Liberale teologie in Stellenbosch Universiteit

*******

Liberale Teologie in Stellenbosch Universiteit

‘n Anonieme getuienis

Februarie 2021

Vir enige iemand wat nie Teologie geswot het deur Stellenbosch Universiteit in die laaste vier jaar nie, sal dit ‘n skok wees om uit te vind dat 80% van die fakulteit nie in die opstanding of maagdelike geboorte van Jesus glo nie. Meer skokkend as dit, glo amper almal in die fakulteit (student en lektore) dat homoseksualiteit nie ‘n sonde is nie, en dat seks voor die huwelik in meeste situasies regverdig kan word. Baie min eerstejaars sal saamstem wat gesê word in hulle vierde jaar. Die fakulteit kry dit egter reg om in minder as drie jaar die studente se manier van dink só te kondisioneer dat daar feitlik geen beswaar gemaak word teen stellings soos “Queer teologie is ’n beter lens om die Ou Testament te verstaan, as die lense van teoloë soos Calvyn” in ‘n vierdejaars klas nie. Daar is dus 3 hoof probleme wat ek kon identifiseer in my jare by die kweekskool:

  1. Die materiaal wat aangebied word
  2. Die metode om studente te “brainwash”
  3. Die doel van die kweekskool

1 Die materiaal wat aangebied word

Dit wat tans in die fakulteit aangebied word, sal meeste mense wat onbewus is oor wat aangaan ongelooflik skok. Ek sou dus waarsku, dat wie ook al hierdie lees, en nie weet wat vir studente geleer word nie, hulself reg maak, want dit is meer as net dwaalleer. Die materiaal is Godslasterlik. Die beste manier om die materiaal te ontleed in my opinie is om per vakgebied te kyk, na wat daardie vakgebied veronderstel is om die studente te leer, en dan te kyk na wat die kweekskool eintlik vir toekomstige dominees leer.

Nuwe Testament

As daar vir enige eerstejaar student gevra word wat hulle verwag as hulle in die Nuwe Testament klas instap, sou hulle antwoorde verskil van “leer hoe om die Bybel te lees” of “leer oor die konteks in die Nuwe Testament”. Alhoewel hierdie twee antwoorde waar is, kan ek met sekerheid sê dat geen student die Nuwe Testament geleer word sodat hulle dit beter kan verstaan en sodoende hul verhouding met die Here verdiep nie, nog minder word daar verwag om die Nuwe Testament te kan preek na vier jaar.

Na vier jaar se klasse in Nuwe Testament kan ek twee hoof redes identifiseer waarom die Nuwe Testament aangebied word:

  1. Om ’n groep akademici op te lei met koppe vol kennis, maar wat geestelik arm is en/of
  2. Om ’n groep dominees op te lei wat nie in sonde of die bonatuurlike glo nie.

Daar is baie duidelik twee groepe in die Kweekskool: Studente wat in die Akademiese rigting wil ingaan, en studente wat wil preek in die NGK en die VGK (Verenigde Gereformeerde Kerk). Die Nuwe Testament afdeling is duidelik daarop uit om beide hierdie twee groepe in dwaalleer op te lei. Aan die een kant leer ‘n mens in ‘n mens se eerste 3 jaar konstant van die “historiese konteks” en die “historiese betekenis”. Alhoewel daar waarde in hierdie materiaal is, het ek besef dat die doel van hierdie kennis geensins gerig is om die Bybel beter te verstaan nie. In my vierde jaar het ek besef dat die eintlike doel met die “historiese konteks” in die fakulteit is om sonde te regverdig. “Homoseksualiteit is nie ‘n sonde nie, want Paulus bedoel iets anders in sy konteks”. Die skeiding tussen ons konteks en die Bybelse konteks word so ver van mekaar af geskei dat feitlik niks in die Bybel meer van toepassing is op ons nie.

Die ander groep binne in die Nuwe Testament departement verteenwoordig ‘n groep binne Nuwe Testament studies wat bekend staan as die “Jesus Seminar”. Mense soos John Dominic Crossan en Bart Ehrman is groot voorstanders van hierdie tipe teologie. Ek het dus in my derde en vierde jaar stellings gehoor soos “Jesus is nie God nie”, “die opstanding is nie waar nie”, “die maagdelike geboorte het nooit gebeur nie”. Hierdie teologie vind sy wortels in die postmoderne filosofie van die Frankfurt skool. En op een of ander manier het hierdie Godslasterlike idees, ‘n plek gekry in die Kweekskool. Een van my dosente het gesê dat Bart Ehrman (‘n uitgesproke agnostikus) sy gunsteling teoloog is.

Alhoewel die Nuwe Testament departement ongelooflike dwaalleer leer, glo ek dat die hoof van die departement ‘n Christen is, wat beteken dat die materiaal in sy klasse vir seker tot die heiligmaking van studente lei. Dieselfde kan egter nie gesê word vir die res van die Nuwe Testament departement nie.

Ou Testament

Die Ou Testamentiese departement is in my opinie die ergste departement in die kweekskool as dit kom by dwaalleer. Waar my verwagting was om meer te leer oor die Ou Testament, siende ek die Ou Testament afskeep in my Bybelstudie. Kan ek met sekerheid sê dat die Kweekskool geensins bygedra het tot my kennis van die Ou Testament of hoe om die Ou Testament te preek nie. Die blote gedagte dat daar dominees opgerig word met hierdie tipe dwaalleer maak my ongelooflik bang vir die toekoms van die NGK. Sodra die goed wat ek gehoor het in my Ou Testament klasse, gepreek gaan word in kerke, gaan die NGK by die fondasies geruk word, totdat daar niks meer staan nie.

Net soos in die Nuwe Testament departement is daar twee strome van denke in die Ou Testament departement. Aan die eenkant is daar dosente wat die geskiedenis van die “Ancient Near East” vir studente leer. En die rede waarom ek sê “Ancient Near East”, is omdat daar meer uit die Apokriewe geleer word, as die Ou Testament. Dit het baie duidelik geword dat die Apokriewe en die OT op die dieselfde vlak gesien word – ’n historiese boek. Ek glo die Ou Testament departement is daar om die fundamentele oortuigings van studente stelselmatig af te breek. “Die Bybel is net ‘n historiese boek, nie God se woord nie. Dit beteken dus dat niks in die OT regtig gebeur het nie: Geen Adam en Eva, geen sondeval, geen vloed, geen Rooisee, ens, ens”. Hierdie tipe dwaalleer is weereens postmoderne denkwyse, en kan gevind word in die liberale teologie van Duitse teoloë in die 1900’s.

Die ander groep binne die Ou Testament departement is sonder enige twyfel die groep wat die meeste dwaalleer en Godslasterlike materiaal aanbied. Die groep gebruik feministiese en ander LGBTQ lense om die Bybel te lees en verwerp sodoende meeste van wat die OT leer as patriargaal. In hierdie klasse is ons geleer hoe om die Bybel met ‘n “queer” lens of ‘n postkoloniale lens te lees. Hierdie tipe lense soek “gemarginaliseerde” karakters in die Bybel en probeer vir hulle ‘n stem gee, want “God is aan die kant van die gemarginaliseerde en onderdrukte”. Hierdie klasse het elke “intersectionality” ondersoek en as “Bybelse Teologie” geleer. “Intersectional theory” is wat die fondasie van “Cultural Marxism” form. Daar is baie min modern maniere van dink wat meer liberaal is as “Cultural Marxism”. Dit vorm die fondasie van bewegings soos BLM en Antifa. Hierdie tipe liberale teologie het sy kloue diep in die Ou Testament departement van die Kweekskool.

Praktiese teologie

Die praktiese teologie departement is in my opinie een van die min departemente waar die meerderheid lektore as Christene beskou kan word. Die materiaal wat aangebied word is egter nie sonder fout nie. Die een groot probleem wat ek met Praktiese teologie gehad het is dat studente nooit geleer is om te preek nie. Dit is baie kommerwekkend omdat meer as 90% van my klasmaats in die bediening ingaan. Die swak eksegetiese metodes wat geleer is in NT en OT gepaard met ’n gebrek aan homeletiek los my met geen ander gevolgtrekking as dat die kweekskool geensins bestaan om die kerk te verryk met opgeleide dominees wat die Woord van God kan lees en preek nie.

Die tweede probleem met Praktiese Teologie wat ek kon identifiseer is dat meeste van die dosente glo in die “Social Justice Gospel”. Hierdie oortuigings is wat meeste van die dosente dryf om die “evangelie uit te leef”. Dit is uiters problematies om goed te hoor soos “dit is eenvoudig nie genoeg om die evangelie te preek nie” of “sonder sosiale verandering beteken dit niks om die evangelie te deel nie”. Hoewel ek saamstem dat daar ‘n praktiese deel is aan om die Here te volg – hy roep ons immers om ons naaste lief te hê – glo ek nie dat die evangelie niks beteken as dit nie gepaard gaan met sosiale verandering nie.

Missiologie

Omdat die kweekskool die evangelie nie beskou as kragtig en die enigste weg om mense te red nie, kan daar nie verwag word dat Missiologie enigsins mense leer om die evangelie te deel nie. Daar is baie van dieselfde “Social Justice Gospel” elemente in die eerste twee jaar van Missiologie. Maar die eintlike missie van die kweekskool deur middel van Missiologie is om studente te oortuig dat alle gelowe op dieselfde vlak is, en dat Jesus nie die enigste weg is nie.

Ek het dit in my derde jaar begin besef en in my vierde jaar is ek oortuig dat die Missiologie departement bestaan om studente te oortuig dat Islam (en ander gelowe) en Christendom dieselfde God aanbid. In derde jaar word studente na die moskee geneem en aangemoedig om met mense van ander gelowe te praat. Hierdie interaksies word natuurlik gedoen om “interreligious dialogue” te bevoordeel.

Maar daar word geen instruksies gegee oor hoe om die evangelie te deel met Moslems of Boeddhiste nie. Dit word eintlik ontmoedig. In vierde jaar het ons leesstof bestaan uit argumente waarom alle gelowe dieselfde god aanbid. Daar is vir ons vertel dat Islam, Christendom, Boeddhisme, ens eintlik maar op dieselfde pad is na God toe.

Sistematiese teologie

Die Sistematiese teologie departement is een van die interessantste departemente in die fakulteit in my opinie. Ek kan tot nou toe nog nie sin maak waar die lektore staan op belangrike doktrines of geloofsbelydenisse nie. In die klasse het ons doktrines soos die drie-enigheid, of God se soewereiniteit bespreek, en ons het kerkreg bestudeer deur middel van die Sinodes of Dort. Die leesstof wat ons behandel het en wat ons moes swot was dus baie “solid”. Die probleem met hierdie klasse was die manier waarop hierdie doktrines en geloofsbelydenisse aangebied is. Dit was aangebied asof hierdie fundamentele doktrines van die Christen geloof opsioneel is en dat die kerk van ouds hierdie goed geglo het, maar dat die modern kerk nie noodwendig sulke doktrines hoef te glo nie. ‘n Mens kon ook optel dat die dosente nie regtig hierdie doktrines glo nie, en dat hulle bloot die klasse aanbied omdat hulle moes. As daar vir enige meesters student gevra word of hulle in die uitverkiesing glo of in die verdorwenheid van die mens sal hulle antwoord “nee” wees. Dit is uiters kommerwekkend dat die meerderheid van studente teen die tyd wat hulle in die Sistematiese teologie klas in stap, alreeds so “gebrainwash” is dat hulle nie die waarheid kan sien in die leesstof wat bespreek word nie.

Kerk geskiedenis

Kerk geskiedenis was een van my gunsteling klasse in my eerste en tweede jaar omdat ons geleer is van die eerste kerk asook die kerkvaders, en dan later ook die reformasie en postreformasie tydperke. Kerk Geskiedenis het egter ‘n postmoderne draai geneem in my derde jaar toe ons ewe skielik begin leer het oor die “enlightenment” maar meer as net die Geskiedenis het ons die filosofieë van die “enlightenment” ook bestudeer, tot op so punt dat ons meer filosofie geleer is as geskiedenis. Hoewel ek geen probleem sien met filosofie nie, en dat ek glo dat daar baie waarde is om oor die “enlightenment” filosofie te leer, kan ek geensins sien hoe dit ‘n plek in my kerk geskiedenis klas geneem het nie.

In my vierde jaar het ons in ons geskiedenis klas dieselfde sê-goed gehoor as wat ‘n mens by ’n “Rhodes must fall” of BLM optogte sou kon verwag: dat geskiedenis deur die witman geskryf is en dat ons geskiedenis moet “decolonize”. Hierdie sentimente is die fondasie van “critical race theory” se oorlog teen geskiedenis en dit is hartseer om te sien hoe die teologiese fakulteit vir sulke goed val.

Ek het ook gehoor dat die kurrikulum verander is met betrekking tot inhoud van kerk geskiedenis. Eerste- en tweedejaars leer nie meer oor die eerste kerk of die reformasie nie. In hul pogings om kerkgeskiedenis te dekoloniseer het die fakulteit besluit om eerder Afrika kerkgeskiedenis aan te bied – Wat dit ook al beteken.

2 Die metode

Die vraag op meeste lesers se lippe teen die tyd sal ongetwyfeld wees “hoe kry die fakulteit dit reg?”. En dis is ‘n vraag wat ek konstant moes vra in my vierde jaar. Hoe kry die fakulteit dit reg dat niemand meer geskok is as daar gesê word dat Jesus se opstanding nooit gebeur het nie, of dat ons nou ‘n queer lens moet gebruik om die Ou Testament te verstaan, of selfs dat Jesus en Mohammed na dieselfde God verwys. Die antwoord op hierdie vraag is dat die kweekskool se metode van “brainwashing” uitgedink en verfyn is oor die jare. Die leser sal agterkom dat ek verwys na my eerste twee jare by die kweekskool en dan my laaste twee jare, asof my tyd by die kweekskool in twee verdeel is, en dit is amper so. Daar is ‘n duidelik skuif in wat gesê en geleer word van ‘n mens se derde jaar af, in vergelyking met die eerste twee jare. Die beste voorbeeld wat ek hiervoor kan gee is die padda in die pot water.

Die padda in die pot water

Almal ken die storie van die padda wat in ‘n pot koue water sit. Hierdie pot word dan op ‘n vlam gesit, wat stelselmatig die water verhit. Die padda kom dan te laat agter dat die pot, asook die water, warm word en spring nie vinnig genoeg uit om sy lewe te red nie.

Die metode wat die kweekskool gebruik kan vergelyk word met die vlamme wat die pot warm maak, en die rede waarom studente nie besef dat hulle in dwaalleer gelei word nie is omdat die vlamme die pot baie stadig warm maak.

In ons eerste twee jare by die kweekskool is die dwaalleer op baie subtiele maniere aan student aangebied, op so manier dat daar nooit ‘n vinger gewys kon word na enige dosent toe nie. Die enigste manier om eintlik te weet waar dosente staan op belangrike sake soos homoseksualiteit en die goddelikheid van Jesus was om met hulle te gaan koffie drink. Daar is egter baie stellings gemaak wat studente sou laat twyfel oor hulle geloof. Hierdie stellings sluit in “daar is baie weersprekings in die Bybel, so dit is moeilik om te weet wat die Bybel eintlik bedoel” of “die Bybel is deur mense geskryf, dit is nie regtig God se woord nie”. Stellings soos hierdie is altyd gevolg deur “maar moenie dat hierdie julle laat twyfel nie – die Bybel is nog steeds waardevol”. Studente word dus van eerstejaar af geleer om alles in die Bybel te bevraagteken, siende die Bybel nie as onfeilbaar gesien word nie. En stadig maar seker word dit tweede natuur om eksegese te gebruik om die Bybel te lees. Die betwyfeling in God se Woord gepaard met stellings soos “Waarheid is relatief” of “Ons kan die betekenis besluit oor wat die Bybel probeer leer” skep die fondasie vir stellings soos “Jesus is nie God nie” in ‘n mens se vierde jaar. Omdat studente so gewoond is daaraan om alles te betwyfel wat die Bybel of hulle ouers vir hulle geleer het voordat hulle kweekskool toe gegaan het, stem hulle uiteraard saam.

As stellings wat ek in my vierdejaar klas gehoor het, gemaak is in ‘n eerstejaar klas sou feitlik almal saam stem dat dit verkeerd is. Maar na drie jaar se subtiele stellings wat betwyfeling saai, word daar met niks gestry wat gesê word in ‘n vierdejaar klas nie, maak nie saak hoe verkeerd of Godslasterlik hierdie stellings is nie.

Onverdraagsaamheid

Die tweede metode wat die kweekskool gebruik om hul ideologieë en liberale teologie af te druk op studente is onverdraagsaamheid. Ek het hierdie metode eers in my finalejaar besef, siende daar gereeld vir ons gesê is dat almal se opinies verdra word en dat almal se mening as gelyk beskou word. In die eerste paar jaar van my studies het ek goeie punte gekry vir my take en toetse, alhoewel ek nie altyd saam gestem het met die werk nie, en ek het nooit gevoel asof ek gepenaliseer word vir wat ek glo nie.

In my vierdejaar het ek egter punte verloor vir my geloofsoortuigings en in sommige gevalle is daar vir my gesê dat ek nul sou kry indien ek weier om van die take te doen op die voorgeskrewe maniere.

‘n Voorbeeld van hoe die onverdraagsaamheid in die fakulteit teenoor my (en ander) geëskaleer het is in die take wat daar vir ons gegee is. In die eerste paar jaar van my studies sou daar vir ons ‘n Bybelse teks gegee word (byvoorbeeld Lukas 5). Daar is dan van ons verwag om die teks te interpreteer deur middel van enige lense wat ons in die akademici kon kry. Ek kon dus Lukas 5 interpreteer soos wat ek wou, en ek sou nie gepenaliseer word nie. In my finale jare het ons nie meer tekste gekry nie, maar eerder lense. Daar is vir ons gesê om enige teks te kies, in die Ou Testament, en dan moes ons dit interpreteer deur middel van ‘n feministiese, postkoloniale, of queer lens. Daar is geen opsie gebied vir studente soos ek wat van die opinie is dat sulke lense nie waarde toevoeg tot Bybelse studies nie, en in meeste gevalle Godslasterlike gevolgtrekkings maak. Dit het baie duidelik geword in my finale jaar dat die verdraagsaamheid wat ek gesien het in my eerste twee jare by die kweekskool ‘n fasade was, en dat teologieë en idees wat nie saam stem met die liberale agenda van die kweek nie, verwerp en bespot word.

Hierdie verwerping en bespotting het van die lektore af geloop na my medestudente toe. Ek kan aan honderde kere dink wat ek uitgejou of verwerp is as gevolg van stellings soos “Jesus is die enigste weg na God” of “Ek dink nie dat die swartbewussyns beweging waarde tot die verstaan van die evangelie in Suid Afrika voeg nie”. In my finalejaar by die kweekskool het ek ’n handjievol vriende gehad, nie omdat ek ‘n introvert is of omdat ek nie met my medestudente wou vriende wees nie. Ek is verwerp en gebrandmerk as ‘n radikale konserwatiewe Christen, en dus moes ek vermy word.

3 Die doel van die kweekskool

Al die bogenoemde “probleme” wat ‘n mens kan identifiseer in die fakulteit teologie van die dwaalleer tot die metodes wat gebruik word om studente te “brainwash” kan almal verduidelik word as ‘n mens kyk na die doel van die kweekskool. Die naam van die fakulteit (kweekskool) is veronderstel om vir ons te verduidelik wat daar gebeur. Die nuwe generasie dominees word soos jong bome gekweek om eendag God se woord in hul kerke te preek.

Dit is immers die visie wat Andrew Murray gehad het toe hy destyds betrokke was by die stigting van die fakulteit. Vir ‘n groot deel van ons geskiedenis in die NG Kerk het die kweekskool opgeleef tot sy naam met bekendes soos Dr. Willie Jonker wat dieselfde hout trappe geklim het as ons. So, waar het dinge verkeerd gegaan? Dit is my mening dat die kweekskool se grootste fout was om nie meer as die kerk se fakulteit gesien te word nie, maar eerder die Universiteit s’n. Die dag toe die Universiteit se mening en sê meer gewig gedra het as die kerk s’n, met betrekking tot wat geleer word, het die kweekskool sy Bybelse fondasie verloor.

Ek het vroeër genoem dat daar twee tipe studente gevind kan word in die kweek: die groep wat wil preek in die kerk en die groep wat wil navorsing doen en die akademiese rigting wil volg. In vorige jare is die opbou en heiligmaking van God se kerk as die hoofdoel van hierdie twee groepe gesien. Dit is immers die doel van enige teologie fakulteit – om die Here te dien deur die Here se mense op te lei. Die kweek het vir jare die opbou van God se kerk as hoofdoel gesien: dominees is opgelei om te preek sodat God se mense kon groei in die Woord. Diegene wat in die akademiese rigting wou gaan, het so gemaak met die oog om die kerk te dien met hulle intellektuele gawes. Die kweekskool het hierdie visie heeltemal verloor: die kerk is nie meer die doel nie, omdat die kerk nie meer ‘n plek het in die teologiese fakulteit Stellenbosch nie.

Ek kan dus met volle sekerheid sê dat die kweekskool akademiese reuse probeer oplei, maar met die oog om hulle koppe vol kennis te kry. Die student wat sou kies om in die akademie verder te gaan, doen dit nie om die kerk te versterk nie, maar eerder vir status en prestasie. Ek kan nie met sekerheid sê wat die doel is met die nuwe generasie dominees wat opgelei word nie, maar dit is verseker nie om die kerk op te bou met goeie prediking nie. Ek kan dit met sekerheid sê, want na vier in die kweekskool sou ek nie geweet hoe om die Bybel te lees of hoe om te preek, as ek nie selfstudie gedoen het nie.

Daar word baie goed gekweek maar jong bome wat God se woord getrou preek is nie een van hulle nie.

5 thoughts on “Liberale teologie in Stellenbosch Universiteit”

  1. Vrinne, julle is besig om onwaarhede te versprei. Ek het my eie navorsing gedoen deur met finale jaar studente tot en met 4 jaar in die bediening te praat. Die Teol fakulteit op Stellenbosch is inderdaad nie besig met “spoonfeeding” nie. Jy is immers op ’n universiteit anders moet jy maar ’n Bybelskool gaan bywoon.
    Gaan die dosente jou uitdaag? Absoluut – weereens jy studeer aan ’n universiteit! As jy nie saamstem nie, gesels daaroor.
    Met almal wat ek gepraat het in die navorsingsgroep is dit eens dat hulle NIE geleer is om NIE in die maagdelike geboorte en fisieke opstanding te glo NIE.
    Daar is wel nie vir hulle klinklare antwoorde gegee nie. So, die stelling sal gemaak word: “Is daar n maagdelike geboorte?” of “Dink julle ’n fisieke opstanding is moontlik?”
    So, die studente self is uitgedaag om dan verder te dink en te praat daaroor – want hulle studeer aan n universiteit!
    Is daar sekere lense gegee om na die Bybel te kyk? Verseker ja – want of ons dit nou wil erken of nie, almal van ons kyk vanuit n sekere lens na die Bybel. Is van die lense vir ons vreemd soos die Queer lens? Verseker ja, maar dit is net ’n lens. Kan jy daarvan verskil? Absoluut. Weereens, jy studeer aan ’n universiteit waar jy uitgedaag word op ’n verskeidenheid van vlakke – wat wonderlik is want dit is hoe die lewe daarbuite lyk.
    Ek is beïndruk met ons jong dominees wat deur Stellenbosch opgelei is. Hulle is afgeronde predikante met die vermoë om die wêreld aan te vat soos hy vandag lyk. Ek is baie trots op hulle! Kan die opleiding verbeter? Ek glo opleiding moet altyd verbeter en dat daar altyd opnuut daarna gekyk moet word.

    Die verdagmakery wat tans aan die gang is is betreurenswaardig en vir my uiters teleurstellend. Ek verwag dit nie van predikante nie!

  2. Riaan, ek dink jy moet versigtig wees met woorde soos “onwaarhede” en “verdagmakery”.

    Ek wil jou ’n paar vrae vra:

    1. Kan jy asb meer spesifiek wees oor die sogenaamde leuens wat versprei word?

    2. Wat sou die motief wees om leuens oor die teologiese fakulteit te versprei?

    3. Jy sê jy is trots op die studente waarmee jy gepraat het. Wat is jou definisie van ’n afgeronde predikant? Onthou, ons praat hier in die konteks van die suiwer leer.

    4. Ek was onlangs in ’n gesprek met Jan Lubbe en ek het hom gevra waarvoor moet ons vir mekaar ruimte maak in die NG Kerk. Ek wil dit vir jou ook vra. Kan ons ruimte maak vir verskillende sieninge oor byvoorbeeld:
    1. Jesus se liggaamlike opstanding
    2. Die maagdelike verwekking
    3. Jesus se wonderwerke
    4. Redding slegs moontlik deur Jesus alleen. Maw, mense van ander gelowe kan nie gered word nie.
    5. Jesus se godheid
    6. Bestaan van die duiwel en die hel

    5. Erken jy dat al bogenoemde dinge beskryf word in die belydenisskrifte en dat alle predikante tydens hulle legitimasie-eed belowe het om nie net hierdie dinge te onderskryf nie, maar ook om alle dwalings daarteen te weerlê?

    6. Wat moet met predikante gebeur wat nie hierdie kernwaarhede onderskryf nie en dus hulle legitimasie-eed verbreek?

    7. Dit lyk nie of jy hierdie studente gevra het wat hulle persoonlike sieninge is oor kwessies soos hierbo gelys nie? Het jy? Indien wel, wat was hulle antwoord? Indien nie, hoekom nie? Dit is tog waaroor dit gaan?

    8. Jy weet seker dat apologetiek nie deel van die kurrikulum is nie. Wat is jou opinie daaroor?

    9. Niemand het ’n probleem daarmee dat studente uitgedaag word nie. Die skrywer van hierdie getuienis ook nie. Die probleem is dat dit hier gaan oor meer as uitdaag. (Jy sê dit self: “Daar is wel nie vir hulle klinklare antwoorde gegee nie.”). Is die teologiese fakulteite nie veronderstel om predikante spesifiek toe te rus om antwoorde te gee vir moeilike geloofskwessies nie?

    10. Die dinge waarvan hier getuig word, gebeur ook by Tukkies en by Vrystaat. Kyk byvoorbeeld nou onlangs UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend (18 Aug 2021) Ek was persoonlik in gesprek met studente daar. Hulle het vir my die detail verskaf van wat daar gebeur. Kyk ook Getuienisse van NG Kerk teologiese studente. Enige kommentaar?

  3. Riaan Esterhuyse het nie die stukkendheid beleef wat ’n Stellenbosch opgeleide leraar met sy pro-gay teologie en bevraagtekening van die Bybelse waarhede, verkondig het nie. Erediensbywoning het in 3 jaar van tussen 50 en 60 gemiddeld met nagmaal en tussen 40 en 50 gemiddeld met gewone eredienste, gedaal tot minder as 20 met nagmaal en tussen 7 en 13 gemiddeld per erediens. In meer as 3 jaar kon hy nie, al het hy 2 gemeentes gehad om te bedien, net eenkeer by elke besoekpunt uitkom nie, en daar was nie eers 150 gesamentlik in die 2 gemeentes nie.

  4. So so ongelooflik dankbaar vir dié. Ek is op die oomblik in matriek en was van plan om my teologie graad by stellenbosch te vang. gelukkig het ek vir wysheid gebid en op hierdie artikel afgekom. ongelooflik hartseer om te lees wat mense wat veronderstel is om bybelvas te wees in glo en ander mense leer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui