Kerke loop leeg – tot 50 NG-gemeentes verklein of gesluit

*******

Kerke loop leeg – tot 50 NG-gemeentes verklein of gesluit | Netwerk24

Seugnet van Zyl

24 Augustus 2024

Dis ’n werklikheid dat al hoe meer kerke se lidmate afneem, of dat die kerke heeltemal moet sluit.

Gemeentes, veral onder die susterskerke, loop leeg. Met dalende lidmaatgetalle kan die instandhouding van sommige kerkgebou nie meer bekostig word nie.

Die terrein en geboue van die NG kerk Quaggapoort in Wespark, Pretoria, is nou in die mark vir R6,25 miljoen. Daar is skaars 15 lidmate oor, van wie die meeste bejaardes is, wat steeds elke Sondag kerk toe kom. Vir die laaste 10 jaar het die kerk nie meer ’n Sondagskool nie. Die bejaarde lidmate se kinders het weggetrek of selfs geëmigreer.

Die kerk wat in 1944 gestig is, kon die afgelope 14 jaar net ’n deeltydse predikant bekostig, sê Anthony Tosen, skriba.

“Kospakkies, wat ’n klomp gesinne in die omgewing gehelp het, het laasjaar opgedroog.”

Tosen was Vrydagoggend besig om die afkondigings, voorbidding en verjaardagwense vir Sondag se erediens voor te berei.

In Julie en Augustus het vyf dominees en/of proponente van elders die dienste daar behartig.

Die Quaggapoort-gemeente het op 15 April 1944 van die moedergemeente Pretoria-Wes afgestig. 1944 was een van die vrugbaarste jare vir gemeentestigting deur die NG Kerk in Transvaal, waar 15 gemeentes benewens Quaggapoort, waaronder Krugersdorp-Noord, Villieria, Bezuidenhoutsvallei, Lyttelton (Pretoria-Suid), Rustenburg-Oos, Kriel (Maraisburg), Johannesburg-Wes, Sanddrif, Parkhurst, Onderstepoort, Randburg (Ferndale), Bremersdorp, Albertyn (Ellisras) en Vereeniging-Wes, gestig is. Van 1945 tot 1949 is nog 63 gemeentes gestig. Van 1950 tot 1959 is nog 120 gemeentes gestig sodat die Transvaalse Kerk, wat in 1939 uit 121 gemeentes bestaan het, binne 20 jaar gegroei het tot 325 gemeentes.

Hendrik Vermooten, argitek van die kerk, en Maria Magdalena de Wet is op 8 Julie 1950 in die Quaggapoort-kerk getroud.

Met die verloop van die jare het die lidmate van Quaggapoort so snel toegeneem dat daar op 22 Januarie 1949 ’n dogtergemeente, Wespoort, gestig is.

Brink Oosthuizen, ’n eiendomsagent van JT Real Estate, behartig nou die verkoop van die NG kerk Quaggapoort.

Hy sê hy het verlede jaar ook ’n ander kerk in die omgewing verkoop.

“Tradisionele kerke se ledetalle het afgeneem. Die demografie van die omgewing het verander. Die Afrikaanse mense het weggetrek. Dis ’n normale migrasie.”

Volgens dr. Déwyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode van die NG Kerk, is daar 50 NG kerke wat die afgelope tyd verklein of gesluit is. Dié gemeentes vorm dan nuwes of sluit by ’n ander gemeente, in sommige gevalle selfs ’n ander denominasie, aan.

“Dit gebeur meer dikwels in die stede as op die platteland. Een van die grootste redes vir die kwynende kerke is die demografie van die omgewing wat verander,” sê Ungerer.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, sê dit gebeur toenemend dat kerke moet saamsmelt weens ’n daling in lidmaatgetalle.

“Kerke ervaar dieselfde as wat met skole en koerante gebeur soos wat leerlinge en lesers verminder.”

Van Wyk sê dat die kerkeiendom aan die gemeente self behoort. Die besluit om ’n kerk te verkoop gebeur volgens hom nie oornag nie. “Daar is baie spesifieke voorwaardes wat eers deur die kerkraad oorweeg moet word.”

Hy sê drie gemeentes, Sasolburg, Sasolburg-Suid en Vaalpark, het onlangs saamgesmelt om die Deo Volente-gemeente te stig. Die nuwe gemeente kies dan die kerk se naam.

Volgens Van Wyk kan ’n kerkgebou vir enigiets anders gebruik word.

“In Suid-Afrika word ’n kerk in 99% van die gevalle waar dit verkoop word, deur ’n ander kerk gekoop.”

In Alberton is daar twee Gereformeerde kerke wat sluit. Dié kerke se lidmate sal dan oorskuif na die Alberton-Wes-gemeente.

5 thoughts on “Kerke loop leeg – tot 50 NG-gemeentes verklein of gesluit”

  1. “Demografie” was geen struikelblok vir Charles Spurgeon nie. Kwynende lidmaatgetalle het net 1 oorsprong: ‘n leraar, ‘n kerkraad en lidmate wat weier om die “self” raak te lees In Openbaring 2 tot 3: louwarm hart, of koue hart, of sataniese hart, of ‘n kompromis hart, of demoniese hekse-brousel van ‘n vermenging van voorgenoemde. Waar die Gees van die Here waarlik brand, verdwyn menslike oorwegings (of flou verskonings) soos bv. “demografie” soos mis voor die son, en ook ander talle sogenaamde “geldige redes of voorbehoude”, wat in wese, ongeldige verskonings is, of selfs leuens.

    1. Dit klink ‘n bietjie te oulik. Nie dat jy nie ‘n punt het nie oor die Gees en ek dink dit is juis die kern van die probleem. Daar hers ‘n ander gees in meeste kerke. En ek se dit onafhanlik van denominasie of tipe kerk.
      1. Oor leer en modus operandi word dmv. konsensus besluit ook word bybelversies maar aangehaal vir dit.
      2. Dit gaan dikwels oor lede se behoeftes en hobbies, veral oor vooraanstaande lede soos Ds/Pastoor en ‘n paar ander sleutelfigure.
      3. Daar is ook ‘n ondersteunersgroep, gewoonlik. Dis diegene wat die vooraanstaande groep gelukkig moet hou om die kerk aan die gang t te hou, want dis die fin. ondersteuners en ook mese wat ander sal intrek.

      Wat tekort skiet is gewoonlik evangelie, bekeering en wersksamheid van die heilige Gees.

  2. Hi Stephan ek dink jy moet weer ‘n bietjie huiswerk gaan goen. Daar is baie Quaggapoort gemeentes in ons land. Van die paar honderd lidmate is daar net ‘n paar gryskop Sassa pensionarisse oor. Die kinders woon en werk elders Die huise in die omgewing is met tyd aan mense verkoop wat nie afrikaans praat nie en jy wil vir my sê die regte leraar en kerkraad?? gaan die saak red? Ek dink jy het tred verloor met die demografie van ons land. Miskien woon jy nog in die dorp van melk en heuning dan is jy gelukkig.

  3. Hoe reken hulle wie is ‘n lidmaat en wie nie (meer nie). Wespark het dalk 10.000 inwoners of so. Dink al NGK was al ‘n minderheid in die verlede gewees. Weste van Pretoria het meer PPKs en AGSsers gehad. Dit was ‘n bloukragie omgewing en mense was ‘n bietjie armer gewees. Yskorwerknemers en dan ook industrie die omgewing. Deel van die ouens was problematies gewees. En voormalige inwoners sal dit vir jou bevestig. Lyk vir my die NGK het totaal kontak verloor daar mense het maar geloop na 1994. Onthou die PTA-Wes gemeente is ook toe toegesluit. Die Technikon het dit nog aan die gang gehou toe, aangesien daar talle Afrikanerstudente was. Maar selfs hulle wou niks van liberale teologie af weet nie. Ook was daar sommige wat gedink het die standaarde was te streng.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui