Wilhelm Jordaan: Ons word doof vir verlange na eenvoud, stilte

*******

Wilhelm Jordaan: Ons word doof vir verlange na eenvoud, stilte | Netwerk24

Deur Wilhelm Jordaan

20 Julie 2016

Was vir ’n week op ’n plaas in die middel van die Karoo in die kontrei van Middelburg, Nieu-Bethesda en Graaff-Reinet. En het opnuut aan eie lyf Athol Fugard se “trilogie” van drie woorde oor die Karoo beleef. Ruimte. Tyd. Stilte.

Saam daarmee kom die bewussyn van ’n spirituele landskap waarin die altyd veranderende lig, veldgeure, berge, klippe, bossies, blommetjies, goggas, beeste, skape, wildsbokke, die helder sterrebeelde bo jou en jou eie voetstappe op ’n gruispad in die nag tot ’n byna heilige harmonie saamgevoeg word.

En jy sien dié harmonie in die manier waarop ’n trop springbokke pronk, opeens voortsnel en triomfantlik hoog die lug in spring – een oomblik deel van die aarde en in ’n volgende oomblik “drink hulle die wind” daar bo met diep teue; in ’n ewewig van hemel en aarde.

Kyk jy na die klippe wat jy met ’n kierie omdop en na die gesteentes roerloos gekoester in die winterson, verstaan jy iets van die eeue-oue herkoms van die ryk lewensverskeidenheid waaruit die mens gekom het.

Om daarmee te sê klippe en mense is van oudsher verweef. Soos Wilma Stockenström dit sê in “Die klip”: “My klip, my klip, sê my in jou stomheid / wat jy bewaar. Sê my . . . ”

Klippe, skryf sy, is “vol splinterheerlikheid” en word goed versorg daar waar hulle “wawydwakker en weerloos” lê: “Die bloukopkoggelmander / waak oor jou! Die bossies verwarm jou! / Die sand skuif ’n laken oor jou! /Die slak versier jou met silwer kettings / en die spinnekop verpleeg jou! / Ek sal weer kom.”

Om ons daaraan te herinner dat alles van die aarde, ons en die kosmos verband hou met mekaar en met die misterie van ’n Groot Geheel. Soos Olive Schreiner geskryf het in haar Karoo-roman The Story of an African Farm: “Nothing is despicable – all is meaningful; nothing is small – all is part of a whole.”

Het ek my ook verbeel dat ek in die stiltes die “diep gebrom” hoor wat deur wetenskaplikes verbind word aan ’n oerknal, 15 miljard jaar gelede? Glo “afgeluister” met ’n apparaat wat die oerknal se steeds nawerkende uitstraling registreer. Ek wil-wil dié “gebrom” God noem – dalk ’n instemmende skeppingsug waarmee die kosmos en die moontlikheid van ’n latere mensheid in aansyn geroep is. Of miskien was dit maar net die sonbesiekoor.

Vir stadsmense kom stiltebewussyn nie maklik nie. Want die geraasmakers is in veelvoud: Bulderende radio en TV, rock, rap, reggae, supersoniese vliegtuie, sidderende stampbore, die skril venyn van hoekslypers en grassnyers, dreunende swaar masjinerie, woedende bande op teer, angstige sirenes. ’n Raserny.

Sulke gerase kom van buite, maar die nog erger soort kom van binne – ’n innerlike geraas van die gees wat gevoed word deur versnellende lewenspoed en ’n diep verskuilde onvergenoegdheid oor lewensbetekenis. Juis dít maak ons doof vir die verlange na eenvoud en stilte.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui