Jesus diskrimineer nié

Nadia is ’n aktivis vir homoseksuele verhoudinge. Sy het al menige skrywes oor hierdie onderwerp die lig laat sien (kyk Wie is Nadia Marais?).

In “Jesus diskrimineer nié” hieronder, sê sy dat die NG Kerk teen die gays diskrimineer. Die argumente wat sy gebruik laat ’n mens egter wonder wat sy oor redding glo. Daarom het ek die volgende epos vir haar gestuur op 10 September 2018:

Hallo Nadia

Ek het jou artikel “Jesus diskrimineer nie” op Kerkbode gesien.

Ek weet die artikel fokus op ’n spesifieke onderwerp, maar hoe pas redding hierby in? Wat glo jy oor redding:

1. Glo jy dat daar ’n hemel en hel is?

2. Indien wel, wie besluit wie gaan waarheen? Sekerlik God, nie waar nie?

3. Op grond waarvan besluit Hy wie gaan waarheen?

4. Wat was die doel van Jesus se kruisdood en opstanding?

Sy het my nie teruggeantwoord nie.

Hier volg haar artikel met my kommentaar in [rooibruin blokhakies].

**********

Jesus diskrimineer nié | Kerkbode

3 September 2018

Nadia Marais

Jesus diskrimineer nie. Die goeie nuus van die evangelie is juis dat Christus nié diskrimineer nie.

Wanneer Jesus kán diskrimineer – teen belastingontduikers soos Saggeus, of skeptici soos Thomas, of lafaards soos Petrus, of verraaiers soos Judas; teen siekes, teen kinders, teen vroue, teen vyande – diskrimineer Jesus nié. Wanneer die diskriminasie billik, verstaanbaar, of geregverdig sou wees – soos teenoor die vrou wat egbreuk pleeg, maar vir wie Jesus nie veroordeel nie – selfs dán diskrimineer Jesus nié. Hiérdie Jesus se genade word sonder enige diskriminasie geskenk. Dit is immers presies die definisie van genade. Genade word nie verdien nie. Genade kan slégs ontvang word.

Dit is daarom nie net vreemd nie, maar ook teologies uiters riskant om ’n saak uit te maak vir ’n gekwalifiseerde vorm van kerklike diskriminasie. Ons diskrimineer byvoorbeeld deur addisionele voorwaardes, soos selibaatskap, aan gay persone te stel vir toegang tot (een van) die ampte. Al mag daar ook ánder argumente daarvoor wees, is daar geen goeie teologiese argument vir “billike” diskriminasie nie. Wat veral kommerwekkend is, is om te lees dat sommiges hulle beroep op die uitverkiesingsleer ter regverdiging hiervan. Dit is nonsens.

[Dit is nie net teen gays wat gediskrimineer word nie:

  • Drank- en dwelmverslaafdes moet breek met hierdie vernietigende verslawings.
  • Mense wat na pornografie kyk, moet ophou daarmee.
  • Mense wat ’n seksuele begeerte vir kinders het (pedofiele), moet dit met alles wat hulle het beveg.
  • Mense wat seks met diere het (bestialiteit), moet dit onmiddelik stop.
  • Rebelse kinders moet hulle ouers respekteer.
  • Moordenaars moet ophou moor.
  • Egbrekers moet getrou bly aan hulle eggenote.
  • Prostitute moet hulleself bekeer en stop daarmee.
  • Diewe moet ophou om te steel.
  • Leuenaars en bedreërs moet ophou lieg en reg lewe.
  • Geldgieriges moet ophou begeer.

Hoekom is gays vrygestel daarvan om op te hou met wat verkeerd is?]

In die NG Kerk is dit egter nie net nonsens nie. [As homoseksualteit gesien word as ’n sonde soos byvoorbeeld hierbo genoem, dan is dit nie nonsens nie.] Dit is ook gevaarlik. Hiermee is ons terug by “die swakheid van sommiges”. Presies hierdie logika het die 1857-besluit oor “die swakheid van sommiges” onderskraag, toe die nagmaal afsonderlik aan (bruin) plaaswerkers en (wit) plaaseienaars bedien is. Daar is reeds by herhaling uitgewys dat hierdie besluit – wat deur pragmatiese liewer as teologiese oorwegings gemotiveer was, en wat ’n kompromisbesluit was wat later sou verhard tot apartheidsteologie – verreikende gevolge sou inhou.

Hier sit ons immers vandag nog in aparte gereformeerde kerke, en bly ons pogings om die NG Kerk en VGK te herenig, misluk. [Hoekom word hereniging met die VGK uitgesonder? Is dit om te probeer bewys dat die NGK nie rassisties is nie? Hoekom nie ’n dryf om te herenig met die Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerk nie? En die APK? Kyk Belhar – hoekom nee?.] Ons het tot vandag toe nog nie die fout van 1857 kon regstel nie. Ons hoef nie ver te gaan soek om te sien waarheen die swakheid van sommiges ons bring nie. Diskriminasie van énige vorm – hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie – is gevaarlik in die NG Kerk. As ons nie leer uit ons verlede nie, sal ons die foute van ons verlede bly herhaal.

In die debat oor selfdegeslagverhoudings behoort ons daarom teologies paraat te wees, want hier is daar nie net sprake van een vorm van diskriminasie nie, maar inderwaarheid dubbele diskriminasie. Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ? vorm van gendergebaseerde geweld. [Let wel, “B” in “LGBTQI+” staan vir biseksueel, met ander woorde, mense wat seks met beide mans en vroue het. Dus het Nadia nie ’n probleem as mense meer as een seksmaat het nie.]

Maar daarmee saam is die tentatiewe teologiese argumente ten gunste van sogenaamd “billike” diskriminasie ook teleurstellend. In die kerk behoort ons nie te streef daarna om met soveel diskriminasie as moontlik weg te kom nie. Ook behoort ons onsself nie op die skouer te klop as ons besluite binne sekere parameters vir ’n minimum toelaatbare hoeveelheid diskriminasie val nie.

Die kerk is die gemeenskap van begenadigdes. Die basis vir ons saamwees is dat ons almal ewe min die genade verdien. So beskryf Friedrich Schleiermacher[kyk voetnota [1] hieronder] in sy dogmatiek hoe die kerk genade ontvang. Soos wat Adam die virus van sonde onder die mensdom versprei, so versprei Christus – die tweede Adam – die virus van genade, skryf hy. Niemand spring dit vry nie. In God se keuse vir Christus, in God se uitverkiesing van Christus, ontvang ook óns hierdie verkiesende genade.

Ons regverdiging van diskriminasie verraai ons verwronge greep op genade. Vir die kerk was genade nog altyd riskant. Genade kan egter nie gerantsoeneer word nie. Genade word nie op voorwaarde – selfs die voorwaardes van die kerk – geskenk nie. Genade is nie billik, of verstaanbaar, of voorspelbaar nie. Nie een van ons ontvang genade omdat ons goeie, vroom, ordentlike mense is nie. In God se verkiesende genade is almal begenadig. LGBTQI+ persone is nie mínder begenadig as heteroseksueles nie.

[Hierdie genade is inderdaad vir almal beskikbaar, met bekering as voorvereiste.

Bekering = afsterwe van ou mens en opstanding van nuwe mens. As jy nie breek met die sonde nie, dan is hierdie genade nie vir jou beskore nie.

Ek sou wou weet of Nadia glo of daar ’n hel is en wie soontoe gaan.]

Indien enigiets buite-om God se verkiesende genade – wat Christus kies, in wie elkeen van ons ook gekies is – ons red, is ons terug by die oudste versoeking vir die kerk. Die berugte ketters in die kerk se geskiedenis – soos Pelagius, vir wie goeie werke ’n rol speel in ons verlossing; en Arminius, vir wie geloof ’n rol speel in ons verkiesing – het juis aangevoer dat ons ’n hand het in ons eie verlossing. Kerklike konsilies het van die vroegste sinodesittings af beslis dat sulke variasies op die verlossingsleer dwaalleer is. Die teologiese prioriteit vir genade is by die deurslaggewende kerklike vergaderings gehandhaaf.

Dit blyk ’n uitdaging te wees om hierdie selfde teologiese prioriteit vir Godgegewe genade te handhaaf binne die debatte van ons tyd. Genade laat nie ruimte vir diskriminasie nie.

Genade beteken géén diskriminasie.

  • Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Voetnotas

[1] Nadia praat so maklik van Schleiermacher:

Schleiermacher se teologie bring ’n skeiding tussen Jesus van Nasaret en die Christus van ons geloof. Soos hy die OT afmaak as van ’n laer orde as die NT, kies hy vir Christus bó Jesus, omdat hy die opstanding uit die dood nie kan aanvaar nie, maar steeds waarde in sy boodskap kry.

George Cross skryf die volgende oorsig oor Schleiermacher se grootste werk, The Christian Faith:

In keeping with this method of construing history he dismisses the accounts of the resurrection on the ground that faith in Christ is independent of them. Hereby he exposes himself to the charge which Schweitzer (Von Reimarus zu Wrede, (1-66) had against him:

“Schleiermacher did not seek the Jesus of history but the Jesus Christ of his Glaubenslehre, that is, the historic personality who is fitted to the self-consciousness of the Redeemer which he presents. The empirical reality simply does not exist for him. . . . . Historical questions relating to the life of Jesus are for him only momenta in his dialectic.”

Cross waarsku teen die ernstige dwaling wat dit in terme van beide die regte historiese as die godsdienstige perspektief op die Here Jesus Christus vir ons geloof inhou:

The error is a serious one from the point of view of history as well as religion. Our conception of Christ and of the salvation he brought must ever submit to the test of historical research if either he or his salvation is to be a factor in the lives of men. To express the same idea, in axiomatic form, the Christ of theology must agree with the Jesus of the gospels. Nay more, that conception of salvation which is truly Christian, if Jesus of Nazareth is the founder of Christianity, must always represent such a salvation as could arise out of the deeds and words, the personal character, of Jesus. The inner certainty of a moral renewal coming to us in connection with our objective examination of the historic facts is an indispensable factor in our estimate of him, but it stands in the second rank. Otherwise we should never be. certain that the being we call our Christ is the same with Jesus of Nazareth, and we might have to seek the historical origin of our religion in another direction.

As jy nie Jesus van Nasaret in die Christus van die geloof vashou nie, as jy nie glo dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het nie, het jy geen sekerheid dat jy vergifnis van sonde in sy Naam ontvang nie, en dat jy self uit die dood sal opstaan op sy belofte nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui