Willie Marais oor Homoseksualiteit

Kyk ook:

Dr Willie Marais het ’n boekie geskryf met die titel: AS DIE FONDAMENTE OMGEGOOI WORD.

In die inleiding van die boekie het hy ernstige kritiek uitgespreek oor die pogings van teoloë in die kerk om homoseksuele gedrag vanuit die Bybel te regverdig. Sy opmerkings hieroor was profeties vir ons tyd en word hieronder aangebied:

*************

Paulus het die ouderlinge van Efese gewaarsku dat daar na sy vertrek wrede wolwe onder die gemeente sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Hulle sal probeer om die gelowiges agter hulle aan te verlei (Hand 20:29-31). Judas skryf: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat een maal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Jud 1:3-4).

Onder die woord ongebondenheid sluit Judas seksuele losbandigheid in, soortgelyk aan dié van Sodom en Gomorra. Hy skryf: “En die engele wat hulle eie beginsel nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (Jud 1:6-7). Die woorde “agter vreemde vlees aan geloop het” dui op teennatuurlike ontug. Dit is seksuele verkeer tussen mense van dieselfde geslag. Judas verwys hier onder meer na die episode in Genesis 19 waar die mans, oud en jonk, oral uit die stad uit na die huis van Lot gekom en daarop aangedring het dat hy die twee manne wat hy geherberg het na hulle toe moet uitbring sodat hulle geslagsgemeenskap met hulle kon hê (Gen 19:4-8; vgl Rigt 19:22).

Die feit dat Judas skryf dat dit mense is wat “ingesluip het,” beteken dat dit mense is wat ongemerk die geledere van die gemeente binnegedring het. Hulle is die vals profete, teen wie Jesus al gewaarsku het, wat in skaapsklere na die gelowiges sal kom en van binne verskeurende wolwe is (Mat 7:15). Dit is mense wat die vermoë sal hê om aan die sonde ’n mooi naam te gee. Die dief word ’n kleptomaan genoem (dit is iemand wat ’n patalogiese of sieklike neiging het om te steel). Maar sonde bly sonde. Die verbod: “Jy mag nie steel nie” (Eks 20:15), geld vir die geleentheidsdief sowel as vir die kleptomaan. Hierdie mense kan selfs dinge wat vir God ’n gruwel is (vgl Lev 20:13; 18:22) weg verklaar. Omdat die verbod op homoseksualisme in Levitikus 18:22 volg op ’n kultiese verbod, dat ons nie een van ons kinders aan Molek mag wy nie (Lev 18:21), word deur hulle afgelei dat homoseksualisme verbied word slegs wanneer dit as ’n kultiese handeling plaasvind. Die argument het egter geen bewyskrag nie want in Levitikus 18:27 word al die bepalings in hoofstuk 18 saamgevat onder die woorde: “al hierdie gruwels” en dit sluit ook die etiese bepalinge van hierdie hoofstuk in, terwyl dieselfde verbod in hoofstuk 20:13 tussen twee etiese verbiedinge staan. Dit is volkome duidelik dat homoseksualisme as ’n kultiese handeling sowel as daarbuite hier deur die Skrif verbied word.

Daar word gepleit dat ons die Bybel moet verstaan in die kulturele konteks van die Bybelskrywer van destyds sowel as in dié van die Bybelleser van vandag, soos byvoorbeeld die akkommodasiebeginsel van poligamie (dit is die huwelik van een man met verskeie vroue tegelyk en andersom) wat deur God self vir baie lank verdra is. Dit is egter opvallend dat terwyl God vir ’n lang tyd poligamie verdra het, Hy terselftertyd, en dít teen die bestaande kultuurgebruik in, so sterk enige homoseksuele verbintenis afgekeur het. Ons kan dit begryp, omdat homoseksualisme spot met die instelling van die huwelik. So iets kan glad nie van die poligame huwelik gesê word nie, want dit is nie ’n teennatuurlike verhouding nie. Homoseksualiteit en poligamie kan nie met mekaar vergelyk word nie.

In die Bybel word uitdruklik verklaar dat ’n homoseksuele verhouding ’n daad teen die natuur van die mens in is (vgl Rom 1:26-27). Vandag word beweer dat die homoseksueel so geskape is, dit wil sê biologies/geneties gedetermineer is, en dat sy en haar andersheid deur die samelewing aanvaar moet word. Die Bybelskrywers het nie van beter geweet nie, word gesê, omdat die wetenskap destyds nog nie so ver gevorder het nie; so asof die Bybel uit die kennis, gedagtes, oortuigings en kultuurgebruike van die Bybelskrywers self voortgekom het. Die Bybel is volgens hierdie standpunt suiwer mensewerk. Hoe anders getuig die Bybelskrywers van hulle werk. Hulle het almal geskryf dat die Here die woorde vir hulle gesê het (vgl Lev 18:1; 20:1; 1 Kor 2:13; 2 Pet 1:20-21); dat dit aan hulle geopenbaar is (vgl Gal 1:11-12). As Judas skryf dat die geloof aan die heiliges oorgelewer is (vgl Jud 1:3), beteken die woorde “aan die heiliges oorgelewer is” tog seker nie dat dit dinge is wat uit die kennis, hart of verstand van die mens voortgebring is nie. ’n Openbaring kom van Bo af en word nie bepaal deur die vordering op die gebied van die wetenskap nie. ’n Openbaring is kennis wat op ’n bonatuurlike wyse aan die Bybelskrywers meegedeel word.

Daar word vandag al sterker gepleit dat die homoseksuele lewenswyse, binne die beginsel van die liefdesgemeenskap van die gelowiges (koinonia), deur die kerk en deur die samelewing as ’n aanvaarde praktyk geakkommodeer moet word. Dit beteken om die homoseksuele mens, met sy seksuele aktiwiteite en al, in die kerk, op die kerkraad en selfs op die kansel in die kerklike gemeenskap op te neem. So ’n optrede van die kerk se kant af kan by die homoseksueel die indruk skep dat die kerk sy leefwyse aanvaar. Maar dit is voorwaar nie liefde, as mense gerusgestel sou word om by ’n praktyk vas te steek wat deur die woord van God as ’n “afstootlike en afskuwelike sonde”, “onreinheid”, “wellus”, “skandelike hartstog” en “iets gruweliks” “wat die dood verdien” en as diegene wat “die koninkryk van God nie (sal) beërwe nie,” beskryf word nie (vgl Lev 18:1,22; 20:1,13; Rom 1:24-28,32; 1 Kor 6:10).

Iemand wat homoseksueel aktief is, het deur sy optrede bewys dat by aan die uitdruklike voorskrifte van die Bybel (vgl Lev 18:1,22; 20:1,13) ongehoorsaam is. En die woord van die Here (1 Tess 2:13) sê dat ons met iemand wat die voorskrifte van die Bybel (vgl 2 Tess 2:15) ongehoorsaam is, geen gemeenskap mag hou nie, sodat hy skaam kan word (2 Tess 3:14). Elkeen, al is dit ’n Bybelskrywer wat aan ons ’n ander leer bring, wat in stryd is met wat reeds op skrif aan ons oorgelewer is(vgl Jud 1:3; 2 Tess 2:15), moet vir ons ’n vervloeking wees (Gal 1:8,9). Ons moet ons aan sulke mense onttrek (1 Tim 6:3-5). Ons mag hom nie in die huis ontvang of hom groet nie, want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke (2 Joh 1:10-11).

Van die tug, wat een van die kenmerke van die ware kerk is, het daar vandag maar min in die kerk oorgebly. Die woord van God beveel ons om nie om te gaan met ’n gierigaard of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n hoereerder of ’n rower of ’n afgodedienaar nie, al staan hy ook as ’n broeder bekend. Met so iemand moet ons selfs nie saam eet nie (1 Kor 5:9-11) en beveel ons: “Verwyder tog die slegte mens onder julle uit” (1 Kor 5:13). Dit geld dan beslis ook van die homoseksueel, want hierdie sondes (vgl 1 Kor 5:9-11) word ’n bietjie verder saam met dié van wellustelinge (die vroulike lesbiër) en sodomiete (die manlike homoseksueel) veroordeel as diegene wat die koninkryk van God nie sal beërwe nie (1 Kor 6:10), tensy hulle, hulle bekeer (1 Kor 6:11). Die liefde is inderdaad die vervulling (vgl Rom 13:10), maar nie die vervanging van die wet van God nie (vgl Rom 3:31). Daar staan geskrywe: Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik maak geword” (1 Joh 2:5). Die kern van die saak is of ons sy woord bewaar? Liefde sluit verantwoordelikheid nie uit nie, maar in.

Daar gaan selfs stemme op wat sê dat die gemeenskapsopvattinge wat homoseksualisme per se as sonde klassifiseer (vgl Lev 18:22; 1 Kor 6:9-10; 1 Tim 1:9-11), en die andersheid van menswees van die homoseksuele mens nie kan of wil akkommodeer nie, deur die kerk aangespreek moet word. Dit beteken dat teen diegene deur die kerk opgetree moet word. Om die andersheid van die homoseksuele mens te akkommodeer en hom sosiaal te aanvaar, beteken dat van die gelowiges verwag word om op te tree soos mense wat die lewenswyse van die homoseksueel goedkeur en die Bybelse uitsprake oor die saak ignoreer. Die Bybel keur egter nie net die homoseksuele daad af nie (vgl Rom 1:22-28), maar ook die gedrag van diegene wat goedkeuring gee aan die wat dit doen (vgl Rom 1:32).

Natuurlik mag die homoseksueel nie deur ons verstoot of verwerp word nie, want hy kan (1 Kor 6:9-11) en moet gered word om die oordeel van God vry te spring (vgl 1 Kor 6:9-10; 1 Tim 1:8-11). Om die kwaad in iemand te verwerp (vgl 1 Kor 11:17), beteken nie om die persoon te verwerp of om teen hom te diskrimineer nie. Die Skrif waarsku ons ook nie teen die slagoffers nie, maar teen die raadgewers wat sonde goedpraat. Jeremia skryf: “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer 6:14). Die wraak van God teenoor dié soort raadgewers word in geen onduidelike taal nie in die Skrif uitgespel: “Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die Here” (Jer 6:15).

Wanneer ontken word dat homoseksualiteit ’n abnormaliteit is, word behandeling en verlossing bykans onmoontlik. Wanneer die homoseksualiteit tot ’n siekte verklaar word, ontneem dit die homoseksueel sy verantwoordelikheid. Natuurlik kan ’n onnatuurlike seksuele verhouding iemand siek maak. Paulus skryf: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dit wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom 1:26-27). Die noodwendige vergelding wat die persone in hulleself ontvang, dui in die eerste plek op aaklige sondes, waarvan in verse 28 tot 32 melding gemaak word, wat noodwendig uit so ’n verhouding voortvloei. Maar dit bring ook ander dinge na vore soos ’n skuldige gewete, slapelose nagte, emosionele spanninge en depressie wat weer die liggaam nie onaangeraak laat nie. Maar genesing is nie die grootste behoefte van die homoseksueel nie, maar om gered te word van die skuld en die straf en die heerskappy van die sonde. Volgens 1 Korintiërs 6:9-11 kan die homoseksueel gered word. Een ding staan vas: waar God nie redding skenk nie, duur die stryd vir die homoseksuele mens voort om vry te kom.

Sake het egter nog verder versleg waar die kwaad selfs bo die goeie aangeprys word. Jesaja skryf: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter” (Jes 5:20). George Rawlinson verklaar hierdie teks soos volg: “These are persons who gloss over evil deeds and evil habits by fair- sounding names, who call cowardice caution, and rashness courage, niggardliness thrift, and wasteful profusion generosity. The same men are apt also to call good evil; they brand prudence with the name of cunning, call meekness want of proper spirit, sincerity rudeness, and firmness obstinacy. This deadness to moral distinctions is the sign of deep moral corruption, and fully deserves to have a special “woe” pronounced against it.” Die motief om selfs in die Bybel na goedkeuring vir die aktiwiteite van die homoseksueel te soek, is in sommige gevalle ’n poging om diesulkes nie van die Bybel en van die kerk te vervreem nie. So word die Bybel deur een persoon om hierdie rede aangehaal om homoseksualisme as die ideale seksuele lewe te besing waar Jesaja skryf:

“Want so sê die Here aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ’n gedenkteken en ’n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ’n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie” (Jes 56:4-5). Die woord “ontmande” dui op die homoseksueel, word gesê. Dit is glo die homoseksuele mens na wie Jesus verwys waar Hy sê: “Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat” (Mat 19:12). Hierdie persoon skryf dat net die homoseksueel hierdie woorde kan verstaan. Hoe weet die skrywer dit? In hierdie woorde van Jesus kom die homoseksueel glad nie in die gesigsveld nie. Die aanwysing van Jesus dat ’n persoon onbekwaam is om te trou omdat by so gebore is, dui op iemand wat met ’n gebreklike geslagsdeel gebore is (vgl Lev 21:20), wat dit vir hom onmoontlik maak om met ’n vrou geslagsgemeenskap te hê. Iemand wat so gebore is, kan nog steeds homoseksueel bedrywig wees as hy die passiewe vennoot in die daad is. Die woord ontman dui glad nie op iemand wat so gebore is nie, maar op iemand wat gekastreer is; dit wil sê deur mense onbekwaam gemaak is om kinders te kan verwek. Die mense wat hulleself ter wille van die koninkryk onbekwaam gemaak het om te trou, sien op mense soos Johannes die Doper en Paulus wat geheel en al opgeëis word vir diens aan God (vgl 1 Kor 7:7,32). Maar om vanuit Matteus 19:12 te beweer dat die homoseksueel so gebore is, word die oningeligte homoseksueel weliswaar gerusgestel, maar nie gehelp nie. Dit is nie die leuen nie, maar die waarheid wat iemand vrymaak (Joh 8:32). Dit het voorwaar laat geword wanneer die Bybel misbruik word om dit wat sleg is, goed te noem (Jes 5:20). Hierdie standpunt dien nie ’n goeie saak nie, maar kan baie oningeligtes aanmoedig om met hierdie afskuwelike praktyk (vgl Lev 18:22; 22:13) voort te gaan. Mense wat hulle gewete onderdruk, kan aan die geloof skipbreuk ly (1 Tim 1:19). Vir hoeveel ongelukkiges wat deur hierdie raadgewers gerusgestel word om met dié soort gedrag voort te gaan, sal sulke raadgewers eendag voor God rekenskap moet gee? (vgl Mat 18:6-7; 2 Kor 5:10; 2 Tess 1:7-9).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui