Pentateug

Die Pentateug is die eerste vyf boeke van die Ou Testament in die Bybel. Penta is Grieks vir 5 en Teuchos is Grieks vir boek. Pentateug beteken dus die “vyf boeke” of “vyf boekrolle.” Hierdie vyf boeke staan ook as die Torah of Boeke van Moses bekend. Hulle is:

  • Genesis
  • Eksodus
  • Levitikus
  • Numeri
  • Deuteronomium

Die Pentateug vertel die verhaal van die skepping van die wêreld tot die dood van Moses en die Israeliete se voorbereiding om die land Kanaän in te gaan. Die verhaal word in drie dele vertel. Die eerste deel (Gen. 1-11) is oor die skepping en die begin van die mensdom op aarde. Die tweede deel (Genesis 12-50) vertel die stories van die Israeliete se voorsate, hoofsaaklik Abraham, Isak, Jakob en Josef. Die derde deel, wat met die boek van Eksodus begin, beskryf hoe die Israeliete Egipte verlaat en die vroeë geskiedenis van Israel as ’n volk. Dit bevat verskeie wette oor hoe die Israeliete hulle samelewing moet reël en bou. Deuteronomium is hoofsaaklik Moses se finale toespraak aan sy volk asook ’n opsomming van die Pentateug.

Wanneer is die Pentateug geskryf?

Eksodus tot Deuteronomium

Eksodus tot Deuteronomium is deur Moses, of ‘n tydgenoot van Moses, opgeskryf tydens die 40 jaar in die woestyn na die uittog uit Egipte (1491 vC – 1451 vC). ‘n Mens kan dit uit die teks self aflei en ook deur ander verwysings in die Bybel (kyk Verwysings in die Nuwe Testament dat Moses die Wet opgeskryf het). Slegs die einde van Deuteronomium kon nie deur Moses self opgeskryf word nie, want dit vertel van Moses se dood.

Genesis 12 tot 50

Baie glo dat Moses ook Genesis opgeskryf het. Daar is egter geen aanduiding in die Bybel dat dit die geval was nie. Genesis 12 tot 50 kon waarskynlik deur mondelinge oorvertellinge behoue gebly het tot die tyd van Moses, maar dit is baie meer realisties dat dit opgeskryf is kort na die gebeure, siende dat die skryfkuns waarskynlik reeds bestaan het in Abraham se tyd.

Genesis 2 tot 11

Genesis 2 tot 11 is waarskynlik deur mense opgeskryf in daardie tyd. Die geslagsregisters in Genesis 5, 10 en 11 sou onwaarskynlik behoue gebly het deur mondelinge oorvertellings tot by Moses. God kon dit natuurlik bonatuurlik aan Moses openbaar het, soos Hy die Wet aan Moses geopenbaar het, maar dit is meer waarskynlik dat dit opgeskryf is deur mense van daardie tyd.

Die geslagsregister in Genesis 5 eindig met: “Toe Noag 500 was, het hy die vader geword van Sem, Gam en Jafet.” Dit noem dus nie wanneer Noag gesterf het nie en is daarom hoogs waarskynlik reeds voor die sondvloed op kleitablette opgeskryf.

Noag of een van sy seuns moes dus kon lees en skryf, anders sou die skryfkuns weer van vooraf ontdek moes word na die sondvloed, omdat alle mense gesterf het.

Indien dit die geval is, het Noag dus kleitablette op die ark gehad.

Genesis 1

Daar was geen menslike ooggetuie toe God in Genesis 1 geskep het nie, dus moes God aan iemand vertel het hoe Hy geskep het. Ons weet van twee mense met wie God direk gepraat het: Adam en Moses.

Natuurlik kon God dit vir die eerste keer aan Moses geopenbaar het, maar dit maak ook sin dat God dit aan Adam vertel het en dat iemand, wat ook die geslagsregisters opgeskryf het, dit neergeskryf het.

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui