Moderator se mooi woorde val vreemd op

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Moderator se mooi woorde val vreemd op | Rapport

Theo Danzfuss

10 Maart 2024

Ds. Theo Danzfuss, Nelspruit, skryf:

Die berig “Koinonia sê NGK wil gemeentes intimideer” (03.03) wemel van foute wat die gemeentes van die Koinonia Sinode in ’n slegte lig plaas.

Is dit regtig uit onkunde of was daar ander motiewe ter sprake? Ek stel graag enkele van die foute in die berig reg.

  • Die opskrif “Koinonia sê NGK wil gemeentes intimideer” is nie ’n akkurate weerspieëling van wat ons sê nie. Ons is dan self deel van die NG Kerk. Dit gaan hier oor twee kommissies van die algemene sinode (die algemene taakspan regte en die algemene sinodale moderamen), elk met ’n eie beperkte opdrag en bevoegdheid, wat die gemeentes wil intimideer. Die gemeentes is immers die NG Kerk, nie die kommissies nie.
  • Ds. Jan Lubbe se verskoning dat hulle die advokate slegs genader het om regsekerheid te kry, is ooglopend nie waar nie. As hul bedoeling nie was om gemeentes bang te praat nie, maar net vir hulself regsekerheid te kry, waarom die wye verspreiding en dreigemente?
  • Opskorting beteken nie dieselfde as wegbreek of skeur of bande losmaak nie. In Rapport se artikels word die begrippe telkens as sinonieme gebruik.

Daardeur word lesers onder die wanindruk gebring dat die Koinonia Sinode ons beywer vir kerkskeuring. Inteendeel: Ons poog juis om gemeentes wat nie meer kan saamgaan met die algemene sinode se dwalings nie te motiveer om saam met ons in die NG Kerk te bly.

As iemand moet loop, is dit die inbrekers wat nuwe lerings verkondig, nie die inwoners wat staan by die suiwer gereformeerde leer nie.

  • Daar word herhaaldelik beweer dat ons die verband met die NG Kerk opskort. Die foutiewe regsadvies gaan ook uit van dié siening. Ons skort bepaald nié ons verband met die NG Kerk op nie, maar slegs met sekere kerkvergaderings van die NG Kerk wat in woord en daad die leerdwalings aanvaar.
  • Lubbe se vroom klinkende oproep in die laaste paragraaf dat ons liewer met mekaar moet praat, druis in teen die feite. Rapport is in besit van die verklaring waarin die Koinonia Sinode daarop wys dat ons reeds vier skriftelike uitnodigings tot onpartydige mediasie aan die algemene sinodale moderamen en die algemene sinode gerig het wat almal summier geweier is. Tot dusver was daar nog geen enkele poging van die algemene sinodale moderamen vir ‘n gesprek met die Koinonia Sinode nie.
  • Lubbe se oproep vir lidmate om “binne die veilige ruimte” van ons ooreengekome kerkorde te bly, is net so vreemd, want dit is juis ons kerkorde wat uitdruklik bepaal dat sinodale besluite slegs bindend is “in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God en die belydenis van die kerk . . . nie . . .” Juis dieselfde kerkorde verplig ampsdraers en lidmate om voortdurend alle kerkvergaderings se besluite met die Woord van God en die belydenis van die kerk te beoordeel (KO-art. 23.1 en 23.2). Dis mos presies wat die Koinonia Sinode doen.

Kommentaar

Daniel Louw

Daar word werklik baie energie daaraan spandeer om klein tegniese aspekte aan te spreek:

  • Daar word weer die kwessie van intimidasie genoem: Is daar werklik enige sprake van intimidasie in die regsadvies?
  • “As hul bedoeling nie was om gemeentes bang te praat nie, maar net vir hulself regsekerheid te kry, waarom die wye verspreiding en dreigemente?”: Ek is baie oortuig dat indien KS in die ASM se skoene was hulle presies dieselfde sou gedoen het. Moes die ASM die regsadvies geheim hou?
  • Daar word steeds na inbrekers verwys. Is dit nog enigsins sinvol?
  • Dit is nie sinvol om onderskeid te tref tussen die NG Kerk en die AS (algemene sinode) nie. Die AS bestaan elke keer uit verskillende lidmate van regoor die land. As die AS jaar na jaar liberale besluite neem, dan lê die probleem nie by ‘n vergadering nie, maar by die kerk self.
  • Daar word steeds gehamer op die feit dat die ASM nie inskiklik was vir ‘n mediasieproses nie. Daar is egter al etlike kere gevra wat die doel van ‘n mediasieproses sou kon wees. Wat is dit wat KS daaruit sou kon kry?

Sou dit nie veel meer produktief wees om die sake aan te spreek wat in die regsadvies genoem word nie?

In kort sê die ATR se regsadvies die volgende:

Opskorting is ‘n nulliteit:

  1. Partye kan nie ‘n kontrak eensydig opskort nie.
  2. Opskorting kom neer op kontrakbreuk
  3. Gemeentes wat opgeskort het bly steeds verantwoordelik vir al die verantwoordelikhede en verpligting wat hulle (kontraktueel) as deel van die kerkverband het. [‘n Mens neem aan hierdie verantwoordelikhede is om sinodale bydraes te betaal en by ringsittings en streeksinodes in te skakel.]

Dus, óf jy moet volledig inval by die NGK, óf jy moet skeur.

As jy skeur geld die volgende:

  1. Die universitasbeginsel geld – indien daar lidmate in die gemeente is wat nie wil skeur nie (selfs al is daar slegs een lidmaat), is hulle die voortsetting van die gemeente. Die lidmate wat dus wegbreek verloor die eiendomme.
  2. Lidmate verloor hulle lidmaatskap aan die NGK.
  3. Die predikant verloor sy bevoegdheid as NG predikant en is nie meer beroepbaar na ander NG gemeentes nie.
  4. Die predikant verloor nie sy pensioen nie, maar hy kan nie meer deel wees van die pensioenfonds van die NG Kerk nie. Hy sal sy geld moet opvra en dit by ‘n ander pensioenfonds belê.

Die volgende vrae is nog onbeantwoord:

  1. Hoe gaan die res van die NG Kerk, gemeentes wat opgeskort het, dwing om hulle “verantwoordelikhede na te kom”?
  2. Soos die universitasbeginsel tans verstaan word, maak dit hoegenaamd nie sin nie. ‘n Gemeente se bates is oor jare opgebou deur die gemeentelede self, gewoonlik sonder enige hulp van die sinode of selfs buurgemeentes. Hoe kan so ‘n klein minderheid so ‘n groot sê daaroor hê? Die tweederdemeerderheidsbeginsel maak nog sin, maar nie die universitasbeginsel nie. Wat was die oorspronklike bedoeling van die universitasbeginsel?
  3. In Amerika is die Roe v Wade-beslissing in 1973, wat bepaal het dat ‘n vrou die reg tot ‘n aborsie het, in 2022 omgedraai deur die Dobbs v Jackson Women’s Health Organization-beslissing. Die feit dat die universitasbeginsel in die verlede in hofsake oor kerkskeuring gebruik is, beteken glad nie dat dit vandag ook die geval sal wees nie. Tye het intussen drasties verander en verder is dit tog duidelik dat dit die NG Kerk is wat afgewyk het van haar belydenis en nie die behoudendes van Koinonia Sinode nie. Is daar so ‘n vooruitsig vir behoudende gemeentes in die NGK wat wil skeur?
  4. Die Geloofsbond van Hervormde gemeentes het hulle bates suksesvol in die hof verdedig teen die Hervormde Kerk. Steeds weet niemand of dieselfde in die NGK moontlik is nie. Hoekom nie?

Dit sou baie meer sinvol gewees het as die KS antwoorde op hierdie vrae kon gee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui