Hanlie gesels met Nelis Janse van Rensburg

Kyk ook:

In die volgende artikel het op Netwerk24 verskyn. Dit wys dit iets van Nelis, die huidige moderator van die NG Kerk, se teologiese sieninge.

Interessant dat hy en André Bartlett sulke goeie vriende is.

**********

Hanlie gesels met Nelis Janse van Rensburg | Netwerk24

Elkeen dra ’n kruis in dié reis

20 November 2016

Lang, moeilike stiltes kry jy van die moderator op ’n windverwaaide Woensdag in Welgemoed, iewers in ’n houpatroon tussen die duiwel en die diep blou see.

Verskriklik, die skade wat 2016 se buitengewone algemene sinode aangerig het, bieg Nelis-die-dominee in ’n onbewaakte oomblik.

Tot hy onthou om weer sy versoenende moderator-toga in plek te trek.

Laasjaar, pas drie dae in sy amp, het hy die aand by die Wes-Kaapse sinode se vergadering gaan inloer. “Ek onthou hoe opgewonde almal was, en ek was aangedaan. My eerste waarneming was: Dit gaan vir die kerk geweldige ­konflik bring.

“En toe ons nou die besluit geneem het, toe ek daar uitstap by die sinode, het ek geweet die situasie gaan hom herhaal. Net, dié keer is dit soveel ­wyer.”

Die reaksie op die 2016-u-draai is oorweldigend.

Wat vir hom die ergste is, sê hy, is die verslaentheid by mense.

“In 2015 was dit: Hoe kán my kerk sê gay-verhoudings is reg? En nou: Hoekom kan kerkmense wat gay is nie hul gay-wees uitleef nie?

“Dit kring en kring uit.

“Petisies en Facebookgroepe diskrediteer die kerk net verder. Hulle moet hul energie beter gebruik. Daar is konstruktiewe maniere in die kerk.

“Ná die 2015-sinode het ons 700 bladsye se besware gehad op die agenda. Ons kry nou reeds reaksie van kerkrade wat die kerklike kanale gebruik volgens die kerkorde.

“Een ding sê ek vir jou pylreguit: Ons sal moet beter maniere vind om diversiteit te hanteer.”

Dis bekend waar Nelis se lojaliteit lê, sê sy jarelange vriend dr. André Bartlett. Nelis beywer hom al jare lank vir ’n insluitende benadering teenoor gay lidmate. [Dus kan ’n mens seker wees dat hierdie twee vriende hard werk om ruimte te maak vir homosekualiteit in die NG Kerk.]

Bly in jou gemeente, vind liefde by jou broers en susters, dis ’n pelgrimsreis waar elkeen ’n kruis dra. Asseblief, bly.

“Hy is onder beleg van mense wat sy beweegruimte sover moontlik wil beperk. Ek kry die indruk dat hy nou verdag gemaak word, ook deur die progressiewes wat laasjaar vir hom hande geklap het,” sê André.

Wat hy probeer doen, sê Nelis, is om die ruimtes oop te hou waarin mense wat radikaal van mekaar verskil, in ­gesprek kan tree.

Die dag toe ek verkies is, het ek besef my dae van aktivisme is vir eers verby, my rol is anders. Ek het die afgelope jaar ontsaglik hard gewerk daaraan, maar ek het dit met ’n blye hart gedoen. As mense my van slegte goed beskuldig, weet ek dit gaan nie oor my nie, maar die rol wat ek vervul. Dis die kruis wat ek nou dra.”

Die woorde kom moeilik.

“Ek het vir die ouens wat teen die 2015-besluit was, gesê: Jou kerk se ­besluit is vir jou swaar om te sluk. Dis nou kruisdra-tyd.

“Ek wil dit nou weer sê. Die verskrikking daarvan is dat dié wat die swaarste kruis moet dra, die gay mense is. En al wat hulle hoor, is ’n kerk wat vir hulle weer sê: Nee.

“Ek wil vir hulle sê: Die kerk het nie vir julle nee gesê in álle opsigte nie, die kerk het ook vir julle ja gesê, wat die kruis dalk ’n bietjie ligter maak.”

Is dit nie maar net ’n spel met woorde om te verdoesel wat ’n Beeld-koerantopskrif “haat vermom as liefde” noem nie?

“Ek verstaan hul ontnugtering. Ek verstaan ook dat hulle dit sien as liefdeloos. Ek weet dis nie die kerk se ­bedoeling nie, maar ek weet ook dat ons gemeet word aan die uitkoms van ons besluite. Die gevolge daarvan durf ons nie ignoreer nie. Dis ons éie mense wat séér het.”

’n Groeiende rebellie kerkleiers en gemeentes verklaar pront hulle gaan vóórt om gays in hul gemeentes ten volle te verwelkom. Ongeag. Hulle handhaaf die 2015-besluit ter wille van die integriteit van die kerk.

Is dit nie maar beter as die NG Kerk skeur nie, word toenemend gevra.

“Nee. In die kerk is daar ’n ongelooflike konsensus oor wat ons bind.”

Mense dink die sinodebesluit is nou finaal, sê Nelis. “Maar soos alles in die kerk, bly ook dít oop vir bespreking. Ek dink die bedding is nou voorberei vir verdere gesprek.”

Sal daar nog mense oor wees wat enigsins omgee, word gevra. Dié wat nie dink die NG Kerk het “ ’n openbare gek” van homself gemaak nie? Ben du Toit, afgetrede teoloog, sê die NG Kerk het sy reg op enige openbare versoeningsrol in die land verloor.

’n Petisie van 700 kerkleiers en lidmate eis nou optrede teen ds. Dirkie van der Spuy ná sy jubelende segebrief (“ ’n oorwinning vir God en sy Woord”) wat, volgens hulle, grens aan kettery.

Nelis talm, weeg sy woorde. “Ek stem nie saam met wat hy sê nie, maar ek dink daar word te veel daarvan gemaak. Dis elkeen se reg om binne sy eie kring sy emosie uit te spreek.”

‘Die mense is moeg vir al die rondvallery, né?’

Toe ek hom Vrydag weer daaroor bel, sê hy: “Ek het ’n indringende gesprek met Dirkie gehad. Ons kies om saam die pad te loop, en ons twee beliggaam die eenheid van die kerk.

“Ek bevraagteken nie sy motief vir die brief nie, dis nie ’n valse triomf dat hulle die sinodebesluit gemanipuleer het nie.”

Die kerk moet beter maniere vind om verskille te hanteer, herhaal hy. Wéér.

“Die sinode se besluit sê uitdruklik gelowiges verskil van mekaar, daarom moet ons dit met sensitiwiteit verder ondersoek sonder om mekaar se bona fides oor skrifgetrouheid te bevraag­teken.”

Hy het dit laas naweek ernstig oorweeg om te bedank, bevestig hy ’n ­gerug. “Dit sou onverantwoordelik wees om dit nie te oorweeg nie. Die appèlproses het bevind daar’s tegniese foute gemaak by die vorige sinode en ek moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.”

Die kerk se eie regsadvies het bevind dat die appèlkommissie nie die bevoegdheid gehad het om die aanbevelings te maak wat voor die sinode ge­dien het nie, beaam hy.

Die kommissie het op sy beurt gereken dat hy wel binne die kerkreëls ­optree en voortgegaan.

“So kom ek toe by die sinode aan en hoor die appèlle oor tegniese besware tydens die 2015-sinode is gehandhaaf.”

Maar hoekom het die moderator nie toegelaat dat die sinode die regsadvies oor die appèlkommissie bespreek nie? Nelus Niemandt, die vorige moderator, het tog daarop aangedring?

“Ek was doodseker daaroor: Jy kan nie die meriete van jou eie appèlkommissie se bevindinge op ’n sinode debatteer nie. Dis net die hof wat kan regsekerheid gee.”

En dít gaan ’n holle oorwinning wees?

Hy knik.

Was die 2015-sinodebesluit gekaap met tegniese besware?

“Regstegniese goed kan gebruik word om gesprekke tot stilstand te bring. My funksie is om die ruimtes oop te hou.”

Weer ’n moeisame stilte.

“Jy moet verstaan, ek is ’n gemeentedominee,” raak hy aangedaan, “as ek mense sien wie se kruise te swaar raak omdat hulle al te lank daaraan dra, wil ek by hulle staan.”

Soos die kruis van ’n gay orrelspeler wat sy storie vertel op Facebook, oor Sinode 2016 ’n “dik rooi streep” getrek het deur die 2015-besluit wat hom vir die eerste keer sonder oordeel verwelkom het in die kerk wat hy liefhet. Sy moed is gebreek. Vanoggend speel hy vir die laaste keer orrel in ’n NG gemeente.

“Ek sal buite staan,” skryf hy. “Die deur agter my sal toe wees. Vir ’n oomblik sal ek huiwer en dalk weer wil ­instap. Maar ek weet, hierdie keer sal ek wegstap.”

Wat sê die moderator van die NG Kerk vanoggend vir dié man wat sy kerk beleef as ’n plek wat hom uitskuif met sewe teksverse en ’n dosyn reglemente en hier’s ’n pinkie vir jou en kom ons bid saam?

“Dit raak my diep. Uit ’n pastorale hoek . . .” soek hy na woorde . . . “Wat jy beskryf is ’n verlies aan geborgenheid in die kerk . . . En dis ’n sleg ding. Juis daarom is die reis nie klaar nie.

“Natuurlik maak dit mense seer. Dis onverduurbaar sleg. Die kerk behoort wonde te verbind, nie wonde te máák nie. Ons kan nie só voortgaan nie.”

Sy boodskap aan die gay orrelis is eenvoudig: Bly in jou gemeente, vind liefde by jou broers en susters, dis ’n pelgrimsreis waar elkeen ’n kruis dra. Asseblief, bly.

Moet asseblief net nie hééltemal gay wees nie?

Hy bly stil. Sê: Die kerk leef in sy gemeentes. Dis ons hele gereformeerde verstaan. So, hoekom kan ’n kerkraad besluite neem? Omdat Jesus Christus die hoof is van daardie gemeente.

“Soms soek ons meerdere wysheid en dan sit ons ons kragte en kennis ­bymekaar.

“En in dié geval het ons na ’n meerdere vergadering gegaan wat ’n bepaalde kyk hierop het, maar nie ’n gemeente in sy gewete gaan bind nie.

“In die hele NG Kerk met sy 1 200 gemeentes is daar nie een tugsaak teen ’n gay lidmaat in ’n verhouding nie. In die NG Kerk is daar duisende gay lidmate, aktiewe lidmate, wat in verhoudings is.

“En sonder dat sus of so besluit is, sê die gemeente, de facto, julle is welkom. Hulle doen dit, hulle is selfstandige gemeentes.

“ ’n Algemene sinode maak breë beleid, maar as hy sy beleid kwalifiseer deur te sê ons gaan dit nie afdwing nie, dan sê hy by implikasie: Daar waar julle is, onderskei self verder.”

En as die gay paartjies wil hê hul predikant moet hulle trou?

“Hy het nie die statutêre bevoegdheid nie.”

En as die predikant dit inseën? “Daar moet nog daaroor besluit word.”

Hy gee ’n moeë glimlaggie.

“Die mense is moeg vir al hierdie ­debatte, al hierdie rondvallery, nè?”

Nè.

Dis ’n moeilike plek – vir die kerk, vir hierdie moderator – waaroor sy vriende sê: Hy’t integriteit en visie, maar hy word nie die geleentheid ­gegee om dit uit te voer nie.

Die man in die middel.

Vas in daardie knyptang wat Eleanor Roosevelt so raak beskryf het: “Damned if you do, damned if you don’t”.

Maar Eleanor se aanhaling lui ook verder: “Do what you feel in your heart to be right, for you’ll be criticised anyway.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui