Kyk ook:
Frits Gaum het die volgende resensie van Jan du Rand en Marius Nel se boek Homoseksualiteit en die Bybel geskryf.
Andries Louw het aan die onderkant kommentaar gelewer op hierdie resensie. Beide hiervan het in Kerkbode verskyn.
************
Die ‘ander kant’ van gayverhoudings bekyk | Kerkbode
Deur Frits Gaum
13 April 2017
HOMOSEKSUALITEIT EN DIE BYBEL
Deur Jan du Rand en Marius Nel
Uitgegee deur CUM, 2016
Resensie deur Frits Gaum
Op die agterplat van Jan du Rand en Marius Nel se boek lees ’n mens: “Die skrywers stel doelbewus die ander kant van die saak, teenoor teoloë wat by die tydsgees aansluit deur selfdegeslaggeorienteerdheid ’n biologiese gegewe te noem en wat die Skrif so interpreteer dat dit selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse goedpraat.”
Die boek is geskryf na die 2015-Algemene Sinode wat besluit het dat selfdegeslagverbintenisse “in liefde en trou” aanvaarbaar is en dat gay predikante nie selibaat hoef te wees nie. Wat die skrywers bepleit, het met die buitengewone Algemene Sinode van 2016 gebeur toe 2015 se besluite dramaties omgekeer is.
Du Rand is ’n hoogaangeskrewe Nuwe-Testamentikus en Nel het vier doktorsgrade, onder meer in die Ou en Nuwe Testament. ’n Mens lees dus hulle standpunte met aandag en respek. Dit is egter baie jammer dat die skrywers – terwyl Du Rand kla dat teoloë en gelowiges wat “die ander kant” voorstaan, alte maklik van fundamentalisme en biblisisme beskuldig word – in hulle boek diegene wat van hulle verskil, onder meer bestempel as mense wat by die tydsgees aansluit en die Bybel nie ernstig genoeg opneem nie. Dit lyk asof hulle meen dat “die ander kant”, hulle “kant”, eintlik die enigste kant is. Oor hierdie saak kan dit egter nie. Daar is (minstens) twee kante, en aan albei kante staan gelowige teoloë wat erns met die Bybel maak en toegewyd probeer om die Bybelse boodskap op ons tyd toe te pas.
’n Goeie voorbeeld in die verband is Du Rand se verklaring van Romeine 1:27-28, een van die netelige Skrifgedeeltes oor selfdegeslagseks. Du Rand gee toe dat Paulus hier waarskynlik met heterogene mans en vroue praat vir wie die “natuurlike” omgang vanselfsprekend heteroseksueel sal wees. Maar hy meen dat dit inlegkunde is om enige ander seksuele verhouding te verhef tot die “natuurlike” standaard (bl 64). ’n Ander hooggeagte Nuwe-Testamentikus en kenner van die Romeinebrief, prof Andrie du Toit, skryf egter hieroor: “Hierdie Skrifgedeelte kan om twee redes nie van toepassing gemaak word op persone met ’n gefikseerde ‘anderse’ seksuele orientasie nie: Eerstens omdat sulke persone nie teen hulle natuur handel wanneer hulle aangetrokke voel tot persone van hulle eie geslag nie, en tweedens omdat Paulus – soos die mense van sy tyd – nie bewus was van die werklikheid van ’n ‘anderse’, voorgeboortelik-gefikseerde seksuele orientasie nie. Hierdie werklikheid is eers in die jongste tyd wetenskaplik bewys” (Kerkbode, 4 Des 2015).
Dit lyk egter of sowel Du Rand as Nel vrae het oor ’n homoseksuele orientasie. Nel skryf: “Die alkoholis kan slagoffer van ’n predisposisie tot verslawing wees wat as verskoning vir sy/haar toestand kan dien … Dieselfde geld van ’n predisposisie tot homoseksualiteit, indien so iets bestaan” (bl 210). Du Rand gebruik die terme “homoseksualiteit” en “homoseksualisme” ook foutiewelik as sinonieme, en gee nie genoeg erkenning aan die feit dat homoseksualiteit ’n veelkantige term is wat uit die 19de eeu dateer en as sodanig nie aan Paulus bekend was nie.
Du Rand skryf dat gay mense ’n keuse het: óf hulle trou met ’n persoon van die teenoorgestelde geslag, óf hulle bly selibaat. Wat eersgenoemde moontlikheid betref, word nie rekening gehou met die katastrofale gevolge wat so ’n “teen-natuurlike” verbintenis alte dikwels het nie, en laasgenoemde moontlikheid stel ’n vereiste aan gay Christene wat nie aan ander Christene gestel word nie. Natuurlik is seks nie “die hoogste goed” van alles op aarde nie (bl 200), maar ’n mens se seksualiteit bepaal tog in ’n belangrike sin wie jy is. En om te sê dat jy een deel van jou bestaan moet toesluit as jy ’n Christen is, is so goed as om te sê jy is nou wel gebore met pragtige blou oë, maar jy moet net nie daarmee kyk nie!
Terwyl Du Rand in sy beoordeling van die pad wat die NG Kerk geloop het voordat by die 2015-besluit uitgekom is, erken dat dekades se studie en verslae en taakspanne dit voorafgegaan het, meen hy tog dat die uiteindelike 2015-besluit “oorhaastig” was (bl 228). Hoe klop die som?
Wie meer wil weet oor die “ander kant”, het hier ongetwyfeld ’n belangrike bron. Solank onthou word dat hierdie “ander kanf’ op sy beurt ’n “ander kant” het. Ons sal moet ruimte maak vir mekaar se kante en insien dat oortuigde gelowige Christene hulle aan albei kante bevind en dat daar vir hulle in een kerk plek moet wees.
********
Resensie oor Homoseksualiteit en die Bybel ongebalanseerd | Kerkbode
5 May 2017, Ds Andries ME Louw, Briewe, Die gay-debat
Ds Andries NE Louw (emeritus) skryf:
Die resensie van Frits Gaum oor Jan du Rand en Marius Nel se boek Homoseksualiteit en die Bybel is teleurstellend. Miskien was dit naïef om anders te verwag. Dit is immers algemene kennis dat Gaum een van die prominente progay teoloë en aktiviste is vir die goedkeuring van selfdegeslagverhoudinge van liefde en trou asook van gay huwelike en die legitimasie van predikante in sulke huwelike in die NG Kerk.
’n Mens sou nietemin verwag het dat die resensent darem ’n poging sou aanwend om ’n gebalanseerde evaluering van die betrokke boek te doen.
So laat hy na om in sy resensie selfs ’n oorsig van die boek se indeling en hoofstukke te gee en ignoreer hy gewoon die bree spektrum van subtemas wat in die boek behandel word, byvoorbeeld die puik in leiding tot ’n verantwoordeli ke hermeneutiek, die deeglike historiese kontekstualisering, die aandag aan seksualiteit in die Grieks-Romeinse wêreld in teenstelling met Israel, en die deeglike eksegese van die relevante Skrifgedeeltes deur Du Rand en Nel.
Gaum se poging om ’n teenargument teen Du Rand op te bou deur ’n aanhaling van prof Andrie du Toit ten opsigte van Paulus se verwysing na selfdegeslagseks in Romeine 1:27-28 as een van die “netelige Skrifgedeeltes” (sic) raak in sekere sin die kern van die debat, maar dit misluk klaaglik omdat Du Rand swak en onvolledig aangehaal word en vanweë die argumente van Du Toit “dat sulke persone nie teen hulle natuur handel wanneer hulle aangetrokke voel tot persone van dieselfde geslag nie … ” Dit bots duidelik met die feit dat Paulus met die term “teen die natuur” (Grieks “para fusin”) juis verwys na ’n universele waarheid en geskape werklikheid, soos Du Rand ook duidelik aantoon. Om die woord “hulle” in te voeg of te veronderstel is duidelik niks anders as inlegkunde nie.
As Gaum werklik Du Rand se eksegese van Romeine 1:18-28 aandagtig gelees het kon hy dalk oortuig geword het, in plaas daarvan om Du Toit se tweede foutiewe argument na te praat, naamlik dat “Paulus – soos die mense van sy tyd – nie bewus was van die werklikheid van ’n ‘anderse’ voorgeboortelik-gefikseerde seksuele orientasie nie”. Die Griekse wysgeer Aristoteles het dan reeds drie eeue voor Christus die onderskeid gemaak tussen verskillende oorsake van homoseksualiteit naamlik 1) dit wat hy as ’n “natuurlike disposisie” beskryf het, 2) “gewoonte soos gevestig deur seksuele molestering vanaf die kinderjare”.
Die stelling “Hierdie werklikheid is eers in die jongste tyd wetenskaplik bewys” is buitendien ook onwaar. Die werklikheid is dat geen deurslaggewende wetenskaplike bewyse van genetiese of biologiese oorsaaklikheid tot nog toe gevind is nie. Inteendeel dui navorsing al meer oortuigend daarop dat “omgewingsfaktore” die deurslaggewende rol speel. Die holruggeryde metafoor van die blou oë waarmee jy nie mag kyk nie is dus ’n misplaaste en afgesaagde cliche.
Gaum se resensie is volgens my nie ’n billike beoordeling van die boek se waarde nie. Die indruk word eerder geskep dat Gaum dit bloot as ’n gerieflike platform gebruik het vir die propagering van sy bekende progay stand punt. Dit is na my mening betreurenswaardig.