Nuwe tydvak wink vir die herwaardering van Johannes se verstaan van Jesus

Presies wat die doel van Marius Nel se artikel is, is onseker, maar wat hieruit geneem kan word is dat Johannes waarskynlik totaal onafhanklik van die drie Sinoptiese Evangelies geskryf is, wat die Nuwe Testament meer integriteit gee.

*******

Nuwe tydvak wink vir die herwaardering van Johannes se verstaan van Jesus | Kerkbode

Marius Nel

13 Julie 2022

In die navorsing oor die vier Evangelies is daar reeds in die negentiende eeu daarop gewys dat daar groot verskille tussen die Johannesevangelie en die ander drie Evangelies is.

So vermeld Johannes geen van Jesus se gelykenisse, die instelling van die nagmaal of sy verheerliking nie.

Op sy beurt vermeld net Johannes dat Jesus die dissipels se voete gewas het, sy reeks van Ek is-uitsprake en dat Jesus vir Jerusalem meer as een keer besoek het. Vanweë die ooreenkomste tussen Matteus, Lukas en Markus word hulle die Sinoptiese Evangelies genoem na aanleiding van die Grieks vir om iets saam te beskou.

Vanweë die Johannesevangelie se verskille met die Sinoptiese Evangelies is die historiese betroubaarheid daarvan bevraagteken en is rekonstruksies van die historiese Jesus onderneem sonder om dit in ag te neem.

Johannes is verder as ’n unieke teologiese interpretasie van Jesus se lewe gesien omdat aanvaar is dat die skrywer daarvan nie die ander Evangelies onder oë gehad het met die skryf van syne nie.

Die siening is egter oor die laaste dekade toenemend bevraagteken. Dit is byvoorbeeld opvallend dat Johannes se geografiese gegewens besonder akkuraat is wat die bewering dat dit nie in betroubare historiese gegewens belangstel nie uitdaag.

Dit is ook ’n vraag of die skrywer daarvan geen kennis van die Sinoptiese Evangelies gehad het nie. Tot op hede is die verhouding tussen Johannes en die Sinoptiese Evangelies op dieselfde wyse benader as die verhouding tussen die drie Sinoptiese Evangelies onderling.

Omdat Matteus en Lukas vir Markus as geskrewe bron benut het, is gevra of Johannes die Sinoptiese Evangelies as geskrewe bronne benut het. Omdat dit onwaarskynlik is in die lig van die verskille tussen hulle, is aanvaar dat hy daarom hoegenaamd niks van hulle geweet het nie. Daar is egter aanduidings dat hy wel van hulle bewus was, en dat hy met hulle in gesprek tree wanneer hy sy Evangelie skryf. Dit sou immers vreemd wees as hy ongeveer drie dekades na die skryf van Markus nooit enige aanhalings daarvan gehoor het nie.

Om dié rede word toenemend gevra of Johannes se blik op Jesus nie eerder een is wat die weergawes van die Sinoptiese Evangelies aanvul en moontlike misverstande regstel, as wat dit ’n volledig eiesoortige een is nie. Die presiese wyse waarop hy dit doen vra om noukeurige navorsing en daarom wag daar ’n nuwe opwindende tydvak vir die herwaardering van Johannes se verstaan van Jesus.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui