‘Sonder sterflikheid in jou lewe word jy ’n monster’

Kyk ook:

Kyk Wat van die Bybelse uiteensetting van sonde? (5 Jun 2024) waarin Bernhard Ficker op hierdie artikel hieronder reageer.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Sonder sterflikheid in jou lewe word jy ’n monster’ | Netwerk24

Murray La Vita

24 Mei 2024

Mense wat sê die evangelie het nie sin nie en “dit is nonsens” reageer nog op ’n “godsbegrip wat heidens is”, sê Daniël Louw aan Murray La Vita.

Die onderhoud met emeritus professor Daniël Louw (80) vind plaas in die kapel van die kweekskool van die Universiteit Stellenbosch. Die kapel is ’n droom van hom wat waar geword het – dit het onder sy leiding tot stand gekom. Dit is ’n sober vertrek waarvan die fokus ’n rou klipkruis en treffende gebrandskilderde vensters is wat Louw hoofsaaklik sélf geskep het. Voor die kruis brand vanoggend ’n eenvoudige huishoudelike wit kers.

Die fokus van die onderhoud is Louw se enorm omvangryke en insiggewende boek wat onlangs met die Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies in Afrikaans bekroon is. Die boek heet: Daar is méér: Mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid – ’n Outobiografiese reisverhaal deur Amper-Stamperland en Metaversum.

“Ek is in 1977 hier in die fakulteit teologie aangestel (as dosent en professor in praktiese en pastorale teologie, en in 2001 as dekaan) en was die eerste nie-Broederbonder. Ons was uiteindelik twee kandidate – die regte kandidaat en die verkeerde kandidaat,” sê hy en glimlag.

“Toe hulle op die ou end kies, toe is dit ’n 50-50-stemming. Nou ja, dan sit ’n mens die twee name in die hoed en dan trek jy die lootjie . . . jy bid en alles. Daar kom mý naam uit – die verkéérde ou. Die moderator van die kerk het toe gesê: ‘Nou kan jy God en die lot ook nie meer vertrou nie.’ ’n Ander een het gesê ek is die laaste spyker in die doodskis van die kweekskool.

“In elk geval, al die jare het ek gevoel ons moet ’n kapel hê. En ek wou baie graag ’n Afrika-kruis hier sit,” sê hy en draai na die kruis teen die muur agter hom. “Maar hy moet in klíp wees, want in Europa is al die kruise houtkruise, nè?

“Ek kom van Ceres af en ek het toe daar in die Ceres-Karoo ingegaan. Weet jy, toe begin ek die klip te kap en oop te breek . . . Kyk hoe mooi, daai rooi kleure en so aan.

“Ek het dit hier uitgepak . . . Die kuratorium was nou nie baie opgewonde oor my idee nie, maar op die ou end het ek dit gedoen. En toe het ek doringdraad gebruik om die goed ’n bietjie saam te bind . . .”

Hy wou baie graag gebrandskilderde vensters hê, maar daar was nie geld daarvoor nie. Met Marc Chagall se werk as inspirasie het hy sélf vensters begin skep met los stukke gekleurde glas wat hy by ’n handelaar op die dorp kon koop. Hy praat oor elkeen van die lieflike vensters se simboliek. Veral een lê hom na aan die hart.

“Hierdie een is Sol Iustitiae Illustra Nos – ‘Son van geregtigheid bestraal ons’; dit kom uit die Maleagi-teks. Die kapel het uiteindelik ’n baie belangrike rol gespeel in die versoening en die eenwording van die twee teologiese fakulteite van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). Dit was ’n verskriklike moeilike tyd. Ek kom uit die ou NG Kerk-bedeling toe dit net vir wit, NG Kerk-opleiding was. En die VGK wóú nie hiernatoe kom nie; hulle is gedwing deur die rektor van die UWK wat uit Amerika gekom het en nie meer die fakulteit dáár wou hê nie.

“Toe het ek nou maar probeer om ’n simbool te kry wat ons almal saamsnoer: die Son van Geregtigheid en dan die sewe gemeentes uit Klein-Asië wat ons bestraal.”

‘Die middel-C’

Louw soek in Daar is méér na “die middel-C van die Christelike geloof” – die eerste noot (in die middel van die note) van waar álle note afwaarts of opwaarts lei as jy in harmonie wil klavier speel.

“Ek het hier gekom en jy moes uit die gereformeerde teologie aksente lê en die kerk hou toesig oor jou. So, daar is ook ’n geformaliseerde kunsmatigheid. En ek het net besef ek moet die middel-C van die Christelike geloof soek want jy kan nie . . . die Bybel speel nie al die klawers tegelykertyd nie.

“En die Bybel is geskryf oor páradokse; daar is nie logiese verbindingskakels nie, en dít het vir my sin. Ek wil nie ’n teologie hê waar al die rafels uitgestryk is en daar geen plooie is nie.

“Ek het by Nietzsche gelees oor poëtiese skrík – in ’n oomblik skrik jy poëties en dan word jy gegrýp deur iets wat jy nie kan verwoord nie en dan kom woorde in jou gedagtewêreld en begin jy daaraan uitdrukking te gee en dít is waar kuns ook gebeur. Ek het altyd gevoel die Christelike geloof is ’n soort kunsvorm – dit moenie hierdie dogmatiese, afgeronde, geykte, geformaliseerde soort van formules wees waarbinne ons moet glo nie.”

Woorde van Ludwig Feuerbach het ’n groot indruk op hom gemaak.

“Hy skryf in Die Wese van die Christendom: ‘ ’n God sonder ’n hart en passie is ’n afgod.’ En ek besef toe baie van my formules was eintlik heidens-afgodies. En dit het vir my die middel-C weer aangewys waar Paulus praat oor die gekruisigde Christus en dit die weerloosheid van God noem. Dis ook die swakheid van God. Die Grieke hou nie daarvan nie; die Jode hou nie daarvan nie, maar dís die middel-C. Ek glo die Christendom het die middel-C vergeet.”

‘Als is eintlik sonde’

Hy het grootgeword met ’n “etiese raamwerk van: Wat is goed en wat is kwaad? Wat is sonde en wat is nie sonde nie?”

“So het ek byvoorbeeld grootgeword dat jy nie op Sondag mag swem nie, dis sonde; jy mag nie dans nie, dis sonde. Jy mag eintlik niks doen nie; als is eintlik sonde.

“Ek kon nie my Christenskap geniét nie. Die inligting wat ek gekry het, was: Álles begin by die sondeval en ek is sondig en ellendig en hoe kan ek dan verlos word? Dit sirkel alles om hierdie sondigheid.

“Maar die prediking of die geloof het my nooit geleer van die vreugde van menswees; die sín van menswees; die betékenis van menswees nie. En daarom het ek die boek geskryf om te sê: Maar kom ons skuif weg van die etiese raamwerk en die vrae: Wat is reg en wat is verkeerd? Wat is die kwaad en wat is nié die kwaad nie?

“En dit is duidelik in die debatte – soos oor gender of gay-wees – die kerk dink nog altyd in hierdie etiese formules en kategorieë en wil weet: ‘Ís dit verkeerd of is dit nié verkeerd nie?’ Maar hulle het nooit die estetiese kategorie ontdek van: Wat is waardevol? Wat is betekenisvol?”

‘Die bedermde God’

Die punt van Daar is méér is “ons moet ’n estetiese verstaan van die Godsbeeld kry”.

“Dit is esteties dat God se binnegoed inmekaar getrek is oor my. Dit gee sin aan my lewe. Ek noem dit die theology of the intestines, bowel categories.

“Jesus se ingewande het inmekaar getrek toe hy sien die skare is sonder brood . . . Ek dink nie ons het ooit die misterie van die diepte van die ontferming en die barmhartigheid en die genade van God raakgesien nie.”

Sy boek is nie téén enigiets geskryf nie.

“Maar wat my hartseer maak, is mense wat reageer en dinge sê soos: ‘Die evangelie het nie sin nie; dit is nonsens; jy kan dit los.’ Hulle reageer nog op ’n godsbegrip wat heidens is. Hulle reageer nie op wat ek wil noem die bedermde God nie.

“Daarom het ek baie moeite gedoen om weer te gaan kyk na die naam van God. As Moses nou na Farao toe moet gaan om te sê die volk moet trek, vra hy vir God: ‘Wie moet ek sê stuur my?’ Dan sê God: ‘Sê vir hulle Ek is wat Ek is, stuur jou.’ Dít klink na onsin om vir die grootste god in die wêreld, die Farao, so iets te gaan sê.

“Maar dis tog interessant dat die naam van God in Hebreeus ’n werkwoord is, ’n infinitief: ‘Daar waar julle is sal Ek wees. Ek is daar waar jý is. Om te wees met jóú.’

“En jý moet ook só ‘om te wees’ met medelye en omgee dat jóú medelye mense moet oortuig van die werklikheid van ’n lewende God; dít is die enigste oortuigingskrag. En daarom het ek ook in die boek gaan kyk na ’n gemene deler tussen die godsdienste.

“Ek het toe gaan kyk na die Boeddhisme, wat eintlik ’n filosofie en nie ’n godsdiens is nie; Hindoeïsme; Islam, Judaïsme en die Christendom. En in álmal van hulle is die kérnwoord ‘omgee’; medelye. Nouja, in mý terminologie die bedérmdheid, hierdie infinitiéf van ‘om te wees waar jý is’ en dat wanneer jóú derms ook sal knoop oor die nood van ander – ‘op dié manier word Ek werklik en sigbaar’.”

‘Dit is wrede mense’

Toe Louw “’n ou seuntjie van so sewe jaar” was, het sy pa hom na ’n politieke vergadering in die stadsaal van Ceres saamgeneem.

“ ’n Moderator van die NG Kerk het die toespraak gelewer en hy het toe gepraat oor apartheid en die noodsaaklikheid daarvan. Ek sit daar en hy sê: ‘As julle nie wil verstaan dat dit God se wil is dat swart mense en wit mense apart moet woon en bly nie, gaan na Lambertsbaai – daar is Voëleiland en op dié eiland kan julle sien die wit voëls en die swart voëls meng nóóit nie.’

“Daardie aand moes iets in my gebeur het, daai ding het in my vasgesteek; ek sê mos ‘daar is méér’. Ek het gedink: Dit kán mos nie wees nie. Ek kon nooit daaroor kom nie.”

Dan vertel hy ’n ander verhaal.

“In 2010 kry ek ’n student uit Kenia, sy naam is Josiah Murage en hy kom studeer by my in die kliniese pastoraat en hy voltooi dit en hy doen sy doktorsgraad oor utugi. Dít is die Swahili-woord vir gasvryheid. En hý kom uit die Kenyatta-tradisie uit en hy doen navorsing oor die hele ding van die opstande en daardie tyd in Kenia toe baie wit sendelinge deur die Mau-Mau vermoor is.

“Nou het hy ’n hele hoofstuk daaroor en hy weet nie van my ervaring van die Poqo-opstand in die Paarl in November 1962 nie. Dit was een van die mees traumatiese ervarings vir my. Poqo het met pangas die strate ingevaar en wit mense voor die voet aangeval – daar is sewe dood en baie beseer. My suspisie en stigma oor swart mense was daarna: Dit is wrede mense.

“Murage skryf in hulle stamtradisie was dit so: As jy ’n vreemdeling in jou land kry, dan gee jy dáái een die beste wat jy het. En die beste wat jy het, is grond. En toe die sendelinge gekom het, het hulle vir hulle grond gegee en hulle soos konings behandel. En ná ’n paar jaar het Brittanje die grond geannekseer en hulle verloor hul grond. En dít was die rede vir die opstand – die bedrog wat gepleeg is teenoor hulle gasvryheid.

“En weet jy, toe ek dít sien . . . My hele lewe se gordyn het oopgeskuif. Hierdie vrees wat ek in my gehad het, het hy met hierdie hoofstuk vir my oopgebreek.

“En toe hy die dag sy doktorsgraad kry, kom ek uitgestap en ek het my toga aan. En hy staan aan die ander kant van die rugbyveld langs die sentrum en het ook nog sy toga aan. En hier kom dié swart man uit Kenia aangehardloop. Spontaan begin ek toe ook te hardloop. In in die middel van die veld omhels hierdie Afrikaan uit die Mau-Mau-stam die Afrikanerboer met sy vrese van die Paarl-opstande in sy hart. In my oor fluister hy: ‘Professor, Stellenbosch gave me back my human dignity.’

“My 42 jaar aan die fakulteit het in ’n paar sekondes as gevolg Josiah se woorde my hele lewe en akademiese loopbaan sinvol gemaak. Dít ten spyte van die opmerking oor my aanstelling dat ek die laaste spyker in die doodskis van die kweekskool is.”

Josiah het ook die spyker uit sý doodskis getrek.

“Ek het besef dat God wel gebroke kleipotte vertrou ondanks die opmerking oor ’n doodskis-aanstelling.”

‘Dit maak jou broos’

Die kombinasie van “verwonding en verwondering” lê ingebed in sterflikheid, sê Louw.

“As jy nie oor sterflikheid taal kan vind waardeur jy dit (sterflikheid) integreer in jou lewe nie, dan word jy ’n monster. So, dit is geweldig belangrik om oor sterflikheid na te dink en dit ook konstruktief te kan gebruik en daaroor ’n táál te vind.”

Hy verwys na tekste soos Die Klein Prinsie van Antoine de Saint-Exupéry en Antjie Krog se bundel Verweerskrif.

“Oudword is ’n verlies: Jy verloor jou tande of jou gehoor of iets. Dit is aftakeling. Nou hoe kan jy dit integreer en konstruktief deel maak van jou lewe sodat jou sterflikheid ’n verryking van jou lewe word? Dit maak jou broos. En jou broosheid laat jou omgee om dan na ander toe oor te buig en aan ander te dink.”

’n Begrafnis is “saaityd”.

“Jy sáái iets. Dis die misterie. Moenie dit wegneem uit die lewe nie.”

Hy het by die herlees van 1 Korinthiërs 15 in Grieks diep onder die indruk gekom van “die trou van God tot in die dood”.

“En weet jy, toe ek dít lees, toe sê ek vir my vrou: ‘Hermien, as ek doodgaan, stop jy my nie in ’n blerrie oond nie; jy gaan my nie verbrand nie. Gee my terug aan die grond.’”

Daar is méér kan by www.naledi.co.za bestel word.

Kommentaar

Daniel Louw

‘n Mens kan nie help om te dink dat indien prof Daniël Louw niks sê oor die hartseer feit dat die NG Kerk op ‘n dwaalspoor is nie, dan is hy self op ‘n dwaalspoor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui