Vir agtergrond oor hierdie artikel, kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.
Daar is baie oor Neels Jackson se sieninge kommentaar gelewer op hierdie webwerf, daarom gaan ek dit nie weer in diepte doen nie. Ek het wel ’n paar skakels in die artikel gesit.
*******
NG Kerk begryp al hoe meer gay mense en hul seksualiteit | Netwerk24
Neels Jackson
20 Februarie 2022
Mense is vir God belangrik, skryf Neels Jackson.
Die Kairos Netwerk verwyt die NG Kerk se Algemene Sinode (AS) in ’n onlangse verklaring daarvan dat hy hom “sodanig aan ’n oordrewe menseregtekultuur uitverkoop dat nie meer God nie, maar die mens sentraal te staan gekom het in die NG Kerk”.
Die Kairos Netwerk bestaan volgens die jongste gegewens op sy webwerf nou uit 91 gemeentes wat gekant is teen die AS se besluite oor gay mense. Dit is net meer as 8% van die NG Kerk se gemeentes.
Dat mense – en dan mense van vlees en bloed, nie “die mens” as ’n abstrakte kategorie nie – oor die afgelope dekades veel meer in die fokusveld van die NG Kerk gekom het, is waar. Dat die kerk daardeur sy fokus op God verloor het, is nie waar nie. Veel eerder was dit die gevolg daarvan dat die kerk in hierdie tyd al hoe meer gehoorsaam aan God geword het.
[Kommentaar: Kyk Die Bybel oor ware liefde vir God.]
Dit was ’n lang proses waartydens die NG Kerk ’n groter sensitiwiteit vir mense en hul nood ontwikkel het.
Eers was daar die besef dat die teologiese regverdiging van apartheid onhoudbaar was, dat apartheid in stryd was met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en dat dit die menswaardigheid van mense aantas. In die NG Kerk het die besef gegroei van die pyn en skade wat hierdie beleid aan mense gedoen het.
Toe kom die besluit dat vroue ook ouderlinge en dominees kon word. En deur die stem wat vroue in die kerk gekry het, het die kerk begin hoor hoe vroue in ’n patriargale stelsel ly. Toe is daar in die NG Kerk maatreëls getref om die kultuur te verander sodat die kerk ’n vriendeliker plek vir vroue kon word.
Met die opkoms van missionale teologie het die kerk se oë baie meer as vroeër oopgegaan vir mense in nood, en veral ook vir nood buite die tradisionele bediening van die NG Kerk. Daar is ook besef dat die ondersteuning van mense in nood ’n kragtige getuienis van God se helende liefde is.
Saam met die ander kerke in die NG Kerkfamilie is daar as raamwerk vir die stryd teen armoede ’n Seisoen van Menswaardigheid uitgeroep. By die AS van 2013 is hierdie besluit teologies uitvoerig gemotiveer.
Daar is aangevoer dat die begrip menswaardigheid onder invloed van die Christelike geloof gegroei het.
Op die vraag “Waarin setel die mens se waarde?” antwoord die sinode onder meer met die volgende: “God ag mense so waardevol dat Hy sy Seun na hulle stuur. Sy Seun lê sy lewe af vir mense.”
Oor Jesus sê die sinode: “Sy ongekende passie vir die randfigure van die samelewing, kinders, vroue, vreemdelinge, ens, kan nie as onbelangrike inligting afgemaak word nie. Dit is egter veral sy deelnemende betrokkenheid, sy beliggaming van sy sorg en sy oorsteek van grense na mense wat deur die magtiges uitgesluit is, wat die sleutel word tot die erkenning van die evangelie se oproep tot die erkenning van alle mense as beeld van God. Hierin moet Christus nagevolg word.”
Inderdaad is die voorbeeld van Jesus ’n sleutel.
In die stryd tussen die skrifgeleerdes en Jesus is dít die een groot punt van verskil: Vir Jesus is mense en hul nood van kernbelang. Daarom genees Hy hulle selfs tot op die Sabbat.
Vir die skrifgeleerdes gaan dit egter slegs om die wet.
Hulle sou liewer dat iemand nié genees word nie, as dat die persoon op die Sabbat genees word. Jesus, lees ons in Markus 3, was bedroef oor hul verhardheid.
Die Kairos Netwerk se aanklag dat die mens sentraal staan, sou gemaklik in die skrifgeleerdes se monde gepas het terwyl hulle vir Jesus aankla. Soos die Kairos Netwerk, sou die skrifgeleerdes ook kon dink dat hulle hul vir die eer van God en sy wet beywer het.
En as daar nog twyfel is oor die sentrale plek wat mense in Jesus se bediening ingeneem met, hoef ’n mens maar net te kyk hoe Hy in Matteus 25 praat oor die eindoordeel.
“Ek was honger en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors en julle het my iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere en julle het vir My klere gegee; siek en julle het My versorg; in die tronk en julle het my besoek,” hoor diegene wat in God se koninkryk verwelkom word.
En as hulle nie weet waarvan Hy praat nie, kom die verduideliking: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
En die veroordeeldes moet hoor: “Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan my ook nie gedoen nie.”
Jesus toon aan dat gelowiges God dien juis deur hul naaste te dien. Mense is vir God belangrik. Die Kairos Netwerk maak ’n fout as hulle die fokus op mense teenoor die fokus op God plaas.
Met die groter sensitiwiteit vir mense en hul nood wat in die NG Kerk gegroei het, was dit onvermydelik dat ook gay mense se pyn al hoe meer in die kerk gehoor sou word. Soos Jesus na mense in nood se stories geluister het, so is daar in die NG Kerk al hoe meer na gay mense se stories geluister.
Daaruit het die oortuiging gegroei dat die kerk helend betrokke moet wees by gay lidmate. Dis wat Jesus sou doen.
[Kommentaar: Jesus oor homoseksualiteit.]
En die beste manier om gay gelowiges te help om gesonde, gelukkige lewens te lei, is om hulle volledig te aanvaar en hulle verhoudings te erken en te seën. Dis hieroor dat die Kairos Netwerk se ontsteltenis eintlik gaan. En dis van hierdie siening, of ten minste ruimte vir hierdie siening, dat hulle wil hê die NG Kerk moet hulle bekeer.
[Kommentaar: Kyk Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?]
Dit gaan nie gebeur nie. Daarvoor is die NG Kerk se oortuiging te diep gewortel in die evangelie en in die navolging van Christus.
So wat gaan nou gebeur? Die Kairos Netwerk voer aan dat hulle nie die NG Kerk wil skeur nie. Tog moedig hulle sinodes aan om hul bande met die AS te verbreek. En al laat die NG Kerk se Kerkorde die moontlikheid daarvoor, bly dit ’n aanmoediging tot kerkskeuring. Dit bly ’n aanslag op die eenheid van die NG Kerk.
Maar uiteindelik voer die Kairos Netwerk ’n verlore stryd. Die wiel draai en begrip vir gay mense en hul seksualiteit word meer, nie minder nie. Ook die besef dat mense inderdaad vir God belangrik is, is aan die groei.
En of daar uiteindelik ’n groepie lidmate loop of nie, die NG Kerk sal voortgaan om in gehoorsaamheid aan God meer en meer ag te slaan op mense en hul nood. En dit sluit gay mense in.
* Neels Jackson is skrywer van die boeke Jesus vir almal: Die gay gesprek in die kerk en Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad van verruiming.