Leef selibaat!

*******

Leef selibaat!

– uitdaging aan Christene in ’n seksmal wêreld.

Deur Johannes de Koning

Maandag 21 Maart 2022

By die sinode van die NGKN (NG Kerk Namibië) waartydens daar sterk standpunt teen die dwalinge van die Algemene Sinode van die NG Kerk ingeneem is, het daar ook ’n besonder positiewe en uitdagende dokument ter tafel gekom. Dis deur die sinode aanvaar as ’n werksdokument. Moet dit dus nie probeer lees as ’n afgeronde studiestuk nie, maar as ’n voorlopige poging om rigting te gee. Dit help tog nie dat ons net selfdegeslagverhoudings en promiskuïteit in die algemeen afkeur nie – ons moet ook ’n navolgingswaardige ideaal voorhou!

Hieronder vind jy die dokument soos aangebied deur Dr. De Wet Strauss :

1. Om selibaat te leef – Bondige getuienis van die Ned Geref Kerk in Namibië

1.1 Die kerk glo die plaaslike geloofsgemeenskap is die geloofsfamilie en tuiste vir veral ook persone wat hulle nie bevind in ‘n huweliksverhouding nie en selibaatskap leef.

1.2 Die kerk is oortuig dat ‘n lewe van selibaatskap vervullend en die moeite werd is vir persone wat hulle nie bevind in ‘n huweliksverhouding nie en sodoende afstand doen van die voorreg van seksuele intimiteit.

1.3 Die kerk glo dat die Skrif beide die huwelik tussen man en vrou en die gawe van enkelingskap (selibaatskap) aanbied as gawes en voorregte, en dat Paulus homself voorhou as navolgingswaardige voorbeeld wanneer hy skryf: “Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry” (1 Kor 7:7 Die Boodskap).

1.4 Die kerk glo dat die Skrif nie ‘n bepaalde lewe ten opsigte van kameraadskap en seksuele intimiteit aan persone opdring nie, maar duidelik en prakties is wanneer Paulus skryf: “Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk… Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help” (1 Kor 7:32 + 35 Die Boodskap).

1.5 Die kerk het ‘n lang geskiedenis van betekenisvolle en inspirerende bydraes in die uitleef van die evangelie deur persone wat hulle nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het.

1.6 Persone wat hulle nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het was van die begin af ‘n eerbare werklikheid in die kerk.

1.7 Die keuse om selibaat te leef, was in sekere stadiums van die kerk se geskiedenis – meer as ander – beskou as ‘n besondere uitdrukking van geloof wat getuig daarvan dat nie die biologiese familiebande nie – maar die geloofsgemeenskap van die kerk die enigste toekomstige en ewige waarborg van lewe bied.

1.8 Naas die apostel Paulus, is ook Jesus vir ons iemand wat in sy aardse lewe hom nie in ‘n huweliksverhouding bevind het nie en met toewyding selibaat geleef het, sodat ons Hom kan navolg “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Hebr 12:1-2 Afr 83).

1.9 Terwyl die kerk die evangeliese leefwyse van selibaatskap beklemtoon, wil die kerk nie ontken dat hierdie wyse van lewe sonder uitdaging en spanning is nie.

1.10 Met ‘n lewe van toewyding en selibaatskap getuig die kerk dat, alhoewel die seksuele intimiteit van die huwelik goed en besonders is, die toewyding aan ‘n lewe van geloof en navolging van Christus alles oortref in waarde en daarom vir sommige die moeite werd is om seksuele intimiteit prys te gee tydens hulle aardse lewe.

1.11 Die kerk moedig persone aan wat enkellopend is – veral ook persone wat mag aangetrokke voel tot ander van dieselfde geslag – die eerbare keuse te maak om ‘n geloofwaardige voorbeeld en inspirasie te wees wat betref ‘n lewe van selibaatskap.

1.12 Die kerk doen ‘n beroep op gemeentes en ander geloofsgemeenskappe om die Christelike gawe van selibaatskap te omhels, te vier en te fasiliteer in hulle onderskeie gemeenskappe.

My opmerkings (Johannes de Koning):

Dis duidelik dat daar in ons protestantse kerke ’n gebrek is om die belangrikheid van selibaatskap as ’n werkbare en eerbare vrywillige alternatief aan gelowiges voor te hou. Nou wonder ek maar net – is dit nie onder andere omdat ons uit oorreaksie teen Rome, te min maak van die die Heilige Maagd Maria nie? Het ons haar nagedagtenis en voorbeeld nie erg afgeskeep nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui