Wat het gebeur dat kerkleiers dit nie kan insien?

*******

Wat het gebeur dat kerkleiers dit nie kan insien? | Netwerk24

Izak Burger, Somerset-Wes

19 Junie 2024

Die briewe van prof. Johan Janse van Rensburg en ds. Jan Lubbe het betrekking.

Ek moet in alle eerlikheid sê dat die gesprek na albei kante toe my ietwat negatief stem.

Alhoewel ek begrip het vir prof. Van Rensburg se frustrasies, dink ek nie die herhaalde beskuldigings van verdagmakery is behulpsaam nie.

Eweneens het ek genoeg ervaring met die verdraaiings wat eggokamers teweegbring, dikwels deur mense wat nie die werklike bronne ken nie, maar dit voel vir my so al asof ds. Lubbe hieragter skuil en nie regtig tot die punt van die onenigheid kan kom nie.

Ek dink ons mis die punt rondom die sogenaamde ruim huis.

Selfs ’n ruim huis kan nie alle standpunte akkommodeer nie, en wanneer dit by kernsake kom, is dit vir die veiligheid van sy vele inwoners nodig dat die huis nie daardie punte akkommodeer nie.

Die debat moet eintlik nie gaan oor hoe ruim die huis moet wees nie. Die wyer, algemene kerk is vir sondaars en is reeds ’n baie ruim huis.

Die debat moet eerder gaan oor wat as ’n kernsaak gesien behoort te word.

As die Fariseërs vir Jesus ’n vraag vra oor egskeiding, dan verklaar hy die wet effektief tot ’n kompromie terwyl hy die saak terugvoer na die skepping: Wat God saamvoeg, mag jy nie skei nie. Dit voel vir my so al asof hierdie saak belangrik is.

Ek het begrip daarvoor dat nie almal vir die huwelik gemaak is nie, en dat party mense sekerlik eerder ’n kameel deur die naald se oog sou wou worstel as om met die teenoorgestelde geslag getroud te wees.

Elke getroude man het sekerlik, soos Petrus daardie dag, gewonder of die saak nie so effe futiel is nie.

Tog kan ek nie help om te wonder wat gebeur het dat hierdie ding, wat ten minste vir ’n gewone lidmaat soos ek heel duidelik was, dan skielik nie meer ’n kernsaak is nie.

Was ek dan al een wat gedink het dis belangrik?

Meer nog as dit, wat het gebeur dat die leiers van ons kerk dit nie kan insien nie?

1 thought on “Wat het gebeur dat kerkleiers dit nie kan insien?”

  1. Hulle kan nie insien nie, want hulle a) wil dit nie insien nie b) is blind vir die waarheid.

    Rede is eitnlik maklik.
    1.) Hulle is vleeslik, dws. menslik. En daar word dan ook menslik geargumenteer wat dan as christelik verkoop word.
    2.) Hulle het nie die Heilige Gees nie. Hy word van die hand gewys. Daar is selfs ‘n tradisie om dit te doen. Toevlug word geneem tot konsensus. Dit moet dan pleks van die Heilige Gees instaan.
    3.) Hulle volg ‘n humanistiese agenda. Alles moet toelaatbaar wees. As dit maar net mense behaag en ‘n baaitjie van ‘liefde’ kan kry.

    Ek dink mense moet maar die hoed vat en bedank uit die Groot kerkverbande wat so humanistiese uitgedraai het. Word dan maar die onafhanklike Gereformeerdes of so iets. Dis in elk geval nie die mensgegewe naam wat die verskil daar maak of ledelyste, handtekeninge ens.

    Op die ou einde gaan dit daaroor dat jy deel is van die uitverkore volk in Christus. Dus glo in Christus, wees gekruisig met Christus, begrawe met hom en staan dan ook weer geestlik met hom op. Mens moet natuurlik die terme reg verstaan. Dikwels beleef ek hoe ‘n woord soos geestlik verkeerd verstaan word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui