Kyk ook: |
Net soos die NG Kerk het die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) nou dieselfde pad gevolg met selfdegeslagverhoudings. Met baie “mooi”, versigtig gekiesde woorde is homoseksualiteit in die Hervormde Kerk ingesmokkel. Ten spyte daarvan dat die Bybel baie duidelik oor die saak is (kyk Die Bybel oor homoseksualiteit), word dit aan mense se eie gewete oorgelaat in punt 9:
“is diep bewus daarvan dat seksualiteit ’n belangrike deel van ons menswees is, en dat elkeen in terme van sy of haar gewete en verstaan van die Bybel daarmee handel.”
Dus, omdat seksualiteit kwansuis so ’n kritiese deel van menswees is kan ’n mens jou deur jou eie gewete laat lei. Kan ’n mens dus ook aanneem dat indien jy dinge soos
- seks buite die huwelik,
- gebruik van prostitusie,
- pornografie,
- seks met diere,
- pedofilie en
- bloedskande
met jou eie gewete kan versoen, dan kan jy dit ook doen? Indien nie, op grond waarvan nie? En wat van ander sonde soos onwettige kopiëring van media, jok op jou belastingvorm, oortreding van landswette, drankmisbruik, ens? Moet mense hulle ook hiervoor deur hulle gewete laat lei?
Interessant dat daar gemeen word dat mense se gewete vertrou kan word as in ag geneem word dat Romeine 3:10-12 sê dat niemand verstandig is nie: (10)Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, (11)daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. (12)“Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.
Seksualiteit is ’n gawe, nie ’n reg nie. En daar is duidelike Bybelse reëls daaraan verbonde.
Definisies:
Daar is ’n verskil tussen ’n homoseksuele persoon en ’n homoseksuele persoon wat in ’n seksuele verhouding met iemand van dieselfde geslag is. Dit kom nie duidelik na vore in hierdie besluit nie en veroorsaak misverstand. Daarom, kom ons kom eers ooreen oor ’n paar definisies:
Volgens die Bybel is homoseks sonde. ’n Homoseksuele persoon of iemand met ’n homoseksuele oriëntering is nie opsig self sondig nie. Daar is egter hulp vir ’n homoseksuele persoon om daarvan bevry te word. ‘n Homoseksuele persoon is soos iemand wat geneig is om homself oor te gee aan drank, maar wat daarteen veg om dit nie te doen nie. Die probleem is nie die geneigheid nie, maar die daad. Almal neig immers om sonde te doen. Iemand wat egter homoseks beoefen kan vergelyk word met iemand wat nie ’n probleem daarmee sien om homself gereeld aan drank te vergryp nie. Dus sien hy dit nie as sonde nie. |
Dit is opvallend hoe baie onnodige bewoording ingesluit is in die besluit (byvoorbeeld die eerste drie punte).
Hierdie besluit erken ook glad nie die feit dat homoseksuele persone daarvan bevry kan word nie en dat die kerk ’n verantwoordelikheid het om sulke mense te help nie. Daar is baie voorbeelde daarvan. Kyk byvoorbeeld net na Such Were Some of You.
En let ook op na die gebrek aan verwysings na die Bybel.
Daar wag groot besluite op behoudende Hervormde Kerk predikante en lidmate. Die vraag is: sal die Hervormde Kerk kan omdraai? (kyk ook Gay-besluit gestuit, maar kan NGK omdraai?)
Hier volg die besluit met kommentaar in [rooibruin blokhakies] tussenin.
**************
BESKRYWINGSPUNT 41: KOMMISSIE VAN DIE ALGEMENE KERKVERGADERING
HOMOSEKSUALITEIT
Die 71ste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika
- betuig sy dank teenoor al die lidmate en ampsdraers van die Kerk wat in opdrag van die 70ste Algemene Kerkvergadering meegewerk het aan die opstel en versameling van studiemateriaal oor homoseksualiteit.
- spreek sy waardering uit teenoor elkeen wat die uitnodiging aanvaar het om aan die gesprek oor homoseksualiteit deel te neem. Ten spyte van uiteenlopende standpunte is dit met waardigheid en wedersydse respek gestel.
- moedig predikante aan om die studiemateriaal in hulle pastorale werksaamhede te gebruik.
- bevestig opnuut die eerste drie punte van die 68ste Algemene Kerkvergadering (2007) se besluit oor homoseksualiteit wat soos volg lui:
- Volgens die breër boodskap van die evangelie maak God se Gees dit vir mense moontlik om met hulle volle menswees in God se teenwoordigheid te lewe. Laasgenoemde sluit ook homoseksuele persone in. [Dit is ’n leuen dat mense met hulle volle menswees in God se teenwoordigheid kan leef indien hulle volhard in sonde (kyk wat sê RC Sproul in Aanhalings – Geloofskwessies. Kyk ook Die Bybel oor sonde). Hierdie stelling is dus slegs waar vir homoseksuele mense wat nie in ’n selfdegeslagverhouding staan nie.]
- Die Kerk glo daarom dat alle gelowiges, ongeag hulle seksuele oriëntasie, lede is van die liggaam van Christus. Die eenheid van die Kerk as liggaam van Christus is ’n evangeliese eis. Die Kerk wil daarom homoseksuele persone in sy midde verwelkom, vertroos en ondersteun. [Alle mense is sondig en moet veg teen die sonde. In daardie opsig is daar niks fout met hierdie stelling nie. Dit kan egter nie waar wees vir mense wat in selfdegeslagverhoudings staan nie.]
- Die Kerk sal vervolgens alles in sy vermoë doen om die verskynsels van homofobie, gay-haat en enige ander vorme van neerhalende optredes teenoor homoseksuele persone teen te werk. [‘n Mens sou dink dat dit vanselfsprekend is. Dit is alles waar, maar die probleem is dat daar soveel gesê word om vir die homoseksuele persoon op te kom, maar niks oor die sondige aard van ’n selfdegeslagverhouding nie.]
- besluit dat indien ’n konflik van belange tussen ’n ampsdraer en sy of haar gemeente ontstaan, weeg die belange en welstand van die gemeente swaarder as die van die betrokke ampsdraer. [Dus, net soos die NGK se besluit van 2015, moet gemeentes self besluit wat hulle toelaat tov selfdegeslagverhoudings en wat nie.]
- bevestig opnuut dat predikante huwelike in terme van die Huwelikswet (Wet 25 van 1961) bevestig en nie enige bevoegdheid in terme van die Wet op Burgerlike Verbintenis (Wet 17 van 2006) het nie. [As selfdegeslagverhoudings wel toegelaat word, maar homoseksuele huwelike word nie erken nie, is die implikasie dat seks buite die huwelik toegelaat word. Verder wonder ’n mens wat homoseksuele mense se opinie sal wees daaroor dat die kerk nie hulle verhouding as ’n huwelik wil erken nie.]
- bevestig dat die Kerk die huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou respekteer.
- wil lidmate wat as man en vrou saamwoon aanmoedig om hulleself deur ’n Christelike huwelik aan mekaar te verbind. [En as so ’n man en vrou nie dit wil doen nie? Lyk nie of daar enige gevolge gaan wees nie. Is dit hoe belangrik seks buite die huwelik vir die Hervormde Kerk geword het? Net soos die NGK.]
- is diep bewus daarvan dat seksualiteit ’n belangrike deel van ons menswees is, en dat elkeen in terme van sy of haar gewete en verstaan van die Bybel daarmee handel. [Dus word hierdie oorgelaat aan elkeen se eie gewete. Die implikasie hiervan word hierbo in die inleiding bespreek.] Die Algemene Kerkvergadering besef terdeë dat baie mense met hulle eie seksualiteit worstel en om verskillende redes erg getraumatiseerd kan wees. Ons is van mening dat die trauma van lidmate nie deur groot en finale uitsprake van sinodale vergaderings gedien word nie, maar wel deur die liefde en versorging wat hulle in ’n plaaslike geloofsgemeenskap ontvang. Daarom behoort die gesprek oor seksualiteit nie op kerklike vergaderings plaas te vind nie, maar wel tydens pastorale gesprekke.
- Ten slotte doen die 71 ste Algemene Kerkvergadering ’n beroep op alle ampsdraers en lidmate van die Hervormde Kerk om in ’n tyd van geestelike en morele verwildering, in die voetspore van Christus te volg en leef soos wat Hy ons geleer het. Omdat ons kinders van God is, moet ons sy voorbeeld volg. Lewe in liefde soos Christus ons liefgehad het … (Efesiërs 5:1).
Motivering:
Kerklike vergaderings regoor die wêreld het die afgelope dekades uiteenlopende besluite oor homoseksualiteit geneem. Dit sluit Rooms-Katolieke, Protestantse, Pentekostalistiese en Ortodokse geloofsgemeenskappe in. In die onlangse verlede het die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Presbiteriaanse Kerk uiteenlopende besluite geneem. In verskeie geloofsgemeenskappe, onder andere die Anglikaanse Kerk, het dit tot kerkskeuring en hofsake gelei. Die uiteenlopende besluite wat geneem is en die konflik wat daarop gevolg het, veroorsaak dat kerke huiwerig is om enige besluite oor homoseksualiteit te neem. [Dus is wat mense dink belangriker as wat die Bybel duidelik sê.]
Dokumentasie wat in die agenda van die 71 ste Algemene Kerkvergadering (2016) opgeneem is, laat duidelik blyk dat homoseksualiteit ’n komplekse en sensitiewe saak is waarop nie maklike antwoorde gegee kan word nie. Uiteenlopende eksegese van teksgedeeltes in die Ou- en Nuwe Testament, asook nuwe navorsing op die terrein van mediese wetenskappe en genetika, laat geen twyfel dat daar altyd uiteenlopende standpunte gestel kan word nie.
[Die enigste rede vir uiteenlopende standpunte is mense se onwilligheid om die gesag van die Bybel te aanvaar. Met die woorde “mediese wetenskappe en genetika” word die indruk geskep dat die wetenskap gewys het dat homoseksuele mense so gebore word en dat daar nie hoop is dat hulle kan verander nie. Hierdie is baie ver van die waarheid. Kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit. Om nie eens te praat van al die getuienisse van ex-gays nie: kyk Getuienisse van voorheen gay mense.]
Sinodale besluite oor homoseksualiteit is dikwels kontroversieel omdat dit deel gemaak word van ’n gesprek oor kerklike leer, kerklike dissipline (kerkorde) of kerklike prosedures. Wanneer homoseksualiteit deel word van ’n leerstellige diskoers, word die eis om ’n finale antwoord oor iets soos sonde te gee, baie sterk. Wanneer die agenda van ’n sinodale vergadering homoseksualiteit insluit, word homoseksualiteit outomaties deel van ’n kerkregtelike proses, onder andere die toelating van homoseksuele persone tot die amp. [Dit is belangrik om te onderskei tussen die verskillende definisies. Dit is nie sonde om homoseksueel te wees nie, maar selfdegeslagverhoudings is sonde. Netso is dit nie sonde om ’n drankverslaafde te wees nie, maar dit is sonde om dronk te word.]
Die vraag is dus: Waar hoort die gesprek oor homoseksualiteit? Is dit deel van sinodale prosesse, of is dit iets wat tuishoort in die gemeentelike situasie, of beide? Moet ons die gesprek oor homoseksualiteit in ’n leerstellige en kerkregtelike konteks plaas, binne ’n pastorale konteks of beide? [Na regte moet dit eintlik nie eers bespreek word nie. Die Bybel is duidelik dat selfdegeslagverhoudings (wat homoseks insluit) sonde is en moet daarvolgens hanteer word. Kyk Homoseksueles en bankrowers.]
Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering is van mening dat die gesprek binne die pastorale konteks tuishoort. Die funksie van die Algemene Kerkvergadering of kerklike vergaderings is om te verseker dat predikante en lidmate toegerus is om met medegelowiges in gesprek te tree.
Dr WA Dreyer stel die beskrywingspunt.
Die beskrywingspunt word aanvaar.
Kommentaar
Geen kerkverband het enige verskoning wanneer hulle te bang is om te sê: “So sê die Here”. Dit beteken dat die kerk dit baie eenvoudig kan hou: Maak dit duidelik vir die homoseksuele persoon dat hy welkom is, dat hy liefde, ondersteuning en hulp gegee kan word met sy probleem, maar dat die uitlewing van homoseksuele praktyke sonde en dus onaanvaarbaar is.
My mening is dat dit bespotlik is vir enige kerk om nou, ná bykans 2000 jaar, kommissies aan te stel om God se Woord te bestudeer tov hierdie kwessie.
Daar word eenvoudig net te min gesê met niksseggende uitsprake wat draaie loop om die waarheid, om te kyk of daar nie êrens ’n skuiwergat is nie. God se Woord is té duidelik daaroor.
Die kerk se verantwoordelikheid lê daarin om homself op hoogte te bring van wat selfdegeslag aangetrokkenheid (SGA) is en watter soort hulp met liefde en empatie verleen kan word aan homoseksueles – soos dit gedoen sou kon word met drankverslawing, kleptomanie en dies meer. Hulle sing deurentyd dieselfde duiwelse deuntjie wat wil sê “Die liefde bedek alles”.