Cas Wepener: Korsie en kruim

In die artikel hieronder maak Cas Wepener weer ’n saak uit vir ’n ruim huis, ’n kerk waarin verskillende sieninge welkom is. Hy gaan selfs so ver om te sê dat Jesus hierdie selfde uitgangspunt gehad het toe hy saam met sondaars geëet het. Ons weet egter dat hierdie uitreike na sondaars sendinggeleenhede en oproepe tot bekering was en nie om hierdie mense se dade goed te keur nie. Jesus sê in Johannes 8 vir die vrou wat op owerspel betrap is: “…moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Kyk ook Jesus ’n vriend van tollenaars en sondaars – en gays? (Jan Louw).

*******

Cas Wepener: Korsie en kruim | Kerkbode

Cas Wepener

23 Augustus 2022

Kruim. Daardie sagte binnekant van ’n brood.

Korsie. Die harder rand weerskante van die kruim.

Wanneer ’n brood vars uit die oond kom, is daar enkelinge wat dadelik vir die korsie vra. Die meerderheid mik egter vir die stomende kruim waarin botter wegsmelt. Brood is nie brood sonder korsies nie, maar soms, soos nou, ’n tyd waarin net twee harde korsietjies ’n groot lawaai maak, kan die kerk en wêreld doen met ’n herwaardering van die kruim.

Kruim is sagter as korsie, soepeler en ’n speelruimte vir die kreatiwiteit van suurdeeg. Dit wil voorkom asof kruim vergete is en ons in die tyd van die korsie leef. ’n Tyd waarin net twee dun maar harde korsietjies grense probeer afdwing op die kruim. Korsies maak ook ’n moewiese lawaai terwyl dit die kruim keer en vermaan en na hulle kante probeer oorwen, al is daar net tweetjies weerskante van baie kruim. Weerskante, ja. Ver aan die een kant en ver na die ander kant en hard, soos ’n fondament of ’n monument. Indien Korsie ’n van was en ’n heraldiese wapen moet hê, sal die leuse onder die wapen lui: “Hy wat vir niks staan nie, sal vir alles val.” Die veel groter Kruim-familie se leuse lui weer: “Hy het geval, daarom dat ons sagter staan.”

En tog, tog weet ons dat ons die korsies nie moet afsny en weggooi nie. Kyk maar net na Jesus se tafelmaniere en hoe Hy brood benader het. Hy het dit by uitstek gebreek saam met die sagte weerlose kruim – die armes, kreupeles, blindes en verlamdes en skares gewone mense, maar wel ook met die Fariseërs, die harder korsies wat onwrikbaar vir iets gestaan en dus vir niks geval het nie. Ook nie vir Hom nie.

In haar nuwe boek Sunday’s sermon for Monday’s world vertel die teoloog van Princeton, Sally Brown, van ’n “gay pride” parade wat op ’n warm dag in ’n straat tussen twee kerke verby beweeg het. Soos die lot dit beskik het, was die kerk aan die een kant van die straat erg konserwatief gegewe selfdegeslagverhoudings en die een aan die ander kant liberaal. Die konserwatiewes het met plakkate gestaan en slagspreuke geskreeu en die liberales het bottels water en lemoene wat in kwarte gesny is aan die optoggangers uitgedeel. Die een groep se vertoon duidelik links en die ander duidelik regs. In die loop van die oggend het ’n vrou by die liberale gemeente gesien dat haar protesterende konserwatiewe susters en broers nie water gebring het nie en dat die sweet hulle aftap. Sy het ’n skinkbord geneem, dit vol waterbottels en lemoene gelaai en het daarmee die straat na hulle oorgesteek.

Daardie vrou het kruim beliggaam, nie korsie nie. Die moeilike middeweg. Dit is nie draadsit nie. Dit is ’n posisie. ’n Sagte posisie. By uitstek ’n dapper posisie. Een met ruimte. Met ’n profetiese verbeelding van wat kan wees en stil soos suurdeeg versprei. In ons eie dag is dit die moeiliker posisie, die stiller een buite die kalklig. Sulke kruim mense is sakramentele mense. En sakrament is in die woorde van David Power “the language of God’s giving”.

Ek het nog min korsies op die silwerborde op NG nagmaaltafels gesien, dit is gewoonlik klein blokkies kruim. Daardie blokkies kruim herinner ons in ’n tyd van populisme, ekstremisme en fundamentalisme aan die sagte binnekant van brood. Jesus het gesê, “Ek is die brood van die lewe” en daardie brood is “vir jou” – vir kruim én korsie.

Mag ons tussen die harde wande van slegs twee dun harde korsies, nie die voedsame kruim tussen die korsies vergeet nie. In ons dag het ons by uitstek kruim nodig – dapper mense wat nie slegs twee letters in die groot alfabet van die teologie lawaaierig verhef tot alfa en omega nie, maar weet dat ons die volle alfabet nodig het om deur die Alfa en Omega in die waarheid gelei te word.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

1 thought on “Cas Wepener: Korsie en kruim”

  1. Interessant dat die Prof. (om sy “brood vergelyking” te gebruik) dit mis dat die korsie gelouter is en die kruim nie. Dis ook die korsie wat die kruim bymekaar hou. Om ’n helpende hand na sondige mense uit te steek is op sigself nie verkeerd nie, ons is almal sondaars. Om sondige mense nie op hul sondes te wys nie en hulle in hul gehoor te streel, is liefdeloos en bring dwaling mee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui