NGK-leierskap moet met KS gesels

Kyk ook:

*******

NGK-leierskap moet met KS gesels | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

27 Junie 2024

Henrietta Klaasing vra in “Vee maar eers voor jou eie deur” (26.06), hoe kan sy as ’n lidmaat van die NG Kerk (NGK) die leierskorps van die kerk glo as hulle na haar mening bepaalde teologiese en kerkordelike beginsels prysgegee het?

Dis ’n uiters geldige vraag want in “ ‘Hou by jul beginsels’ preek NGK vir regering” (24.06) meld dr. Nioma Venter, die algemene sekretaris van die NGK se algemene sinode, dat “die kerk kan die regering tog ’n les leer: Hou by jou vaste beginsels”, en verder “die kerk het ’n sentrale belydenis waarheen ons altyd terugkom . . .. daar word nie gekibbel oor sentrale belydenisse nie”.

Hoe op deeske aarde kan die NGK se algemene sekretaris so iets sê, veral ná die landwye dolering-inisiatiewe omrede die NGK nie by sy vaste Bybelse beginsels en belydenisskrifte hou nie? Dink maar aan kwessies soos onder meer getroude selfdegeslag-dominees wat op die preekstoel staan, ontkenning van die letterlike bestaan van die duiwel, goedpraat van saambly voor die huwelik en die betwyfeling van die letterlike opstaan van Christus.

Die Koinonia-sinode van die dolerende en vrygemaakte NG gemeentes het dan juis sy ontstaan gehad weens die NGK se weiering om as deel van sy “ruim huis” by die belydenisskrifte te bly.

Maar die amptenary van die algemene sinode het herhaaldelik botweg geweier om die afgevaardigdes van die Koinonia­sinode te woord te staan – en dis moontlik die rede hoekom Venter steeds onder die wanindruk is dat die NGK by hul belydenisskrifte hou.

Dit sal goed wees as die NGK op alle vlakke in gesprek wil tree met sy beswaarde lidmate en teoloë.

Die Vrystaatse interim moderamen het geweier om een van hul hoog aangeskrewe teoloë, prof. Johan Janse van Rensburg, te woord te staan. En dit nogal nadat hulle in hul Verklaring van Welwillende Voorneme van 11 Maart hulself opnuut verbind het om met almal in gesprek te bly.

Nee wat, Venter en die NGK-leierskap sal nog moet leer dat hulle met hul lidmate en teoloë in gesprek moet tree en by die Bybel en hul belydenisskrifte hou, voordat hulle enige verdere openbare uitsprake maak!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui