NG Kerk in Vrystaat vra finaliteit oor gayhuwelike

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk in Vrystaat vra finaliteit oor gayhuwelike | Rapport

Johan Eybers

22 September 2024

Gemeentes van die NG Kerk in die Vrystaat gaan in Oktober finaal besluit oor die kwessie van gayhuwelike, wat dreig om die kerk te laat skeur.

Die Geloofsentrum-gemeente in Bloemfontein het reeds ’n brief aan die Vrystaatse sinode gestuur waarin hy waarsku dat hy nie by die Vrystaat se spesiale sinodevergadering sal deelneem aan kerklike debatte oor homoseksualiteit “wat die kerk van die Here Jesus verdeel en die beeld van die kerk net verdere skade aandoen” nie.

Luidens die brief is daar tans gesprekke binne die Vrystaatse NG Kerk oor die moontlikheid om weg te breek van die Algemene Sinode “na aanleiding van gesprekke oor homoseksualiteit wat nie tot ’n eindpunt kom nie”.

“Die gevoel binne die Vrystaatse NG Kerk is dat standpunt ingeneem moet word. Ons wil julle dus inlig dat die moontlike kerklike debatte nie noodwendig die standpunt van die Geloof­sentrum weerspieël nie,” lui dit voorts.

“Ons verkies om self met ons eie familielede te praat en sal dit ter gelegener tyd doen. Daarom is ons gemeente al geruime tyd besig om ons identiteit te soek in die Woord, in ons roeping en in ons gemeenskap as gelowiges.”

Luidens die brief sal die Geloofsentrum se afgevaardigdes na die sinodesitting “nie ingetrek, betrek of deel wees van enige konflik, skeuring of groepering binne die NG Kerk in die Vrystaat nie. Indien daar gestem moet word oor sake wat verdeeldheid en skeuring kan veroorsaak, sal ons afgevaardigdes die gemeente se bogenoemde standpunt stel, maar buite stemming bly.”

Ds. Rikus Botha, ’n leraar van die gemeente, het teenoor Rapport beaam dat die gemeente ’n standpunt het oor homoseksualiteit, maar dit pastoraal hanteer.

Ds. Jan Lubbe, voorsitter van onderskeidelik die NG Kerk Vrystaat en die Algemene Sinode en moderator van die NG Kerk, het by navraag gesê dat die brief die meeste gemeentes en lidmate in die Vrystaat se gevoelens oor die vergadering weerspieël.

“Die Sinode Vrystaat vergader en debatteer al vier jaar lank oor die kwessie en ons wil nou finaliteit hê. Daar moet op ’n volwasse en Christelike wyse besluit word oor die pad vorentoe,” sê hy.

Volgens hom is daar drie opsies op die tafel: die opskorting van bande met die Algemene Sinode, die verdeling van Sinode Vrystaat in twee streeksinodes, of die verklaring van ’n streeksinode met ’n eie identiteit wat onafhanklik oor beleid- en kerkordelike sake sal besluit. As die besluit implikasies het vir Sinode Vrystaat se verhouding met die Algemene Sinode, sal gemeentes wat hiervan verskil, toegelaat word om by ’n ander streeksinode of ’n ring in te skakel, sê Lubbe.

As Sinode Vrystaat besluit om uit kerkverband te tree, kan gemeentes “in uiterste gevalle” besluit om die NG Kerk te los en die kerk te skeur, sê hy.

“Die regsbeginsel is dat die regte van elke gemeentelid erken moet word en daarom sal gemeentes ’n skikking moet bereik oor hoe die kerk se bates verdeel sal word.

“As die kerkordelike proses nie korrek gevolg word nie, sal dit in ’n hofgeding ontaard.”

Lubbe sê hy hoop dat gemeentes eerder hande sal vat omdat die kerk nie verdere skeuring kan bekostig nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Die Geloofsentrum-gemeente in Bloemfontein neem ‘n uiters lafhartige standpunt in. As hulle werklik hulle identiteit in die Woord soek, sal hulle weet dat Jesus nie gekom het om vrede te bring nie, maar verdeeldheid (kyk Matteus 10:34-39 (Jesus bring nie vrede nie maar die swaard)).

Volgens Lubbe is daar drie opsies:

  1. die opskorting van bande met die Algemene Sinode,
  2. die verdeling van Sinode Vrystaat in twee streeksinodes, of
  3. die verklaring van ’n streeksinode met ’n eie identiteit wat onafhanklik oor beleid- en kerkordelike sake sal besluit.

Ek sien nie hoe opsie 1 ‘n langtermynopsie kan wees nie.

Hoe dit gaan help om twee streeksinodes te hê met totaal verskillende teologiese sieninge binne een denominasie kan nie werk nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui