NG Kerk ‘preek’ vir regering: ‘Moenie eiebelang voor beginsels stel’

Kyk Vee maar eers voor jou eie deur (Henrietta Klaasing, 26 Jun 2024) wat kommentaar lewer oor hierdie artikel.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk ‘preek’ vir regering: ‘Moenie eiebelang voor beginsels stel’ | Netwerk24

Arisa Schamrel

23 Junie 2024

Die NG Kerk sal die politiekery vir politici los, maar meen die kerk kan die regering tog ’n les leer: Hou by jou vaste beginsels.

“Die kerk het ’n sentrale belydenis waarheen ons altyd terugkom, maak nie saak hoe verdeeld ons soms op plekke is nie.

“Daar word nie gekibbel oor sentrale belydenisse nie.

“Dit sal gerusstellend wees om te weet dat ’n regering van nasionale eenheid met die beste belang van elke mens in Suid-Afrika voor oë leiding gee, onreg en ongelykheid sistemies beveg en nooit toelaat dat eiebelang bo dié sentrale beginsels gestel word nie,” sê dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk se algemene sinode.

Net omdat die kerk nie direk by politiekery betrokke wil raak nie, beteken dit wel nie hy gaan sy kop in die sand druk as dit kom by ongeregtighede nie.

Inteendeel, beklemtoon Venter, dit is juis hoekom die NG Kerk, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en verskeie ander kerke, waarnemers ontplooi het tydens die verkiesing.

Die groep gelowiges het ook op 5 Mei, kort voor die verkiesing, met politieke leiers vergader om te bid vir ’n regverdige verkiesing.

“Hulle (die politieke leiers) het gekom om te luister, nie om te praat nie,” sê Venter.

Die NG Kerk wil egter ook “nie net bid nie”, maar daad by die woord voeg.

Daarom het hy verlede jaar ’n taakspan vir anti-rassisme, versoening en geregtigheid saamgestel om ongelykhede in Suid-Afrika te takel.

Die taakspan sal ’n geskrif saamstel om kerke te help om gesprekke aan die gang te kry wat eenheid en versoening bemiddel.

Venter is wel onder geen wanindruk oor die ongelykhede in haar eie kerk nie.

Die NG Kerk staan jare al bekend as ’n hoofsaaklik wit, Afrikaanse kerk.

“As mense na die breë prentjie kyk, doen ons nie goed nie, maar ons kan nie net na die breë prentjie kyk nie.

“Daar is baie gemeentes wat baie goeie werk doen en wat al heeltemal geïntegreerd is,” sê Venter.

Op ’n praktiese vlak wil hulle verandering “so plaaslik as moontlik” bewerkstellig en Venter moedig kerke aan om by plaaslike kwessies aan te sluit.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is uiters ironies dat die NG Kerk vir die Suid-Afrikaanse regering sê: “Hou by jou vaste beginsels”. Dit nadat die NG Kerk feitlik alle teologiese beginsels prysgegee het. Kyk artikels in die “Kyk ook” blokkie aan die bokant.

1 thought on “NG Kerk ‘preek’ vir regering: ‘Moenie eiebelang voor beginsels stel’”

  1. Dr Nioma Venter reken dat die NG Kerk vir die regering ‘n les kan leer om van eiebelang te vergeet en by vaste beginsels te bly. Verder sê sy dat die NGK ongeregtighede en ongelykheid aanpak en dat daar ‘n taakspan is wat ’n geskrif saamstel om kerke te help om gesprekke aan die gang te kry wat eenheid en versoening bemiddel.

    Hoe kan ek as lidmaat die NGK se leierskap glo wat na my mening bepaalde teologiese en kerkordelike beginsels prysgegee het? Daar is ‘n hele aantal gemeentes en lidmate wat standpunt inneem teen onbybelse besluite wat by Algemene Sinode-vergaderings geneem is. Vir my lyk dit asof hulle self nie die pad van eenheid en versoening loop nie en aan hulself magte toeëien wat nie op die gereformeerde leer geskoei is nie.

    Moet die NGK leierskap nie na hul eie preek luister, die daad by die woord voeg en liewer op hul eie werf skoonvee nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui