Kyk ook: |
Dit is duidelik dat veral die Belhar- en homoseksuele kwessie verwydering bring tussen die NG Kerk se Algemene Sinode en lidmate. Kan dit tot ’n skeuring lei?
************
‘Verwydering’ bestaan tussen NG Sinode en lidmate
Deur Claudi Mailovich Dinsdag 08 September 2015 21:30
Daar bestaan “verwydering” tussen die Algemene Sinode en lidmate van die NG Kerk op voetsoolvlak.
Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, skryf so in die voorwoord van dié kerk se agenda vir die Algemene Sinode wat van 4 tot 9 Oktober in Pretoria plaasvind.
Die agenda, wat later deur ’n aanvullende agenda gevolg sal word, is 462 bladsye lank en word in Gerber se voorwoord beskryf as ’n produk wat “iets” van twee jaar van die NG Kerk se werk vasvang.
“By elke kerkvergadering, ook een soos die Algemene Sinode, moet ons deeglik besef die NG Kerk as denominasie is veel meer en groter en belangriker as ons in die vergadering. Ons moet ook die heil en die welwese van die ganse kerkverband in gedagte hou in alles waarmee ons besig is en oor gaan besluit,” het Gerber geskryf.
Hy skryf daar moet in ag geneem word dat die vergadering plaasvind in ’n tydvak waar die Algemene Sinode nie so belangrik is vir mense op voetsoolvlak soos wat die Sinode sou dink nie.
Wat word bespreek?
Die Algemene Sinode het ’n paar groot sake wat op sy tafel lê vir die komende Algemene Sinode.
’n Verslag oor selfdegeslagverhoudings, statistieke oor jeugnavorsing, hoe die pad na kerkhereniging staan, ’n verslag oor hoe ’n mens die Bybel lees, wat die tendense in die kerk is en wat die resultate was van die stemproses rondom die wysiging van kerkorde artikel is, is alles onder meer op die agenda.
Die vergadering bestaan uit verteenwoordigers van die tien sinodes wat die 1 100 gemeentes en hul lidmate verteenwoordig.
Daar sal ook op dié Algemene Sinode gestem word oor wie Prof. Nelus Niemandt as moderator van die NG Kerk gaan opvolg.
Hy voltooi met die Algemene Sinode in Oktober sy tweede termyn as moderator.
Die vorige Algemene Sinode was in 2013 in Port Elizabeth en sal vanjaar by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gehou word.
“ ʼn Bepaalde ‘verwydering’ word beleef. By sekere mindere kerkvergaderings en lidmate is daar wantroue in die ‘kerkleiding’. Dit sal gewoon dom wees indien hierdie vergadering dit ignoreer: ons is dit aan mekaar verskuldig om doelbewus te werk aan ons onderlinge verhoudinge en die duidelike uitspel van funksies en bevoegdhede.”
Gerber het by navraag aan Netwerk24 verduidelik dat die verwysing na die “verwydering” ontstaan uit dit wat waargeneem is by onder meer die reaksie teenoor die proses rondom die voorgestelde wysiging van art. 1 van die Kerkorde.
Daar is sedert einde 2014 by die onderskeie NG gemeentes en al tien sinodes gestem oor of art. 1 van die Kerkorde gewysig moet word om plek te maak om die Belydenis van Belhar as deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag.
Daar moes ’n tweederdemeerderheid stemme by al die gemeentes en al tien sinodes verkry word om dit te kon wysig, wat nie gebeur het nie.
Hy meen egter ’n verwydering van die leiersfigure met die mense op die grond, is teenwoordig op alle vlakke van die samelewing, soos wat onder meer gesien kan word tussen kiesers en politieke leiersfigure.
“Ons leef in ’n era waar verwydering en wantroue een van die goed in die samelewing is en die kerk spring dit uiteraard nie vry nie.”
Hy meen die verwydering is nie iets wat geïgnoreer kan word nie, maar dat dit beslis iets is wat reggestel kan word.
Oorsake van verwydering
Vrydag 11 September 2015 05:00
Volksblad (09/09) berig van “verwydering en wantroue” wat in die NG Kerk gekom het. Ek het my eie waarneming gemaak van die oorsake van die verwydering waarvan dr. Gerber praat. Uit die sinode-agenda blyk:
■ Die Sinode vra dat vorige uitsprake oor geloof in die duiwel herbevestig word. Dit kom daarop neer dat die bestaan van Satan nie deel van die NGK se belydenis is nie![1]
■ Die leierskap volhard in hul soektog na maniere om ruimte te maak vir Belhar as ’n belydenisskrif van die kerk. Voorstanders van Belhar wil hê dat ons deur Belhar bewys moet lewer dat die NG Kerk finaal afgestap het van rassisme en apartheid.[2]
■ Leidende figure in die Sinode werk hard aan volledige erkenning vir ’n gay-leefstyl in die kerk. Hulle gee voor die duidelike uitsprake van die Skrif oor homoseksualiteit is nie in ons samelewing van toepassing is.[3]
■ Die lidmate word in ’n verslag geleer om nuwe betekenis te heg aan die waarhede soos vervat in die Apostoliese Geloofsbelydenis. Die teoloë meen dat vaste waarhede in ons postmoderne tydsgees nie meer toepaslik is nie.[4]
Dr. Gerber besef blykbaar dat die leierskap van die NGK waarvan hy deel is, nou ’n agenda dryf, wat verwydering bring in die “gemeenskap van die heiliges”. Wat sou die oorsaak wees dat dié kwessies vir hulle so belangrik is dat hulle daarmee volhard?
Jan Louw
Reitz
Voetnotas
[1] Kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013, paragraaf 11.
[2] Kyk NG Kerk leierskap het irrasionele beheptheid met Belhar.
[3] Kyk Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’.
[4] Kyk Kritiek op die Eietydse Uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis.