Kyk KOMMENTAAR onderaan.
*******
André van Niekerk: ‘Wat sê die Bybel?’ is nie ’n eenvoudige vraag | Netwerk24
André van Niekerk
29 Oktober 2022
Sola scriptura – die Bybel alleen – is een van die basiese leerstellings van die Reformasie. Ons moet oop wees vir God se dieper lig en daarom tydsaam en diepsinnig fokus op Jesus as die hart van die Bybel, skryf André van Niekerk.
Jare lank het die monnik en dosent Martin Luther oor sy geloof geworstel. “Waar vind ek ’n genadige God?” was sy leidende vraag.
In gedeeltes soos Romeine 1 ontdek hy God se vreemde genade in Christus. Lidmate se vertelling dat hulle vrede en vergifnis van die kerk deur ’n aflaatstelsel wou koop, ontstel hom hewig. Om ’n openbare gesprek oor die saak en ander misbruike aan die gang te kry, nael hy op 31 Oktober 1517 – soos die gebruik destyds was – 95 stellinge as gespreksagenda aan die universiteitsdorp Wittenberg se kerkdeur vas. Luther se vasspyker van stellinge het die ikoon van die kerklike Hervorming geword.
Eerskomende Maandag vier ons die 505de herdenking van dié Hervorming. Soos die gepaardgaande kulturele hervorming in die Renaissance ’n terugkeer bo-oor die Middeleeue na die ou Romeinse en Griekse kuns- en kultuurbronne was, was die protestantse kerkhervorming ook so ’n terugsprong bo-oor kerklike tradisies en ontsporinge na die Bybel as bron.
Om voortdurend na die Bybel terug te gaan en waar nodig te hervorm, het ’n kenmerk van gereformeerde kerke in die groot protestantse kerkfamilie geword. Hervormings soos van die afgelope dekades oor vroue wat nie langer kerkhoede hoef te dra nie; kinders wat die nagmaal saam mag vier; gemeentelidmaatskap wat vir mense van alle rasse oop is; dominees wat ophou domineer en eerder diensknegte geword het; die hervorming van die verbod op vroue as predikante; en die besluit dat gemeentes self “deur Woord en Gees” moet onderskei hoe hulle selfdegeslagverhoudinge kan hanteer, het egter telkens opskuddings en selfs kerkskeurings meegebring. [Kommentaar: Om die sonde van homoseksualiteit sommer saam onder dieselfde kam te skeer as kulturele gebruike in die verlede, is oneerlik.]
Kreatiewe spanninge en vertolkings
Indien ons die Hervorming se voorbeeld behoorlik volg, behoort ons nie net na die beweging se leiersfigure, besluite of belydenisskrifte terug te gryp nie, maar opnuut na die Bybelbronne self. Sedert die Hervorming het die Gees van die Here immers voortgegaan om ons te inspireer en kan ons selfs duideliker as 505 jaar gelede sien die Bybel is ryk aan kreatiewe spanninge en interpretasies oor God en sy wil:
• Die Joodse vergeldingsgeloof van “as jy aan God gehoorsaam is, sal Hy jou seën, maar as jy ongehoorsaam is, sal jy Hy jou straf”, wat so dikwels in gedeeltes soos 1 en 2 Konings, 1 en 2 Samuel, Deuteronomium, Psalms en Spreuke verkondig word, word deur ander Bybelboeke teengestaan. Job spyker aan die godsdiensdeure van sy teologiese vriende sy beswaar vas dat sy pynlike verliese in die lewe God se straf op sy onbekende oortredinge sou wees. Prediker verduidelik hoe fyn hy waargeneem het dat getroue gelowiges soos ander mense tye van bitter swaarkry beleef.
• Daar is boeke soos Esra en Nehemia wat die suiwerheid van die geloofsgemeenskap beklemtoon en selfs by Joodse mans aanbeveel om van hul nie-Joodse (“heidense”) vroue te skei. Maar die boek Rut vertel van ’n Moabitiese vrou wie se lojaliteit aan haar skoonma vir ons ’n model geword het en dat God juis haar as voormoeder vir Dawid en Jesus gekies het. Ook Jona en Maleagi is teen die eksklusiwiteit.
• Die profete bring telkens nuwe perspektiewe oor God en sy wil in ’n bepaalde tyd en staan dikwels teenoor die prioriteite van die priesters oor die bring van offers en godsdienswette.
Wees oop vir dieper lig
Die beslissende vraag in elke geloofsdebat kan daarom nie net wees “wat sê die Bybel?” nie, want die Bybel praat verskillend en elkeen kies dan net dit wat sy/haar se eie gevoelens, belange en behoeftes die beste pas.
’n Geloofwaardiger moontlikheid is om oop te wees vir God se dieper lig – soos ’n goeie landskapfotograaf wat kies om eerder met ’n kleiner lensopening en daarom ook stadiger sluiterspoed die lig op sy kamera te laat inval. Daarvoor het mens die stabiliteit nodig wat ’n kameradriepoot gee. Dit is meer moeite – soos om ’n langer denkroete te neem (dink byvoorbeeld aan Daniel Kahnemann se Thinking, Fast and Slow). Die groot wins is dat jy ’n dieper veld van fokus in beeld kry.
Kerkmense is geneig om met ’n groot lensopening kitsfoto’s van God se wil te neem met alles in die Bybel wat op die voorgrond ewe belangrik sou wees. Ons moet eerder meer moeite doen en alles deur die hart van die Bybel, Jesus, beskou. Hy is die helderste lig op God. Ons behoort tydsaam en diepsinnig met die hulp van ’n stilstander ’n dieper veld van fokus op Hom te kry wat sy eie merkwaardige hervormingslewe, sy verkondiging van God se groot alternatief (koninkryk), sy dood en sy voortgaande lewe by God insluit.
Jesus is immers nie ’n draadsitter wat alles vir almal wil wees nie, maar kies met (dodelike!) gevolge die Ou-Testamentiese perspektiewe wat God se genadige andersheid beklemtoon:
• Jesus beskou die armes, blindes en ander swaarkry-mense van sy tyd nie as “gestrafdes van God” weens hul ongehoorsaamheid aan God nie, maar hy noem hulle eerder “geseëndes van God” – mense by wie God medelydend as hemelse Vader betrokke is.
• Die buitelandse Samaritaan wat vir ’n medemens omgee, is volgens Jesus soos ’n Rut van vroeër ’n waardiger kanaal van God se goedheid as selfs die Joodse priester en godsdienstige Leviet.
• Daar is nie ’n redelike balans tussen God se geregtigheidseis en sy genade soos ons dit in geloofsgeskrifte op logiese wyse wil verduidelik nie. Keer ons na die hart van die Bybel terug, vind ons eerder ’n ongemaklike en menslik gesproke skeefgetrekte eensydigheid van God se onvoorwaardelike aanvaarding. Jesus verbeeld dit onder andere in sy verhaal oor die verlore seuns. Hoofsaak is nie dat die seun wat sy vader verneder het sy skuld en nuwe voornemens moet bely nie, maar uit die vergewende liefde van sy pa sal leef.
• Wanneer Jesus teen blote wetsgehoorsaamheid vir groter geregtigheid en die diepere bedoeling van die Ou-Testamentiese wette pleit, kies hy soos die profete dat die perspektief op God voorrang het bo godsdienstige prioriteite van ouds.
Om vir ons tyd se onsekerhede meer l(L)ig te ontvang, kan ons soos die 16de-eeuse kerkhervormers terug na die Bybelbronne en die hart van die Bybel gaan. Dié lig kan ons voorlopig en gedeeltelik ontvang mits ons dit diepkykend, stadig en met die stabiliteit van die Gees en mekaar ontsluit.
* Van Niekerk is ’n predikant in Pretoria. Menings in dié artikel weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Kommentaar
Daniel Louw
Die Bybel is oor die algemeen baie duidelik. Dit raak slegs moeilik as dit nie met die heersende kulturele sieninge ooreenstem nie. Om die Bybel iets te laat sê wat dit nie sê, sal altyd moeilik wees.
Dit is absoluut so dat ons die Bybel deur die hart van Jesus moet beskou, maar miskien moet Van Niekerk ook gaan kyk wat Jesus hier alles gesê het: Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade