Hermie van Zyl: Sensitiwiteit teenoor gays

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Netwerk24 verskyn. Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].

***********

Hermie van Zyl: Sensitiwiteit teenoor gays

Maandag 17 Augustus 2015

Die gay-debat het ’n erg verdelende onderwerp geword, plaaslik én wêreldwyd. Dis te verstane, omdat mense sterk sienings het oor gesonde seksualiteit.

“MAAR SELFS AL SOU “TEEN-NATUURLIK” TRADISIONEEL VERSTAAN WORD, MOET DIE NATUUR ALTYD IN DIE LIG VAN DIE EVANGELIE BEOORDEEL WORD.”

Die onderwerp is egter nie net van akademiese belang nie; dit gaan oor mense se eiewaarde, selfrespek en lewensvervulling. En hiervoor moet die kerk altyd sensitief wees. Ek wil daarom ’n mening waag oor wat die kerk te doen staan in gevalle waar Christen-gays en lesbiërs nie promisku nie maar in permanente verhoudings van liefde en trou wil lewe.

Volgens opnames is tussen 3 en 4 persent van die Amerikaanse bevolking gay (waarskynlik ook so in Suid-Afrika). Die syfers kan egter hoër wees as gay-wees breër gedefinieer word of as die ondervraagdes minder geïntimideer voel oor die onderwerp, meen sommige. Uit hierdie syfers kan ’n mens redeneer dat die verskynsel so klein is dat dit goedskiks geïgnoreer kan word. Maar dan hoef ’n mens jou vir dieselfde rede ook nie aan blindes en dowes te steur nie.

[Hierdie tipe statistiek is irrelevant. Die statistiek oor heteroseksuele mans wat pornografie kyk is veel meer[1]. Dit maak dit nie minder sonde nie.]

Oor of ’n mens gay gebore word en of dit aangeleerde gedrag is, is die jurie nog in diskussie. Daar is nie afdoende bewyse vir die sogenaamde gay-geen nie, maar eweneens kan ’n homoseksuele oriëntasie baie moeilik aan spesifieke omgewingsfaktore gekoppel word. Gays sê gewoonlik: Ek was nog altyd so.

[Die wetenskaplike navorsing hieroor dui eerder daarop dat ’n mens NIE so gebore word nie. Kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit.]

Wat my betref is die vraag hoe jy gay geword het – aangebore of “aangeleer” – irrelevant vir die kerk se standpunt oor homoseksualiteit; allerweë word erken dat gay-wees ’n grootliks onomkeerbare oriëntasie is. Trouens, die American Psychiatric Association het reeds in 2000 besluit dat alle terapeutiese pogings om gays te verander, gestaak word, omdat sogenaamde herstellende of bekeringsterapie meer skade doen as iets anders. [Hierdie is glad nie waar nie. Daar is dosyne, indien nie honderde, voorbeelde van gay mense wat bevry is van hierdie lewensstyl. Kyk Getuienisse van voorheen gay mense.]

Hoe hanteer die kerk die aangeleentheid? Daar is immers duidelike Skrifuitsprake wat bepaalde homoseksuele praktyke as sonde brandmerk, waarvan Rom.1:26-27 die vernaamste is, waar dit as “teen-natuurlik” beskryf word.

Tradisioneel het die kerk gesê dat homoseksualiteit as sodanig nie sonde is nie, slegs wanneer dit beoefen word. Christen-gays moet dus selibaat lewe. Maar dit klop nie. Afgesien van die onregverdigheid dat heteroseksuele vry is om hul seksuele oriëntasie in die huwelik te beoefen, maar gays nie, is dit volgens die Bybel nie net die daad nie, maar ook die begeerte wat sonde is (Matt. 5:28). Gays wat selibaat lewe, maar steeds begeer, sondig dus in elk geval.

Verder, Rom. 1:26-27 (en ander tekste) moet in konteks geplaas word. ’n Groeiende getal ernstige Bybeluitleggers wys daarop dat Rom. 1:26-27 handel oor seksuele uitspattigheid wat inderdaad teen-natuurlik is en in die antieke tyd geassosieer is met die homoseksuele gedrag van heidene. Maar presies daarom pas dit nie op die situasie waaroor die kerk moet leiding gee nie, naamlik waar Christen-homoseksuele juis nie promisku nie maar in verhoudings van liefde en trou wil lewe. Voorstanders en teenstanders van homoseksuele beoefening kan dus ten minste hieroor saamstem: Die soort homoseksuele gedrag wat Rom. 1 as sondig en skandelik afwys, moet ook vandag veroordeel word.

Maar selfs al sou “teen-natuurlik” tradisioneel verstaan word, moet die natuur altyd in die lig van die evangelie beoordeel word. Die natuur is ook aan die gebrokenheid onderworpe. Ons moet mense nie (be-)oordeel aan die hand van een of ander ideale skeppingsordening nie, maar hulle ontmoet waar hulle werklik is. Ons leef vanuit die evangelie, vanuit die herstel van die natuur, op pad na God se nuwe wêreld.

Soos die ontmande Ethiopiër in die kerk van Christus verwelkom is (Hand.8), so moet ons volle erkenning gee aan hulle wie se seksuele oriëntasie moontlik nie “natuurlik” is nie, maar wat as mede-volgelinge van Christus ook deel is van die kerk.

[Dit is nie ’n geldige argument nie. Die ontmande Ethiopiër kan niks aan sy toestand doen nie. ’n Homoseksuele persoon het steeds ’n keuse of hy/sy ’n homoseksuele leefstyl gaan leef. Net soos enige ander persoon wat moet besluit hoe hy/sy versoekings gaan hanteer soos, oormatige drankgebruik, pornografie, steel, ens.]

Bostaande argument verdien om aangehoor te word, hoewel alle vrae beslis nie beantwoord is nie.

Voetnotas

[1] Kyk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui