Kerkplanting: Oplossing of ’n Suigstokkie?

Theo Danzfuss het die volgende artikel geskryf na aanleiding van die besluit van die Oostelike Sinode om ’n nuwe kerk te stig vir behoudende gemeentes.

Rapport het in Kerkplanting kan ‘teenproduktief’ wees (14 Aug 2022) hieroor verslag gedoen. Dit bevat ook kommentaar op hierdie mening.

*******

Kerkplanting: Oplossing of ’n Suigstokkie?

Deur Theo Danzfuss

14 Augustus 2022

Ons het opgewonde kennis geneem van die Oostelike Sinode se besluit om “ ’n nuwe kerk te plant” wat “onafhanklik van die Algemene Sinode funksioneer” maar steeds “in assosiasie met die NG Kerk self” sal wees. Die opgewondenheid is verstaanbaar, want baie NG lidmate en gemeentes smag lankal na ‘n manier om los te kom van enige verband met die Algemene Sinode wat voor ’n liberale Skrifhantering gebuig het . Die mooi gesindheid waarmee Oostelike Sinode na ‘n oplossing soek moet as voorbeeld dien vir ander sinodes waar respek en welwillendheid dikwels ontbreek. Maar ten spyte van hul goeie bedoeling, moet ons tog vra of die gedagte van kerkplanting regtig vir behoudendes ’n volhoubare uitkoms bied. Of is dit dalk net ’n suigstokkie om ons aandag af te lei van die stryd om ‘n artikel 37 besluit deur te kry? Kerkregtelik is Kerkorde Artikel 37 die enigste manier om met behoud van alle regte en voorregte los te kom van enige verband met die Algemene Sinode. Waarom sou ’n welwillende sinode besluit om vir behoudendes ‘n ander kerk te “plant”, maar intussen weier om ‘n eenvoudige Artikel 37 besluit te neem? Hoe verskil Artikel 37 dan van kerkplanting?

  • Waarborg van sukses? Daar is geen waarborg dat kerkplanting behoudendes sonder ernstige verliese gaan help nie. Te veel sake wat nog kan skeef loop moet eers uitgeklaar word soos byvoorbeeld die goedkeuring deur die Algemene Sinode, wysiging van die Kerkorde, die oordrag van bates na ‘n ander denominasie, die lidmate wat wil agter bly en hulle bates, ens. Daarteenoor is Artikel 37 die enigste kerkordelike pad wat reeds deur alle kanale ooreengekom en goedgekeur is wat ‘n skriftelike waarborg gee om steeds NG Kerk te bly, maar los van enige bande met die Algemene Sinode en met behoud van alle regte, bates en voorregte.
  • Tydsverloop? Enige proses wat te lank duur, werk teenproduktief en maak dat die kerk intussen versplinter. Oostelike sinode hoop om indien alles 100% glad verloop, die proses binne twee jaar af te handel. Weens verskeie kerkregtelike en regstegniese probleme is die kans groter dat dit twee of drie keer so lank sal neem. Daarteenoor kan Art 37 onmiddellik in werking tree en voor die einde van die jaar afgehandel wees.
  • Naam, identiteit en bates: Kerkplanting skuif die behoudendes uit na ‘n ander denominasie. Hulle is dan glad nie meer deel van die NG Kerk nie. Alle bates wat hulle wil behou moet deur onderhandeling verkry word en moet dan oorgedra en geregistreer word in die naam van die nuwe denominasie. Lidmate wat nie na hierdie denominasie wil oorgaan nie sal goeie regsgronde hê om aanspraak te maak op al die bestaande eiendom en regte. Uitgerekte onaangename hofsake is nie uitgesluit nie. Daarteenoor is by Artikel 37 al hierdie implikasies reeds duidelik kerkordelik bepaal.
  • Assosiasie verband: Die troos van ’n assosiatiewe verband met Oostelike Sinode klink mooi, maar beteken niks. Enige kerk kan in assosiasie met enige ander kerk tree as albei instem sonder kerkplanting. Die bewering dat dit erkenning van lidmaatskap, legitimasie en wedersydse beroepbaarheid van leraars waarborg, is misleidend. Solank Oostelike Sinode self deel bly van die Algemene Sinode, is daar geen manier om sulke ooreenkomste eensydig met ander kerke te sluit nie. Wat van NG lidmate en leraars in ander sinodale gebiede waaroor Oostelike Sinode geen jurisdiksie het nie? Nog ‘n feit wat hierdie troos op losse voet plaas, is dat ’n assosiasie ooreenkoms enige dag opgehef kan word en dat die graad van assosiatiewe verwantskap bepaal word deur die mate van ooreenstemming in leer en belydenis (Regl. 26.3.2.2). Daarteenoor is hierdie sake by Artikel 37 nie ’n probleem nie.
  • Teologiese en Kerkordelike regverdiging: Teologies en kerkordelik is planting van sinodes onhoudbaar. Paulus het gemeentes geplant, nie sinodes nie. Die Kerkorde maak ook geen voorsiening dat kerkskeuring verbloem word agter die dekmantel van kerkplanting nie. Daarteenoor is Artikel 37 slegs ’n herstrukturering van ons kerkverband.
  • Wat van die res van die kerk landwyd? Oostelike Sinode maak slegs voorsiening vir behoudendes in hul eie sinodale gebied. Gemeentes uit ander sinodale streke wat by die nuwe kerk wil inskakel, sal eers as lidmate van die NG Kerk moet bedank en al hul bates, regte en voorregte daar moet prysgee. Hulle verwissel van kerk. Daarteenoor bied artikel 37 die moontlikheid dat gemeentes in ander sinodes kan inskakel sonder om van kerk te verwissel.

Gevolgtrekking: Die vinnigste en mees kerkordelike keuse wat ’n sinode wat soek na ‘n welwillende wen-wen oplossing vir almal kan maak, is Artikel 37. Die gemeentes wat by die Algemene Sinode wil bly, kan dadelik weer daartoe terugtree. Al doen net een sinode dit, help dit om die konflik in al die sinodes tot bedaring te bring.

1 thought on “Kerkplanting: Oplossing of ’n Suigstokkie?”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui