Ná 90 jaar praat Bybel steeds Afrikaans, al klink dit anders

*******

Ná 90 jaar praat Bybel steeds Afrikaans, al klink dit anders | Netwerk24

Erika de Beer

24 Augustus 2023

Dis ’n brabbeltaal, kombuistaal en stompstert-Nederlands genoem, maar nege dekades ná die verskyning van die eerste vertaling praat die Bybel steeds Afrikaans, berig Erika de Beer.

Al in 1872 het Arnoldus Pannevis in De Zuid-Afrikaan op ’n Bybel in Afrikaans aangedring – wat eers 61 jaar later ’n werklikheid geword het.

Die destydse Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het Afrikaans as ’n “brabbeltaal” beskou.

Nadat die Genootskap van Regte Afrikaners ds. S.J. du Toit, Totius se pa, in 1885 opdrag gegee het om die Bybel te vertaal, het ’n briefskrywer in Die Patriot gekla daar is geen beter manier om Engels te bevorder as om “in het walglyk patriotische taal van jy, jou en hom” te praat en te skryf nie.

Die eerste amptelike goedkeuring vir ’n Afrikaanse vertaling, deur die Gereformeerde Kerke, het eers in 1914 gekom en dié van die Bybelgenootskap in 1917.

Maar al het Afrikaanssprekendes die koms van die Bybel in hul taal op 27 Augustus 1933 landwyd gevier, was daar steeds weerstand, soos dié opmerking: “As Hooghollands goed genoeg was vir Adam en Eva, dan is dit ook goed genoeg vir my.”

Ná ’n ingrypende hersieningsproses waarin Neerlandismes verwyder is, is ’n hersiene uitgawe in 1953 gepubliseer, gevolg deur ’n vertaling in 1983 – met ’n hersiene uitgawe in 1992. Die mees onlangse vertaling het 2020 verskyn.

Nie beter nie; anders

Dit help nie om te sê een vertaling is beter as ’n ander nie, sê die teoloog prof. Fika Janse van Rensburg, wat al sedert sy studentedae met Bybelvertaling te doen het.

Die 1933/’53- en 2020-vertalings is volgens hom meer brontaalgerig, terwyl die Nuwe Lewende Vertaling en Die Boodskap die mees doeltaalgerigte vertalings is. Die 1983/’92-vertaling is in die middel van dié kontinuum.

Prof. Heilna du Plooy, wat by die 2020-vertaling betrokke was, sê die 1933/’53-vertaling is op ’n glyskaal nader aan die woord-vir-woord-kant en die 1983/’92-vertaling nader aan die vrye-vertaling-kant, met 2020 s’n tussenin.

“Dit is nie ’n woord-vir-woord-vertaling nie, maar dis verskriklik naby aan die bronteks, ook idiomaties.”

Een rede hoekom nuwe vertalings elke paar dekades verskyn, is om vir elke nuwe geslag se taalgebruik voorsiening te maak, sê Janse van Rensburg.

Nog ’n rede is die beskikbaarheid van manuskripte en grondtekste en die ontwikkeling van tekskritiek, vertaalteorie en -filosofie.

Die grondteks is ’n uitgawe van die Hebreeuse Ou Testament of Griekse Nuwe Testament wat op ’n bepaalde wyse met die beskikbare manuskripte gewerk het.

“Voor die boekdrukkuns was die fotostaatmasjiene mense.”

So sou iemand byvoorbeeld in Rome ’n afskrif van Paulus se brief aan die Romeine maak en dit na Efese neem, waar verdere afskrifte gemaak en versprei is.

In die besluit oor die betroubaarheid van manuskripte “is die beginsel hoe vroeër dit geskryf is, hoe swaarder weeg dit”.

Fopnuus uit die oond

Vir die 1933-vertaling is die Textus Receptus as grondteks gebruik, al het vertalers geweet daar is meer outentieke materiaal beskikbaar, sê Janse van Rensburg.

Dit was omdat die Nederlandse Statebybel dit gebruik het.

Die redenasie was: “Hier is soveel weerstand teen die oorgang van Nederlands na die ‘kombuistaal’ Afrikaans. As ons nou nog ook die grondteks gaan verander, dan gaan die mense die vertaling verwerp.”

Die Textus Receptus het ’n interessante storie.

Ná die uitdrukkuns wou ’n Nederlandse uitgewer so gou as moontlik ’n Griekse Nuwe Testament op die rak hê, vertel Janse van Rensburg. Hulle het druk op Desiderius Erasmus geplaas om dit so gou moontlik saam te stel.

Hy het manuskripte in kloosters en biblioteke gaan soek. Die uitgewer het in die voorwoord van die tweede uitgawe geskryf: “Hier het ons nou die Textus Receptus – die teks soos wat ons van die Heilige Gees gekry het.”

Dit was nie die volle waarheid nie.

Die uitgewer wou ’n bepaalde teksgedeelte wat in Latynse vertalings voorkom en wat van groot belang vir die destydse Rooms-Katolieke Kerk was, in dié uitgawe hê, maar Erasmus kon dit nêrens in ’n Griekse manuskrip kry nie.

’n Manuskrip met die Griekse woorde daarin is toe gefabriseer en in die oond gebak om dit oud te laat lyk, vertel Janse van Rensburg. Koolstoftoetse het later getoon dis vervals.

Nie so eenvoudig nie

Bybelvertaling is ’n baie komplekse taak, sê Janse van Rensburg. “Die vertaler is veronderstel om ’n spesialis in alles te wees. Linguisties moet hy die brontaal ken, verkieslik ook die teikentaal, en met sy of haar voete op die grond wees om te weet hoe praat mense, hoe verstaan mense wat hulle lees.

“Die taal is ingebed in ’n kultuur en dis ingebed in ’n politieke bedeling.”

Jy moet weet wat die destydse populêre leesstof was om te verstaan na watter ander tekste Bybelskrywers verwys en die konteks te begryp, sê Janse van Rensburg.

“Ek het nooit daarmee saamgestem nie: Daar was ’n oormatige politieke korrektheid in die 1983-vertaling, minder in die 2020-een. Grieks het ’n woord vir slaaf, ’n woord vir bediende of ’n huurling ensovoorts. Oral waar die woord ‘slaaf’ voorkom, is dit vertaal met ‘dienaar’.”

Tog was dit ’n feit dat daar slawe was wat aan ander mense behoort het. “Dit was ’n samelewingsverskynsel. Die ekonomie is daarop gebou.”

Sulke oorsensitiwiteit en politieke korrektheid kan betekenis laat verlore raak, sê Janse van Rensburg.

Van stootsteen tot klip

’n Sterkpunt van die 2020-vertaling is volgens hom dat daar nie, soos vir 1933 s’n, op ’n enkele spesialis staat gemaak is nie.

Vir elke Bybelboek was daar ’n span, verduidelik Du Plooy. “ ’n Eksegeet het ’n eerste vertaling gemaak, wat gekontroleer is deur ’n brontaalkenner. Hulle werk is deur ’n ander eksegeet en ’n ander brontaalkenner gekontroleer.

“Dan het dit gegaan na ’n intravertaler – ’n mens uit die tale wat moet kyk dat die formulering ook in Afrikaans idiomaties aanvaarbaar is, dat dit vloeiend is, dat dit hardop gelees kan word.

“Daardie goed het baie heen en weer gegaan. Daarna het dit na ’n redaksiekommissie toe gegaan en op die ou end na ’n eindredaksie toe.

“Die wonderlike van ’n spanbenadering is dit was nie een ou se idioom nie. Een ou kan ook nie sy dogma daarin sit nie, want daar is ’n klomp mense wat insette lewer.”

Die vertaling is uit die oorspronklike tale gedoen, maar ’n magdom vertalings in ander tale het gehelp om die beste woord of idioom te kry.

Wanneer daar twyfel of meer as een opsie was, is die ander opsie in ’n voetnoot gegee.

Die rol van letterkundiges in die proses is belangrik, sê Du Plooy. “As ’n mens vertaal, raak jy so gewoond aan daardie ander taal se styl dat jy later nie meer agterkom as jou Afrikaans nie vlot is nie. Ons het altyd gesê ons werk is om te kyk dat die Hebraïci nie Afrikaans in Hebreeus skryf nie.

“Een van die dinge wat in die 1983-vertaling nie baie bevredigend was nie, was die poëtiese gedeeltes van die Bybel. So ’n dinamies-ekwivalente vertaling is ’n bietjie van ’n verduidelikende vertaling.

“Ons het vreeslik moeite gedoen om die Hebreeuse poëtiese tegnieke op ’n manier ook in die Afrikaans (vir die 2020-vertaling) weer te gee. Maar dan moet jy baie oppas dat jy nie in Afrikaans onnatuurlik raak nie.”

Du Plooy vertel op ’n plek in die Nuwe Testament het ’n kenner van Grieks vertaal: “Daar is ’n stootsteen in jou pad.” Die opdrag was immers om noukeurig te vertaal.

“Daar staan in die Grieks ‘ ’n steen waarteen jy jou stoot, ’n stootsteen’. Toe sê ek sommer reguit vir die ouens: ‘Daai ding roep jy in Afrikaans ’n klip.’ ”

Mense is vreeslik agterdogtig oor ’n nuwe Bybelvertaling, sê sy. Maar in die proses om die beste Afrikaanse woord te kry, moet ’n mens nie die geheelbeeld verloor nie. “Daar is nie ’n eenduidige verhouding tussen woorde en betekenisse nie en jy kan verskillende woorde gebruik vir ’n betekenis. As jy nou ’n ander woord kies, word die deurlopende boodskap van die Bybel, die deurlopende argument wat in die Bybel ontwikkel word, nie daardeur aangetas nie.

“Die samehangende kernwaarhede bly dieselfde.”

Ps 23:1

1933/’53-vertaling:

Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

1983/’92-vertaling:

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Die Boodskap (2002/’06):

Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie.

Nuwe Lewende Vertaling (2006):

Die HERE is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie.

Die Bybel vir almal (2007):

Die Here is my Herder, Hy sorg vir my, ek het genoeg van alles.

2020-vertaling:

Die HERE is my herder; ek ly nie gebrek nie.

De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui