Lesse te leer uit Bernie Madoff se bedrog

Lesse te leer uit Bernie Madoff se bedrog

Die dokumentêr, Madoff: The monster of Wall Street, het onlangs op Netflix begin wys. Dit gaan oor ‘n beleggingsbestuurder, Bernie Madoff, wat ongeveer 40000 mense oor ‘n tydperk van ten minste 4 dekades bedrieg het met ‘n Ponziskema en eers uitgevang is toe die Amerikaanse aandelemark op 29 September 2008 geval het toe die huismark in Amerika in duie gestort het.

In 1960 stig Bernie Madoff die beleggingsfirma “Bernard L. Madoff Investment Securities”. Sy besigheid het twee afdelings:

  1. Aandelemakelary (wettige gedeelte)
  2. Batebestuur (onwettige Ponziskema)

‘n Ponziskema werk baie soos ‘n piramideskema – solank daar gedurig nuwe lede aansluit om geld tot die skema by te dra, is daar genoeg geld om almal te betaal wat onttrekkings uit die fonds maak. Die winste wat verklaar word is heelwat hoër as die werklikheid om so nog beleggers te trek.

Gewoonlik stort so ‘n skema in duie wanneer daar meer onttrekkingsaansoeke is as wat daar geld in die fonds beskikbaar is.

In Madoff se geval word geen van die inkomende fondse belê nie. Dus is daar geen werklike winste nie.

Danksy innoverende rekenaartegnologie word die aandelemakelary (wettige gedeelte) so suksesvol dat hy vinnig naam maak in Wall Street. In die 1980s verhandel Madoff ongeveer 5% van die totale volumes van die New York se aandelebeurs en in 1990 verhoog dit tot ongeveer 9%. Hy stop egter nooit die Ponziskema nie. Dit bring vir hom ‘n baie goeie reputasie.

Madoff se Ponziskema rapporteer klokslag winste van ongeveer 15% elke jaar. Weens hierdie goeie resultate bly die Ponziskema groei.

Voor Madoff se ondergang word hy oor ‘n periode van 16 jaar (1992-2008) ten minste agt keer ondersoek deur die SEC (US Securities and Exchange Commission) en ander regulerende owerhede. Die volgende is voorbeelde:

  • In 1999 besef die finansiële ontleder, Harry Markopolos, dat Madoff se resultate onrealisties is. Markopolos maak dit sy lewensmissie om Madoff uit te vang. Alhoewel hy die SEC (US Securities and Exchange Commission) in 2000, 2001 en 2005 amptelik inlig oor sy vermoede dat alles nie pluis is nie, neem die SEC dit nooit baie ernstig op nie weens Madoff se goeie reputasie.
  • Op 1 Mei 2001 publiseer Michael Ocrant, hoofredakteur van MARHedge (‘n halfmaandelikse finansiële nuusbrief) sy artikel “Madoff tops charts; skeptics ask how” waarin hy ook sy bedenkinge lig oor Madoff se verskansingsfonds.
  • ‘n Week later, op 7 Mei 2001, word Erin Arvedlund se artikel “Don’t Ask, don’t Tell” in Barron’s gepubliseer waarin sy sê dat Madoff se fonds uitsonderlik doen, maar niemand kan dit verklaar nie en dat dit klaarblyklik ‘n geheim is.

Ten spyte van al hierdie pogings, word Madoff nooit behoorlik ondersoek nie.

Hy word eers uitgevang ná die ineenstorting van die Amerikaanse huismark op 29 September 2008. Die fliek The Big Short handel hieroor. (Die SEC het ook versuim om die huismark te kontroleer wat veroorsaak het dat banke te maklik geld aan huiskopers geleen het.) Na hierdie ineenstorting onttrek baie beleggers hulle geld uit die aandelemark. Dit geld ook vir Madoff se kliënte wat $7 miljard se onttrekkings versoek. Daar is egter slegs $234 miljoen in die Ponziskema. Die skynbare fondswaarde staan op $64.8 miljard. Die totale fondse ontvang van beleggers oor meer as 40 jaar staan op ongeveer $19 miljard.

Let daarop dat toe Harry Markopolos die SEC vir die eerste keer in 2000 ingelig het oor sy vermoede dat daar bedrog plaasvind, was die skynbare waarde van die Ponziskema slegs $3-6 miljard.

In Desember 2008 bars die bom: Op 10 Desember erken Bernie Madoff aan sy seuns wat hy gedoen het en die volgende dag gee hy homself oor aan die owerhede.

In totaal is 40000 mense in 125 lande oor ten minste vier dekades geraak deur hierdie bedrog.

Om slagoffers te probeer vergoed, is almal wat voordeel getrek het uit die belegging gedagvaar om hulle winste terug te betaal. Byvoorbeeld, indien ‘n persoon $100000 in die jaar 2000 belê het en hy het ‘n gemiddelde groeikoers van 15% per jaar gekry, sou hy na vyf jaar $210718 gehad het. Veronderstel hy onttrek sy geld en koop vir hom ‘n huis daarvan. In 2009 sou hy gedagvaar word vir $110718 (of selfs meer) om aan ander slagoffers te betaal.

Met blouboordjiemisdaad word die liggame voor die ondersoek verwyder. Met witboordjiemisdaad word die liggame na die ondersoek verwyder. En hierdie geval was ook nie ‘n uitsondering nie. Die volgende mense is dood as direkte of indirekte gevolg van hierdie misdaad:

  • 22 Desember 2008: Thierry Magon de La Villehuchet (65) pleeg selfmoord.
  • 11 Junie 2009: William Foxton (65) pleeg selfmoord.
  • Oktober 2009: Jeffry Picower (67) word dood in sy swembad aangetref. Die nadoodse ondersoek bevind dat hy ‘n hartaanval gehad het en toe verdrink het.
  • 11 Desember 2010: Mark Madoff, Bernie se seun, pleeg selfmoord, presies twee jaar nadat sy pa in hegtenis geneem is.
  • 3 September 2014: Andrew Madoff, Bernie se seun, sterf. Hy is in 2003 gediagnoseer met kanker. Dit het in remissie gegaan, maar in 2011 het dit weer teruggekom.
  • 27 Maart 2017: Charles Murphy (56) pleeg selfmoord.
  • 17 Februarie 2022: Madoff se suster, Sondra Weiner (87), en haar man, Marvin (90), word albei dood gevind met koeëlwonde in hul huis in Boynton Beach, Florida. Die polisie bestempel dit as ‘n moontlike moord-selfmoord.

Les

Hierdie insident wys wat is die gevolg wanneer mense in beheer/owerhede/reguleerders nie ernstig genoeg is oor verkeerdhede nie.

Dit stel wat Dietrich Bonhoeffer gesê, in perspektief:

Om stil te bly in die aangesig van die bose is self boos; God sal ons nie onskuldig verklaar nie. Om nie te praat nie, ís om te praat. Om nie op te tree nie, ís om op te tree.

In Madoff se geval was die finansiële reguleerders keer op keer ingelig, maar hulle was nie ernstig genoeg nie. Die ergste is dat hulle halfhartige pogings om Madoff te ondersoek daartoe gelei het dat beleggers meer vertroue in Madoff gekry het (omdat die reguleerders mos niks fout gekry het nie) en daarom net nog meer in sy Ponziskema belê het. Dus het die reguleerders se halfhartigheid die tragedie vererger.

Sou die SEC reeds in 2000 vir Harry Markopolos ernstig opgeneem het, sou die skade nie naastenby so groot gewees het nie. Miskien sou ‘n mens dit selfs heeltemal kon omkeer.

‘n Mens sien hierdie op soveel fasette in die lewe gebeur:

Nazis

Toe Hitler begin naam maak het, was mense blind vir sy kriminele oortredings en sy haat vir die Jode omdat hulle gevoel het dat hy die Duitse volk weer in ere sou herstel. Die teendeel het gebeur.

Veiligheid by maatskappye

Wanneer daar vir ‘n lang ruk geen veiligheidsinsidente by ‘n maatskappy was nie, is werknemers geneig om laks te word. Wanneer daar dan wel ‘n insident gebeur, moet ‘n mens dikwels erken dat daar tekens was voor die tyd wat geïgnoreer was.

Suid-Afrikaanse regering

Toe die ANC in 1994 aan bewind gekom het, het daar geleidelik meer en meer tekens van korrupsie en wanbestuur gewys. Die mense aan bewind het dit egter ignoreer en onbewustelik ‘n boodskap uitgestuur dat daar niks aan jou gedoen sal word wanneer jy korrupsie pleeg nie. Nou bevind Suid-Afrika en Eskom homself in ‘n onomkeerbare posisie. Net tyd sal leer waar alles gaan eindig.

NG Kerk

Toe Ben du Toit se boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd, in 2000 die Andrew Murrayprys gekry het, was dit ‘n duidelike teken dat die NG Kerk op die verkeerde pad was. Instede daarvan dat Ben onder tug geplaas is, het hy ‘n hoër posisie in die kerk gekry. Sedertdien was daar baie Harry Markopolosse in die NG Kerk wat geïgnoreer is (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap). Die meeste predikante in die kerk was te passief om iets aan die saak te doen en dit het ‘n onbewustelike boodskap aan lidmate gestuur dat daar niks ernstig fout is in die NG Kerk nie. Nou, in 2023 het die NG Kerk waarskynlik, soos met Eskom, op ‘n plek gekom waar dit nie meer omgekeer kan word nie. Die NG Kerk gaan hoogs waarskynlik skeur.

Mag dit vir ons almal ‘n les wees…

*******

Bylaag A: Tydlyn van Madoff bedrog

Hier volg ‘n eenvoudige tydlyn van gebeure van die Madoff bedrog:

29 April 1938

Bernie Madoff word gebore.

1960

Madoff stig die beleggingsfirma Bernard L. Madoff Investment Securities.

Die firma bestaan uit twee afdelings:

1. Aandelemakelary (wettige gedeelte)

2. Batebestuur (onwettige Ponziskema)

1982

Madoff begin ‘n nuwe strategie vir sy beleggingsonderneming. In 1992 sê hy aan The Wall Street Journal die strategie laat beleggers toe om aan ‘n opwaartse markbeweging deel te neem terwyl hulle beperkte afwaartse risiko het.

1990

Volgens Madoff het hy die Ponziskema eers in 1990 begin het. Daar word egter vermoed dat hy dit alreeds vroeër begin het.

???

Madoff skuif sy besigheid na die Lipstick Building in Manhattan. Hy beset die 17de, 18de en 19de vloere. Die Ponziskema word op die 17de vloer bedryf.

Mei 1999

Finansiële ontleder, Harry Markopolos, word deur sy werkgewer, Frank Casey, getaak om ‘n beleggingskema te ontwerp wat met Madoff se skema kan kompeteer. Binne vyf minute besef Markopolos dat Madoff se syfers nie statisties moontlik is nie. Geen fonds kan konstant met 1-2% per maand (~15% per jaar) styg sonder enige wesenlike verliese nie. Hy lig die SEC (Securities and Exchange Commission) in oor sy vermoede dat alles nie pluis is met die Madoff verskansingsfonds nie, maar hulle ignoreer hom. Op 2 Maart 2010 sou hy die boek No One Would Listen publiseer wat die storie vertel.

Mei 2000

Harry Markopolos, kontak weer die SEC oor Madoff se fonds, maar word weer geïgnoreer. Op hierdie stadium is die skynbare fondswaarde slegs $3-6 miljard.

1 Mei 2001

Michael Ocrant, hoofredakteur van MARHedge (‘n halfmaandelikse finansiële nuusbrief) skryf die artikel “Madoff tops charts; skeptics ask how” waarin hy ook sy bedenkinge gee oor Madoff se verskansingsfonds.

7 Mei 2001

Erin Arvedlund se artikel “Don’t Ask, don’t Tell” verskyn in Barron’s waarin sy sê dat Madoff se fonds uitsonderlik doen, maar niemand kan dit verklaar nie en dat dit klaarblyklik ‘n geheim is. Sy gebruik die woorde: “Bernie Madoff is so secretive, he even asks his investors to keep mum”.

Skynbare fondswaarde = $6-7 milard.

Desember 2001

Harry Markopolos, kontak weer die SEC, maar word weer geïgnoreer. Skynbare fondswaarde = $36.8 miljard.

???

Die SEC stuur twee jong ouditeurs, pas uit universiteit, om Madoff te ondersoek. Madoff tree heeltemal buite protokol op en sit vir die twee ore aan. Hulle eindig hulle ondersoek sonder dat hulle enigiets wys word.

Die feit dat die SEC vir Madoff ondersoek het en niks gekry het nie, gee beleggers meer vertroue in Madoff en nuwe beleggers stroom in.

Januarie 2005

Skynbare fondswaarde = $45.2 miljard

7 November 2005

Harry Markopolos stuur ‘n 19-bladsy memorandum met die titel “The World’s Largest Hedge Fund is a Fraud” aan die SEC. Hy lig 29 rooi vlae uit. Hulle ignoreer dit weer.

Januarie 2006

Skynbare fondswaarde = $48.6 miljard

Desember 2007

Skynbare fondswaarde = $69 miljard

???

Madoff gaan besoek die SEC op sy eie en vra hulle wat hulle van hom wil sien. Hulle vra sy rekeningnommer sodat hulle kan bevestig of die transaksies wat hy verklaar het, werklik plaasgevind het (hulle sou dit op ‘n sentrale databasis kon nagaan). Hy gee hulle die nommer. Die SEC kontroleer dit egter nooit nie.

29 September 2008

Die SEC het nie net versuim om Bernie Madoff te ondersoek nie; hulle het ook versuim om die huismark te kontroleer. Hierdie nalatigheid het veroorsaak dat banke te maklik geld aan huiskopers geleen het. Dit laat die Amerikaanse aandele beurs op 29 September 2008 val met 777.68 punte, die grootste enkele val in die geskiedenis. Die fliek The Big Short handel hieroor.

Al hoe meer mense onttrek hulle geld uit die aandelebeurs, ook uit Madoff se fonds.

Desember 2008

Madoff se kliënte vra $7 miljard se onttrekkings aan, maar daar is slegs $234 miljoen in die fonds.

Madoff erken aan sy seuns dat die bedrywighede op die 17de vloer ‘n groot Ponziskema is. Sy skatting is dat die skynbare fondswaarde $50 miljard is. In werklikheid is die skynbare fondswaarde ‘n massiewe $64.8 miljard. Die totale fondse ontvang van beleggers is $19 miljard.

Op 10 Desember vertel Madoff se seuns aan die owerhede dat hulle pa hulle vertel het dat hy ‘n Ponziskema bedryf het.

11 Desember 2008

Madoff gee homself oor aan die owerhede.

29 Junie 2009

Madoff word tot 150 jaar tronkstraf gevonnis.

29 Julie 2009

Madoff vertel aan ‘n prokureur dat hy verbaas was dat hy so lank daarmee weggekom het. Hy het verskeie kere toe hy met SEC-amptenare ontmoet het gedink: “nou het hulle my”.

16 Februarie 2011

Madoff vertel sy biograaf dat banke geweet het hy pleeg bedrog, maar hulle het verkies om niks daaraan te doen nie.

14 April 2021

Bernie Madoff sterf op 82 jarige ouderdom in die tronk.

Mense dood

Die volgende mense sterf as direkte of indirekte gevolg van Madoff se bedrog:

  • 22 Desember 2008: Thierry Magon de La Villehuchet (65) pleeg selfmoord.
  • 11 Junie 2009: William Foxton (65) pleeg selfmoord.
  • Oktober 2009: Jeffry Picower (67) word dood in sy swembad aangetref. Die nadoodse ondersoek bevind dat hy ‘n hartaanval gehad het en toe verdrink het.
  • 11 Desember 2010: Mark Madoff, Bernie se seun, pleeg selfmoord, presies twee jaar nadat sy pa in hegtenis geneem is.
  • 3 September 2014: Andrew Madoff, Bernie se seun, sterf. Hy is in 2003 gediagnoseer met kanker, maar in 2011 het dit
  • 27 Maart 2017: Charles Murphy (56) pleeg selfmoord.
  • 17 Februarie 2022: Madoff se suster, Sondra Weiner (87), en haar man, Marvin (90), word albei dood gevind met koeëlwonde in hul huis in Boynton Beach, Florida. Die polisie bestempel dit as ‘n moontlike moord-selfmoord.

Bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui