Koinonia Sinode Nuusbrief 31 Mei 2024

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

KSDG NUUSBRIEF 31 MEI 2024

Baie mense is verras en dalk selfs opgewonde oor die syfers wat spreek van verlies van steun in die afgelope verkiesing aan sekere politieke partye. Die waarheid is egter dat baie min sedert die vorige verkiesing verander het. Suid Afrika is ‘n land met geweldige verdeeldheidslyne en dit is net die Evangelie van Jesus Christus wat mense regtig bymekaar kan bring. Daarom moet die kerk sy taak en roeping ernstig opneem. Jesus het in Mat 23:37 gesê: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat”. Die geskiedenis het gewys hoe verskriklik dit is wanneer Jerusalem aan hulself oorgelaat word.

In nederige afhanklikheid wil dolerende gemeentes buig voor die gesag van die Koning van die kerk. Hierdie gemeentes word soms kwalik geneem omdat hulle in getrouheid aan die Woord en die gesag van Christus die verband met die Algemene Sinode en streeksondes opgeskort het. Volgens die beskuldiging glo die predikante binne die streeksinodes nog dieselfde as wat dolerendes doen. Indien hierdie leraars staan by die gereformeerde leer en die gesag van die Woord is dolerende gemeentes natuurlik dankbaar. Die enigste maatstaf waarvolgens hierdie aansprake beoordeel kan word is om daarna te kyk in die lig van die amptelike besluite wat deur die Algemene Sinode en die ATR geneem is. Dit lyk asof daar gerieflikshalwe vergeet word waarom dolerende gemeentes gedwing was om op hierdie manier beswaar te maak en onderlinge verband te soek.

As gereformeerde kerk is dit volgens die Bybel ons roeping en plig om deur kerklike opsig en tug te waak teen die insypeling van dwaalleer in die kerk van Christus. Daarom is die gemeentes wat tans doleer of bande opskort nie besig met kerkskeuring nie, maar met kerkreformasie en suiwering. Dolering en opskorting moet dus verstaan word as ’n vorm van kerklike tug oor diegene wat die dwalinge in die kerk wil akkommodeer. Dit moet dus dien as ’n dringende oproep tot bekering.

Die huidige toestand in die NGK kan nie anders as tugtiging oor verbondsontrou gesien word nie. Dit verklaar waarom die AS sowel as die ASM, ATR en ander verteenwoordigers van die AS geen erns maak met die huidige glybaan-krisis in die NGK nie. Ten spyte van verskeie openlike mooi-klinkende beloftes van gesprekvoering oor die radio en in ander vorme van die media word daar eerder al meer van dreigemente en intimidasie teen behoudende leraars en gemeentes asook van ontwykingstegnieke gebruik gemaak.

Die Ring van Standerton was die eerste Ring wat in geheel as ‘n Koinonia Ring gekonstitueer het. Op Sondag 26 Mei 2024 was daar verdere groei op Ringsvlak toe die eerste volwaardige kategoriale Ring van Koinonia Sinode by Secunda-Goedehoop vergader het. By hierdie geleentheid was 17 gemeentes uit verskeie streke teenwoordig. Daar is ooreengekom om mekaar te ondersteun en saam te soek na maniere om roepingsgetrou te leef in ‘n tyd soos hierdie.

Gemeentes word opnuut opgeroep om 4 September te reserveer vir ons volgende Koinonia Sinode sitting in Vanderbijlpark. Daar is baie werk wat gedoen moet word en die vertroue word uitgespreek dat gemeentes by hierdie geleentheid toegerus en bemagtig sal word om met hoop en ywer hul roeping uit te voer

Seënwense

Anton Knoetze

Namens KSDG (Koinonia Sinode Dagbestuur)

Kommentaar

Daniel Louw

Daar word gesê: “Daarom is die gemeentes wat tans doleer of bande opskort nie besig met kerkskeuring nie, maar met kerkreformasie en suiwering. Dolering en opskorting moet dus verstaan word as ’n vorm van kerklike tug oor diegene wat die dwalinge in die kerk wil akkommodeer. Dit moet dus dien as ’n dringende oproep tot bekering.”

Dit is onduidelik hoe dit gaan help om die NG Kerk om te draai of te tug deur al verder en verder van die kerk weg te beweeg. Indien jy die NG Kerk wil omdraai of suiwer, moet jy binne die strukture van die NG Kerk bly. Deur op te skort, skei jy jou bloot af van die NG Kerk – jy is nie besig om die kerk te reformeer nie.

Het dit nie tyd geword dat Koinonia ‘n egskeiding met die NG Kerk inisieer nie?

1 thought on “Koinonia Sinode Nuusbrief 31 Mei 2024”

  1. “Woorde-spel” vind plaas nie net in kerklike ruimtes nie, maar ook in die besigheidswêreld. waar woorde se diep onderliggende betekenisse verplaas word na ánder woorde om die mens se dade of denke te regverdig. Ook in die politieke en sosiale sfere van ons tyd. “Woorde” het hul ware identiteit verloor. Ook hul impak en gewigtigheid, eiesoortig aan elkeen se bedoelde inherente karakter. En “behoudende denke” in 2024 – of afgelope 50 jaar – is netso skuldig. Die spel word reeds lank gespeel in die kerk, maar hul weier om eienaarakap te neem vir die vrug in 2024.

    Die rede dink ek, is omdat ‘n omvattent en diepgewortelde insig in “Woord” soos in die Skrif, nog nooit waarlik terug “transformeer” het na die Bybelse bedoeling, in die Reformasie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui