Kyk ook:
*******
‘Het sinode ’n onding geskep?’ | Netwerk24
6 Maart 2015
As daar nie eenstemmigheid oor ’n saak verkry word nie, moet die meerderheid besluit en die res moet bloot konformeer of bewys dat die meerderheid se besluit verkeerd was, meen hy.
Emeritus prof Dries du Plooy
Het die pad wat die algemene sinode ingeslaan het “ ’n onding” geskep “wat kerke in die toekoms nog seer gaan byt”?
Met die besluit om ’n spesiale sinode oor die vrou in die amp te hou, lyk dit of die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se algemene sinode ’n “sinodokrasie” skep, skryf emeritus prof. Koos Vorster in die jongste Kerkblad.
Hy sê ’n sinodokrasie ontstaan wanneer die sinode “funksioneer as ’n oppergesag” wat strydig met die kerkorde allerlei nuwe strukture skep en opdragte daaraan gee.
Hy meen só word die kerkraad en mindere vergaderings se gesag ondergrawe.
Emeritus prof. Dries du Plooy, voormalige dekaan van die fakulteit teologie aan die Noordwes-Universiteit, het geskryf daar word duidelik wegbeweeg van die gereformeerde wyse van kerkregering na ’n “meer kollegialistiese” wyse van kerkregering en besluitneming.
As daar nie eenstemmigheid oor ’n saak verkry word nie, moet die meerderheid besluit en die res moet bloot konformeer of bewys dat die meerderheid se besluit verkeerd was, meen hy. Dit is volgens hom die “normale, doeltreffende en gereformeerde wyse van kerkregering”.
“Vrees vir moontlike verskille oor sake is egter nie ’n rede vir ’n nuwe, ongeldige wyse van kerkregering nie.”
Vyandskap of skeuring is ook nie nodig nie, het Du Plooy geskryf.
Die skrywes kom nadat die algemene sinode in Januarie in Potchefstroom besluit het die jare lange stryd oor of vroue ouderlinge en predikante in dié kerk kan wees ’n wesenlike saak is en na ’n spesiale sinode in Julie verwys moet word.