Persverklaring: Namibiese Sinode oor Artikel 37

Die Namibiese sinode het die volgende persverklaring uitgereik tydens hulle streeksinode van 17-19 Maart 2022.

‘n Mens is baie dankbaar vir die sterk standpunt wat ingeneem is.

Die vraag is net: aan wie is hierdie ultimatum gerig?

Dit is slegs die Algemene Sinode (AS) wat hierdie besluite kan omdraai. Die volgende AS is eers einde 2023.

Nie die moderator, Nelis Janse van Rensburg, of die Algemene Sinode Moderamen (ASM) is in die posisie om enige voornemens te maak soos wat die Namibiese sinode vereis nie.

Daarom hoop ’n mens dat die Namibiese sinode wel oor ses maande sal voortgaan met hierdie ultimatum.

Die stelling word gemaak:

“Die Sinode van Namibië vertrou dat die Algemene Sinode tot inkeer sal kom.”

‘n Mens wonder watter gronde daar is vir so ’n vooruitsig.

*******

Persverklaring in verband met Artikel 37 (19 Maart 2022)

Tydens die afgelope Sinode-sitting van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Namibië is daar besluite in verband met Artikel 37 geneem wat as volg opgesom kan word:

Die Sinode van Namibië is van oordeel dat die Algemene Sinode nie die NG-kerk met kerklike leierskap dien nie.

Die Sinode van Namibië verwys veral na die besluite wat verband hou met selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die Universiteite se Teologiese fakulteite waarmee die Algemene Sinode geassosieër is.

Die Sinode van Namibië is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die NG-kerk se Algemene Sinode te stap soos uitgespel deur Jesus in Matteus 18:15-17.

Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite te herroep nie, sal die Sinode van Namibië haar band met die Algemene Sinode losmaak in gevolge Artikel 37, wat dit as volg in die kerkorde verwoord is: “Dit staan die samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle
regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die Algemene Sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.”

Die Sinode van Namibië sal in die komende maande hulle gemeentes toelig oor en betrek by die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende besluit tot gevolg het.

Die Sinode van Namibië vertrou dat die Algemene Sinode tot inkeer sal kom.

Die Sinode van Namibië nooi ander streeksinodes uit om deel te neem aan die ontmoeting met verteenwoordigers van die Algemene Sinode in verband met hierdie saak.

(Geteken)

Ds. de Wet Strauss

Assessor van die Sinode

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui