel te wees deur die wêreldwye uitstuur van die boodskap van verlossing.

“As leermeester en leier van die gemeente, moet die predikant nie alleen die gemeente se siele heil op sy hart dra nie, maar ook die gemeente se werksaamhede lei. ’n Gemeente wat nie vir die sending gee of daarvoor bid nie, kan aan die deur van die predikant gelê word. As ’n predlkant geesdrif het vir die sending, sal dit aansteeklik op sy gemeente inwerk; ’n gebrek aan geesdrif aan sy kant kan eweseer ’n totale onbetrokkenheid van die gemeente in die hand werk.”

Dr. Cuthbert Hall se onderwerp was: Hoe om kweekskoolstudente ’n geesdrif vir die sending te gee. Hy het gesê:

“Die gesindheid van Christus moet in die besielde predikant weerkaats word. Dit behels ’n duidelike beeld van wat die wêreld nodig het, ’n diepe deernis vir ’n verloregaande wêreld, en ’n gewilligheid om iets aan die saak te doen. Christus het selfs sy lewe as losprys gegee. Hierin sien ons die onbegryplike liefde van Christus beliggaam. Die predikant kan dus die tale van mense en engele praat, al die kennis hê, die geloof om berge te versit, maar as hy nie hierdie liefde het nie, het hy nie die gees van Christus nie en behoort daarom nie aan Hom nie.

“Teologiese skole moenie voel dat hulle hulle plig gedoen het as hulle ’n paar studente aan die sendingveld afstaan nie. Die mikpunt moet wees om elkeen wat hulle oplei ’n geesdrif vir die sending te gee. Die atmosfeer by teologiese skole moet so gelaai wees met ’n geesdrif vir die sending en ’n besorgdheid oor die toestand van die wêreld, dat elke kandidaat homself die een of ander tyd moet afvra of God hom nie ook miskien vir die sending roep nie.

“Vir die een wat tuisbly, wag die groot taak om ander te inspireer vir die laaste opdrag van Christus. Daarvoor moet hy self iemand wees met begrip en insig vir die sendingopdrag van sy Heer; trouens, hy moet, soos Christus, iemand wees met ’n grootse visie vir wêreldsending. Hy moet self begeesterd wees, sodat hy ander kan besiel. Hy moet tuis vooroordele en onkunde uit die weg ruim en traak-my-nie-agtige houdings probeer verander; hy moet sorg vir fondse om die werk te kan voorsit. Hy moet die kerk inlig. Om dit te kan doen, sal dit God self moet wees wat in die predikant werk. God alleen kan so ’n vlam in iemand aansteek.

“Hoewel Sendingwetenskap deel uitmaak van teologiese opleiding, is dit alleen nie genoeg om jongmense te inspireer nie. Daar is ook ander magte aan die werk wat hulle besiel. Ek sien ’n nuwe gesindheid onder baie van ons jongmense: die sending word nie meer as ’n stuk vervelige teologie gesien nie, maar as die hoogste vervulling in diens van die Koning. Die sending trek van die room van ons jongmense. Van ons mees begaafde, besielde en toegewyde jongmense verkies die pad van persoonlike toewyding in diens van hul Meester.

“Uit hierdie soort mense sal die bediening in die toekoms gebou word. Hulle moet ’n Christus-vervulde groep leraars wees, wat Christus vreesloos verkondig as die enigste Naam waardeur mense gered kan word. Dit moet ’n sendinggerigte bediening wees wat daarna uitsien om alle mense te verlos en om Chrtstus se opdrag uit te voer. Hulle sal besiel wees met die gedagte dat Christus hul geroep het om vrug te dra, en dat hulle gestuur is om die boodskap van die opgestane Christus wyd uit te dra, in die versekering dat Hy weer kom.”

D. Brewer Eddy van die Yale-bond het die studente se standpunt oor predikante gestel:

“Die belangrikheid van die regte leiding kan nie oorbeklemtoon word nie. U is die leiers. Ons, die ses miljoen jongmense van hierdie land, is gewillig om te volg as u ons sal lei. Dit is die verantwoordelikheid van die predikant. Die belangrikste indruk van die Yale-bond is die volgende: die predikante is verantwoordelik vir alles wat deur die sendingkommissies gebeur – of nie gebeur nie! Wat ook al die grond mag wees waarop u, u pleidooie tot jongmense rig, ons jongmense sal daarvolgens reageer. Ek wil by u pleit: baseer u oproepe op ’n geestelike fondament, op ’n lewende boodskap van Jesus Christus, vir wie ons al hoe meer liefkry, en ses miijoen jongmense sal u met oorgawe volg.”

S. Earl Taylor het hierby aangesluit:

“Sonder die steun van die predikante is dit nie moontlik om voldoende iets aan die nood van hierdie geslag te doen nie. Waar die predikant help, is dit moontlik om bykans enige onderneming te laat slaag. Die teendeel is ongelukkig ook waar. Baie studente getuig dat hulle baie ondersteuning van toegewyde predikante gekry het terwyl hulle in gemeentes gewerk het. Ongelukkig is daar ook gesê dat die predikant in sommige gevalle eerder ’n struikelblok was in hulle pogings om die gemeentes sendingbewus te maak, omdat hy bang was dat sy eie salaris daardeur geraak sou word.”

Sy Edele S.B. Capen het ook die belangrikheid van die regte leierskap beklemtoon:

“Gewone gelowiges moet ’n belangrike rol in die nuwe sendingbeplanning speel, maar vir die uitvoering van die planne is die predikant onontbeerlik. Die predikant bly nog steeds die leier. ’n Toegewyde predikant beteken ’n toegewyde gemeente. In hierdie nuwe sendingtydvak kan die predikante, as hulle net gewillig is, die aanvoerders word in die heilige oorlog vir geregtigheid op aarde.”

Ds. D.S. MacKay het ’n diepte-dimensie aan die rol van die predikant gegee:

“’n Spesiale oproep tot evangelisasie en sending sal geen waarde hê sonder die oortuigingskrag van die predikant se persoonlike steun nie. Die predikant sal die oproep doodmaak as hy reken dat hy genoeg gedoen het as hy net ’n paar pamflette uitgedeel het of selfs van die kansel daarna verwys het. Dit is die predikant wat die oproep om sendingbetrokkenheid moet inhamer. Ek wil nie die rol van besoekende sendelinge onderskat nie, maar dit moet die predikant self wees wat die algemene oproep in ’n persoonlike een omskep, wat elkeen van sy gemeentelede sal aanspreek.”

Sal die aandag wat daar aan buitelandse sending gegee word die aandag van die behoeftes van die plaaslike gemeente aflei? Biskop Hendrix het ’n voorbeeld genoem:

“’n Sekere ds. Andrew Fuller was bekommerd oor die geestelike peil van sy gemeente. Toe besluit hy om drie Sondae na mekaar te preek oor die plig van die kerk om die wêreld te evangeliseer. Na die derde preek het die lidmate hulself begin afvra: ‘As hierdie boodskap die wêreld kan red, kan dit mos ook ons kinders en die ander mense in ons eie dorp red?’ Uit hierdie sendingboodskappe van Andrew Fuller het een van die merkwaardigste herlewings van enige kerk ontspring.”

Die rol wat die predikant in die sending moet speel, behels veel meer as net ’n ondersteuning van sending in die algemeen. Die predikant moet besef dat wêreldevangelisasie die hoofdoel is van die kerk, en dus ook die hoofdoel van sy gemeente. Hy moet besef dat sending die rede is waarom sy gemeente bestaan. Eers as hy hierdie waarheid besef, gee hy aan sending die plek wat dit in sy bediening toekom. Hy moet daarna streef om elke gemeentelid as getuie van Christus se liefde te sien. Hy moet weet dat die geestelike klimaat van sy gemeente gemeet word aan hulle belangstelling in die werk van die Here. Hy moet weet hoe om die gemeentelede te besiel om die uitbreiding van die koninkryk van God hulle hoogste doel te maak.

Die predikant sal vind dat dit ’n bomenslike opdrag is as hy homself nie oorgee om deur die Heilige Gees vervul te word nie. Alleen dan sal hy die aanslae van onkunde, vooroordeel, ongeloof en wêreldgesindheid die hoof kan bied. Die Heilige Gees wil hom vervul met ’n verterende liefde vir Jesus Christus, ’n onwrikbare geloof in sy krag en ’n vurige begeerte om die dissipels van Christus te lei om hulle lewe te wy aan die koms van die koninkryk van God in die hele wêreld.

As ons ’n studie maak van die leraar se verantwoordelikheid ten opsigte van sending, sal ons gou besef dat geen predikant hierdie rol kan vervul as sy persoonlike lewe nie vervul is met liefde vir Jesus Christus, sy persoonlike Verlosser, nie. Dit is die stukrag van sy sendinggeesdrif. Die sukses of mislukking van sending is nou verweef met die persoonlike toewyding van elke leraar.

2. Die rol van sendinglektuur

Naas die rol van die predikant, het die rol van sendinglektuur ook by die konferensie aandag gekry: die voorbereiding, verspreiding en bestudering daarvan. Die volgende was die hoofgedagtes:

Voldoende inligting is die olie wat die sendingvuur aan die brand hou. Inligting op sigself is nie genoeg om sendinggeesdrif te laat ontbrand nie, maar dis onontbeerlik om die vlam aan die gang te hou. Voldoende inligting kan ’n omwenteling in sendingbelangstelling veroorsaak. Inligting is nodig vir die groei en ontwikkeling van die sendinggedagte.

Sendingnuus is soos ’n fakkel wat aangegee moet word. Die kerk dra die heil van onsterflike siele op sy hart: hy moet sy verteenwoordigers met ernstige voorbidding ondersteun terwyl hulle in die brandpunt van ’n stryd tussen Iewe en dood gewikkel is. Is ons werklik so toegewikkel in ons eie wêreldjie dat ons nie angstig is om nuus te hoor van hoe dit met hierdie bloedige stryd teen die donker magte van hierdie wêreld gaan, en om die nuus deur te gee nie? As dit ons erns is om die kerk van Christus tot aan die uiterste van die aarde uit te dra sal ons mos gretig wees om die nuus soos ’n brandende fakkel aan te gee.

Onkunde is die swak skakel in ons sendingpogings. Kennis versterk die geloof. Kennis moedig ons aan om te bid. Kennis laat ons almal in die voorste linies veg.

Sommige mense meen dat die sendingblaaie ’n aantreklike voorkoms moet hê soos die van ons populêre tydskrifte. ’n Mens kan met die teenvraag kom: Wat laat mense nuus lees? Waarom het mense aan die begin van die eeu voor die kennisgewingborde van die oorlogskantoor in Groot-Brittanje saamgedrom om na die verloop van die oorlog in Suid-Afrika te verneem? Was dit nie omdat daar belangrike kwessies ter sprake was nie – kwessies wat Groot-Brittanje se aansien in die wêreld geraak het nie? As Christene net so betrokke sou wees by die eer van hulle Koning, en by die vestiging van sy ryk in al die streke wat Hom toekom, dan sou nuus van sy veroweringsveldtogte net so gretig verslind gewees het. Is dit nie die hoofprobleem met sendinglektuur nie? As die lesers self nog nie ten volle oortuig is dat die hele wêreld Christus se verlossing nodig het nie, stel hulle nie in sendinglektuur belang nie. Maar as die harte eers aan die brand is met liefde vir ons Here en sy koninkryk, dan soek ons na die jongste sendingnuus.

Dr. Rankin het hierdie punt beklemtoon:

“Nadat die sendingtydskrif goed versorg is, is die volgende stap wat die predikant moet doen om dit aan sy gemeente bekend te stel. Hy moet dit met soveel erns doen dat hulle nie sal nalaat om dit te lees nie. Die predikant moet ook die vroulike lidmate motiveer om die literatuur te versprei. Die predikant moet entoesiasties wees oor die sendinglektuur. Hy moet dit as sy belangrikste werk beskou om die storie van die vordering van God se koninkryk te versprei.”

Ds. A.W. Holsey het aangetoon wat ons houding behoort te wees:

“Die predikant moet die sendinglektuur bestudeer soos wat ’n goeie natuurwetenskaplike met die natuur doen – met eerbied, met nederigheid en met verwondering. Hoe meer hy hom daarin verdiep, hoe meer moet dit hom aangryp – dat dit een Gees is wat mense van verskillende bekwaamhede en verskillende kerkverbande met verskillende opdragte na verskillende Iande stuur, maar ook dat al hierdie sendelinge tog almal op die persoonlike teenwoordigheid van die Gees van God kan reken.

“Die predikant wat nalaat om dit aan sy gemeente deur te gee, ontneem hulle as’t ware van hulle geboortereg, en verarm homself daardeur.”

3. Die rol van Christelike organisasies

‘n Derde manier om sendingbelangstelling aan te wakker wat by die konferensie aandag geniet het, was die rol van kerklike aksies onder besielde leierskap. Daar is groot waarde in om mans, vrouens en kinders afsonderlik te laat vergader en om hulle te inspireer en te lei oor hoe om hulle te beywer vir die uitbreiding van die koninkryk. Hiervoor is besielde en bekwame leiers in die gemeente nodig. soos wat daar reeds in baie gemeentes bestaan. Hierdie werk moet voortgesit word sodat ook die toekomstige kerk vir die uitbreiding van God se koninkryk voorberei kan word.

Mev. T.B. Hargrove het die belangrikheid van leiers wat die jeug moet oplei, soos volg beklemtoon:

“As die kerk aan die kind die eerste plek in syg eledere toesê, tree hy soos Christus op. Het Christus dan nie gesê dat die kinders die koninkryk sal beëwe nie? Was dit nie Christus wat gesê het dat ons die koninkryk nooit sal ontvang as ons nie soos kinders word nie? Die koninkryk van God sal inderdaad uit kinders en kinderlike grootmense bestaan.

“Die jeugverenigings in die kerk moet as leerskole dien vir die jongmense om vinnig en doeltreffend die plek van die ouer geslag in te neem. Op die manier sal daar nie kosbare tyd en energie vermors word nie. Die jongmense moet van kleins af die werksaamhede en doelstellings van sendingorganisasies leer ken, sodat hulle die werk op die sendingvelde sonder onderbreking kan voortsit.

“Die storie word vertel van ’n man wat eendag op die goedversorgde plaas van een van sy vriende rondgestap het. Hy het by ’n skaaptrop van besondere hoe gehalte gaan stilstaan. ‘Hoe kry jy dit reg om sulke skape te teel?’ vra hy. ‘Ek sorg vir my lammers’, was die antwoord.

“Die groot Herder het aan ons dieselfde opdrag gegee. Hoe sal ons ons lammers goed versorg? Deur ons jeugorganisasies onder die leiding van goeie herders te plaas. Hulle moet die beste leiers hê. As ons ’n keuse moet maak tussen goeie leiers vir volwasse of vir jeug werk, moet jeugwerk altyd die voorkeur kry. Die grootste nood van sendingaksies binne die kerk is die [nood] aan goedopgeleide leiers wat die jeug kan inspireer. Ons het die beste mensemateriaal nodig: mense met ervaring, mense wat kinders en jongmense om hulleself en ter wille van Christus liefhet; mense wat die opdrag van Christus om sy lammers te laat wei, gehoorsaam; mense wat geen koste ontsien om mense vir Chrlstus te wen nie. Mag ons ons jongmense van jongs af besiel om hulle by sulke mense aan te sluit. “Elke jeugwerker moet dit sy hoofdoel maak om in elke kind ’n liefde vir Christus en vir ’n verlore wêreld te kweek. Dit is hier waar ons opleiding by die huis, in die skole en in ons kerkaksies nog ver te kort skiet.

“As ons op die manier die kind vir Christus in die kinder- en jeugaksies wen, sal daar lewe in die kerk en in die sendingaksies vir volwassenes kom. Ons sal ‘Marias’ kweek wat spontaan albasteflesse olie oor die voete van hulle Meester breek, waarvan die geur die uiteindes van die aarde vul.

“Die neëntiende eeu het nuwe deure vir veral die vroue geopen. Laat ons egter onthou dat geen werk belangriker is as om jongmense te vorm en toe te rus om Christus te dien en die Christelike evangelie uit te dra nie. Die hoogste doel is om jongmense by te staan om Christenmanne en -vroue te word.”

Dit is onmoontlik om alles te dek wat by die konferensie oor kerklike organisasies en verenigings gesê is. Dit wat ek aangehaal het, is genoegsaam bewys dat daar nog baie gedoen kan word om die groot potensiaal wat ’n besielde kerklike organisasie inhou, ten volle te ontgin.

Om op te som

Die suksesvolle uitdra van die evangelisasie hang van die volgende faktore af:

  • Predikante wat besef dat ’n gemeente bestaan sodat die evangelie uitgedra kan word;
  • Mense wat die nuus aangaande die uitbreiding van God se koninkryk gretig ontvang en versprei;
  • Toegewyde Christene wat gewillig is om jeugbyeenkomste só te beplan dat sendingwerk die hoofbestanddeel is die natuurlike uitvloeisel van ’n jongmens se liefde vir Christus.
  • Studente wat opgelei word in ’n atmosfeer van sendinggeesdrif.

As dit kon waar wees, is daar hoop dat die groot werk voltooi sal word. Die evangelie van verlossing kan dan binne dertig jaar aan elke mens op hierdie aarde verkondig word.

Rede vir kommer

‘n Mens kan tog nie help om ’n ondertoon van bekommernis by al die voordragte wat by die konferensie gelewer is, te bespeur nie. Helaas, onder baie van ons predikante is daar ’n gebrek aan sendingywer, en die meeste kerklidmate stel weinig of geen belang in sendinglektuur nie. Meer mense is ook nodig om jongmense in ’n lewe van sendingtoewyding in te lei. Vir die toedrag van sake moet daar na ’n dieper rede gesoek word. Dis my heilige oortuiging dat niks anders as herlewing hierdie toestand kan verander nie. Daarmee moet ’n heelhartige toewyding aan Jesus Christus en sy diens gepaard gaan. Alleen so ’n herlewing sal die kerk se houding teenoor sending radikaal verander.

Ek het gedink dat dit die vraag sou wees wat die konferensie sou besig hou. Toe die Studentevrywilligerbeweging destyds hulle slagspreuk Die evangelisering van die wêreld binne hierdie geslag aan die kerke bekend gestel het, is dit met groot geesdrif ontvang. Moet ons nou ’n tweede keer op hulle wag om ons te kom vra waarom die kerk nog steeds so min doen? Hoekom reageer ons nie op die noodtoestand met die geesdrif wat Christus van sy kerk verwag nie? Daar behoort ’n ondersoek geloods te word na die rede van die laksheid.

Terselfdertyd moet ons weet hoe om die toestand te genees, sodat ons ons met belydenis en in nederigheid van die kwaad kan bekeer na ons Heer toe, sodat Hy ons kan toerus.

Dit is die erns van hierdie saak wat my laat besluit het om hierdie boek te skryf. Dis moeilik om die kerk nederig en liefdevol en in wysheid op sy foute te wys en om terselfdertyd nie terug te deins om die foute eerlik onder oë te neem nie. Tog is ek seker dat baie mense my in hierdie eerlike selfondersoek sal steun. Is daar die moontlikheid van so ’n kragtige herlewing in die kerk dat elke lidmaat sal besef dat die hoofdoel van die kerk die uitdra van die evangelie na alle mensesiele is? En as daar so ’n moontlikheid is, hoe kan ons as leiers dit bevorder?

Mag God deur sy Heilige Gees ons wys wat sy wil vir die kerk is. Mag Hy ons lei na ’n groter geloof in sy krag en beloftes, en les bes, na gehoorsaamheid om die pad te volg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui