Koinonia Sinode Nuusbrief 24 Mei 2024

KSDG (Koinonia Sinode dagbestuur) NUUSBRIEF 25 MEI 2024

Ons Jaarlikse amptelike vergadering van Koinonia Sinode kom DV byeen 4 September 2024 in Van der Bijlpark. Hoewel die sinodesitting aanvanklik vir vroeër die jaar al beplan was, moes ons na bekendmaking van die nasionale verkiesingsdag dit skuif na later die jaar. Weens logistiewe en ander redes word dit nou geskeduleer vir 4 September. Merk asb die datum op u kalender. Hoewel dit ‘n amptelike vergadering is met afgevaardigdes van kerkrade, is besoekers welkom om dit op eie koste by te woon.

Sommige van ons moes die afgelope tyd heelwat struikelblokke hanteer. Ons uitdaging is om mekaar juis nou te ondersteun met liefde, begrip en voorbidding. ‘n Hele aantal behoudende en dolerende gemeentes word gedreig en sommige leraars is al aangekla. Dit is verstommend met hoeveel venyn ongegronde klagtes saamgeflans word om kredietwaardigheid aan die ASM en ATR se optrede te gee. Die KSDG van Koinonia het reeds die dienste van ‘n bekwame regspan gekontrakteer vir regsbystand en advies indien nodig. Soos julle almal bewus is, is dit ongelukkig ‘n lang en tydsame proses. Ons het egter die versekering ontvang dat die bangpraat dreigemente en leuens oor wat met gemeentes kan gebeur wat verband opskort, met goeie gevolge in die hof verdedig kan word.

Woensdag 29 Mei is verkiesingsdag en dit is duidelik dat ongeag die uitslag Suid-Afrika in moeilike vaarwater is dat veral die volgende vyf jaar unieke uitdagings aan die land en aan die kerk gaan vra. Ons wil u aanmoedig om saam te bid dat die Here ons sal seën met ‘n goeie regering wat voor Sy oppergesag sal buig en die land met integriteit tot Sy eers sal regeer.

Ons sit ook polities op ‘n tydbom. Plaaslike owerhede voldoen in die meeste gevalle nie meer aan die verwagtings nie en baie is finansieel onstabiel. Met Staatsondernemings gaan dit ook rampspoedig. Die meeste van hulle het ineengestort weens wanbestuur en korrupsie. Daarmee saam het Suid-Afrika se skuld baie hoë vlakke bereik en die manier hoe dit toeneem is nie volhoubaar nie. Daar word tans ‘n gereelde toelaag aan ongeveer 19 miljoen Suid Afrikaners betaal. In die 2024 begroting word begroot vir R217 biljoen en dit word verhoog in 2026 na R259 biljoen. Almal weet dit kan nie volhoubaar wees nie. Bid saam vir ‘n wonderwerk voordat hierdie tydbom ontplof.

Morele verval: Wat egter vir ons as behoudende gemeentes die grootste bekommernis is hou verband met die manier hoe die land in ‘n morele vakuum beland het. Baie van die wetgewing, al die gepraat oor geweld teenoor vroue en kinders, al die regulasies om wanbesteding van geld, korrupsie en geldwassery te probeer voorkom, al die lisensies wat hernu moet word, is die gevolg van wat veral in die agtergeblewe gemeenskappe aan die gang is. Dit mag nie hardop gesê word nie, maar geweld, diefstal, bedrog, meineed, vervalsing, roof, ens. word deur baie as normaal geag. Dit lyk asof daar gedink word dat harte deur wetgewing verander kan word. In ‘n tyd waarin die verkondiging van die Evangelie gerelativeer word en liberale waardes selfs deur sinodes gepropageer word, floreer hierdie soort van optrede net nog meer! Almal moet nou onder dieselfde kam geskeer word – ook dié wat met Christelike waardes ‘n ordelike en veilige en eerbare samelewing probeer skep.

Die stem van die Evangelie word nou stilgemaak want wie dit waag om teen hierdie stroming in te gaan word gebrandmerk as ‘n agtergeblewe en haatlike rassis. Die oplossing word nie meer in die Bybel gesoek en deur die verkondiging van die Evangelie gedra nie. Die persepsie word geskep dat die grondwet en sy gewaarborgde vryhede sterk genoeg is om die sonde te tem.

Kategoriale Ringsitting vir behoudende gemeentes. Op Sondag 26 Mei vind DV ‘n unieke maar belangrike Ringsitting vir behoudende gemeentes plaas by die NG Kerk SecundaGoedehoop. Omdat kerverband baie belangrik is wil gemeentes wat die verband met Algemene Sinode opgeskort het probeer om steeds verband met ander behoudende NG gemeentes te soek waar ons mekaar kan ondersteun in ons roeping om waarlik Kerk van Christus te wees, daar waar ons geplant is. Die ideaal is om hierdie vorming van Ringe wyer uit te brei en meer hieroor sal by die Koinonia sinode gesê word.

Inligtingskonferensie: Karatara: Nog ‘n belangrike inligtings-konferensie word DV Saterdagoggend 1 Junie gehou in die Wes-Kaap by Karatara-Sedgefeld NG gemeente (naby Sedgefield en Knysna). Meer inligting kan bekom word by die voorsitter van die kerkraaad mnr Nico Basson 072 270 5059. Belangstellenes ia welkom om dit by te woon. Dankie vir u voorbidding.

Gemeentes word verseker van ons ondersteuning en daar is groot waardering vir die finansiele ondersteuning aan Koinonia Sinode asook indien u so gelei word, vir spesiale bydraes vir ons beplande sinodesitting en moontlike hoë regskostes.

Anton Knoetze

Nms KSDG

1 thought on “Koinonia Sinode Nuusbrief 24 Mei 2024”

  1. Met verwysing, “Ons wil u aanmoedig om saam te bid dat die Here ons sal seën met ‘n goeie regering wat voor Sy oppergesag sal buig en die land met integriteit tot Sy eers sal regeer”.

    Sondag bid ons (ook maar min wat regtig bid). Woensdag bid ons (ook maar bitter, bitter, bitter min wat regtig bid). Maar in die groot ure se ruimtes tussen Sondag en Woensdag se enkele ure, bly ons tjoepstil oor leuens by die werk of vanaf politieke verhoog; ons oog omhels meer TV en Media as die Bybel; ons spandeer min tyd in Sy Teenwoordigheid in ons binnekamer…..en so moet GOD al die vuile “uitsorteerwerk” doen met Sy Heilige Hande, terwyl ons met vuile gevoude hande, en oop gulpe, en peulende borste, op ons troontjies sit voor TV en boek, en kyk en luister en lees na en van baie stories se gefluister, so asof ons meen, DIT is ook maar net so heilig soos GOD se gefluister…soos die vele fiksie en romans wat ons gedagtes streel, soos ‘n minnaar se liefkosings in die nagtelike duister…

    Dit is hoe julle lyk, liewe Koinonia, of meen jul, Zuma of Ramaphosa of Steenhuisen of Malema is nie beter as jul geveindse hande?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui