Teologie in Krisis?

Kyk ook:

Prof D Crafford

(Voormalige adjunk-dekaan en Professor en Hoof van die Dept Sendingwetenskap by UP)

Is die teologie in ’n krisis gedompel?

Daar gaan deesdae baie stemme op ten gunste van ’n New Age-teologie. Dit moet nie verwar word met die liberale teologie van die verlede nie! Hierdie is ’n teologie waar ou sekerhede wegval en waar vrae belangriker is as antwoorde. Dit vervang geloofsekerheid met onsekerheid en geloofsbelydenisse met vrye interpretasies van indiwidue. Dit verdedig die posisie “duskant sekerheid” en verwelkom die onsekere praat oor God. Mens kan immers oor God nie anders as in onvoltooide terme praat nie. Hierdie teologie is baie skepties oor belydenisse, dogmatiese formuleringe en sogenaamde vaste proposisies. Hierdie teologie verwar gewone kerkmense oneindig. Dit gee voor om die taal van jongmense te praat, maar uiteindelik laat dit hulle ook in onsekerheid oor die fondamente waarop hulle waardes gebou moet word. Dit beroof hulle in werklikheid van geloofsankers. In die lig van hierdie teologiese stemme, kom die vraag na vore of daar enige norme is waarmee die waarde van ’n teologie gemeet kan word? Die New Age antwoord is natuurlik dat daar geen geldige norme is waaraan enige waarheid gemeet kan word nie. Die rede hiervoor is dat waarheid veelkantig is en daarom altyd relatief. Dit sou dus dwaas wees om te soek na absolute waarhede. Dit vorm die basis van die onsekerheidsteologie. Is hierdie nou wel ’n aanvaarbare standpunt? Daar is bepaalde uitgangspunte waaraan ’n aanvaarbare teologie sal moet beantwoord. Ek noem graag die volgende drie: ’n geloofsuitgangspunt, heilsuitgangspunt en historiese uitgangspunt.

Geloofsuitgangspunt

Teologie is in wese ’n geloofswetenskap. Dit is gebaseer op die geloof dat God bestaan, dat Hy homself geopenbaar het en dat die openbaring die mens in ’n verhouding van gehoorsaamheid teenoor God wil plaas. Dit beteken dat die Bybel aanvaar moet word as die geopenbaarde Woord van God en dat geopenbaarde waarhede ten minste geformuleer moet kan word, ten einde as riglyne vir ’n lewe volgens die wil van God te kan dien. Wanneer die geloof vervang word met die rede en alle wonders bevraagteken word, verskuif die teologie in die rigting van filosofie. Daar is natuurlik niks verkeerd met filosofie nie, maar dan moet dit erken word vir wat dit is en nie langer pretendeer om teologie te wees nie.

Heilsuitgangspunt

In die teologie gaan dit ten diepste om God se heil vir die wêreld. Die kern van die heil is die verlossingsplan wat God ingestel het om die verlore mensdom te red. Die hele Bybel getuig duidelik van God se verlossende werk. Die hoogtepunt daarvan is die gebeure rondom die persoon van Jesus Christus. Dit bestaan uit die inkarnasie, lyding en sterwe, opstanding, hemelvaart en wederkoms van Christus.

Die heilsmomente in die Bybel staan vas en dit kan nie gerelativeer word sonder om die verlossingsplan van God te verduister nie. Die relativisme van die New Age –denke tas die hart van die Evangelie aan en ontneem mense van die goeie nuus wat juis vir hulle bedoel is.

Historiese uitgangspunt

Die teologie is gevorm oor baie eeue se nadenke oor die Woord van God onder leiding van die Heilige Gees. Die interpretasie van die Woord kan nie losgemaak word van die formuleringe en belydenisse wat oor eeue tot stand gekom het nie. Die belydenisskrifte van die Kerk moet met erns bejeën word al skram die New Age –teologie doelbewus daarvan weg. Sodra die teologie van sy historiese wortels losgemaak word, vervlak dit tot subjektiewe en willekeurige interpretasies. Indien enige van bogenoemde perspektiewe ontbreek, kan ernstige vrae gevra word oor die legitimiteit van die soort teologie.

Die feit dat al drie bogenoemde uitgangspunte in die New Age-teologie nie ’n deurslaggewende rol speel nie, dompel die teologie inderdaad in ’n krisis. Die krisis bestaan daarin dat alle vorme van teologie wat nie op relativisme gebou is nie, as ouderwets en fundamentalisties getipeer en dus verwerp word.

Daar word so hard weggeskram van fundamentele en geformuleerde waarhede, dat alle waarhede oorboord gegooi word en alle sekerhede in onsekerhede verander word.

As daar nie meer oor die wese en wil van God met sekerheid gepraat kan word nie, skep dit inderdaad ’n krisis vir die mensdom wat dan sonder ankers en norme ’n onsekere toekoms moet binnegaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui