Kyk ook:
*******
Boekevat: Oor die duiwel en Van Wyk Louw se wingerd | Netwerk24
Charl-Pierre Naudé
24 Junie 2024
Een van die interessantste temas in die kunste handel oor kunstenaars “wat hul siel aan die duiwel verkoop” ter wille van sukses.
Die storie gaan gewoonlik oor ’n kunstenaar wat in sy of haar jeug ’n verdrag met die duiwel gesluit het. Die duiwel kry die kunstenaar se siel in ruil vir ongekende sukses aan die kunstefront. Dit word dan ’n ruiltransaksie waarin gekies word vir die tydelike teen die ewige.
’n Kunstenaar aan wie ’n mens dink, is die blues-legende Robert Johnson. Hy het glo by ’n kruispad gestaan toe hy sy verdrag met die duiwel gesluit het.
In ’n biografiese onderhoud met Bob Dylan verwys Dylan na “die pakt” wat hy as jong man met “the commander-in-chief of the universe” gesluit het. Nou glo sommige hy het na die duiwel verwys.
Daar is mense wat dink dat die Duitse skrywer-digter-dramaturg Johann Wolfgang von Goethe, een van die sonderling mees begaafde individue in die geskiedenis van die kunste, die hulp van die duiwel in sy prestasies moes gehad het. Dié vermoede is waarskynlik weens Goethe se ikoniese dramas wat hy oor Faust geskryf het, gegrond op die mite van ’n wetenskaplike (Faust) wat sy siel aan die duiwel verkoop het om oorstygende wysheid te bekom.
Die eerste deel van die drama het pas in Afrikaans verskyn in ’n ontsagwekkende vertaling uit die klassieke Duits deur Robert Schall.
Dan is daar is ook die geval van die Russiese digter Alexander Blok, wat glo by die okkulte betrokke was. Hy is deur Anna Akhmatova beskryf as iemand wat ’n onbegryplike persoonlike krag uitgestraal het, wie se oë glo die universum weerspieël het.
Vir Akhmatova, op wie onder andere Isaiah Berlin ’n crush gehad het en wat ’n leeftyd se liefde in een nag van helaas platoniese gesprekke met haar moes inpas om so iets te sê, wel, Blok moes seker ’n formidabele skaduwee gesny het.
Wat sit agter hierdie tema?
Dat die mens, of hy nou op ’n troon of op die toilet sit, nié die grootste skepsel in die heelal is nie, is beslis ’n moontlikheid. Maar hoe die mens die heelal verstaan, kan nooit vanuit ander terme behalwe sy eie subjektiewe “storieterme” verstaan word nie – of daardie “storie” nou die wetenskap, of die Bybel, of die filosofie, of wat ook al, is.
Die tema van ’n duiwel in die Westerse tradisie is waarskynlik af te leie uit die politeïsme van die Antieke tyd, waarin die mens verskeie gode aanbid het wat teen mekaar baklei.
Hierdie motief word buite die religie voortgesit in die personas van kunstenaars wat met verdrag die ou motief van die “ander god” in die samelewing begin verteenwoordig het.
Kunstenaars met ’n groot vrees vir ’n loopbaan in die tweedehandsemeubelhandel indien hulle misluk, kan verstaanbaar hulself tot “die duiwel” wend.
Dit is tog die kunstenaar se bykanse plig om met ’n “alternatiewe hemel” vorendag te kom. En die duiwel is ’n vereenvoudigde, dualistiese eksemplaar van die god of godin wat jou te hulp snel – nie uit liefde vir jou nie, maar omdat sy ’n appeltjie te skil het met Zeus.
Waarom sal kunstenaars, wat die kreupelheid van hul mensheid meestal intens ervaar, nie ook ’n bietjie beskerming nodig hê nie? Jy kan nie so roekeloos wees om jou vertroue net in konjak, Van Wyk Louw se wingerd, of brannas en Coke te plaas nie.