Jan Lubbe: Herderlike brief by die begin van die lente 2024

Hierdie is geskryf waarskynlik in reaksie in NG Kerk se tyd loop uit; boeliery kan boemerang (Hoffie Hofmeyr, 25 Aug 2024)

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Jan Lubbe skryf: Herderlike brief by die begin van die lente 2024 | Kerkbode

28 Augustus 2024

“As Moderamen is ons verbind tot konstruktiewe gesprek waarin ons mekaar respekteer, in liefde by die waarheid bly oor wie ons is en wat besluit is, begrip vir mekaar se sieninge nastreef,” skryf ds Jan Lubbe, die voorsitter: Moderamen van die Algemene Sinode, in die skrywe hieronder wat vandeesweek aan leraars en lidmate van die NG Kerk gestuur is.

Herderlike brief by die begin van die lente 2024

“Kom ons saai geregtigheid in vrede”

“Wie onder julle is wys en verstandig? Die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.” (Jakobus 3:13, 17-18)

Geagte broers en susters, vriende

Die afgelope Sondag het ons die Bybel in Afrikaans, ons moedertaal, gedenk. ʼn Moedertaal, gebore aan die voet van die berg aan die suidpunt van Afrika. Gebore uit die behoefte om oor grense te kan praat met mense: Khoikhoin herders, Portugese seevaarders, Maleise slawe, Hollandse handelaars, Franse vlugtelinge, Morawiese sendelinge, Xhosa, Griekwa en Sotho anderkant die groot riviere. Afrikaans het ʼn huistaal geword, reistaal, kerktaal, landstaal. In dié taal het ons Gods Woord leer lees, liefkry en leef; dié Woord wat ons oproep tot geloof, hoop en liefde.

Hieroor wil ons uit die hart aan jul skryf.

Die NG Kerk in Suider-Afrika is ʼn kerkfamilie gebore uit die Woord van God. Ons bely dat ons dit ontdek in sy Skepping en sorg, seisoen ná seisoen, selfs wanneer die Skepping sug. Ons bely dat ons sy Woord in die Skrif lees, deur eeue oorgelewer, vertaal en vertolk, sodat ons kinders dit ook in nuwe kontekste kan glo. Ons bely dat ons sy Woord in Christus ontmoet, die mensgeworde Woord wat ons roep tot ʼn lewende verhouding met Hom. Ons bely dat ons sy Woord hoor, deur die Gees ingefluister diep in ons binneste; Hy maak dit ʼn lamp vir ons voet. Ons bely dat ons dit nie altyd verstaan en dikwels nie gehoorsaam – ons is gebroke mense, ons insig beperk, ons wil verhard. Ons bely dat ons nie altyd eenstemmig is oor presies wat die toepassing van Gods Woord in spesifieke omstandighede is nie, byvoorbeeld wanneer ons nadink oor die begin en einde van lewe, oor menslike seksualiteit, oor ekologie en ekonomie. Daarom lees ons dié Woord luisterend, sáám met ál God se kinders wat in eenvoud en vertroue na sý Stem daarin soek, met broers en susters in die ekumene, met gelowiges wat in die wetenskappe óók God se handewerk en wil naspeur. Aan die eenkant stuur ons weg van ʼn fundamentalisme wat die letters van die Bybel ’n starre wet wil maak; aan die anderkant van ʼn vrysinnigheid wat eie rede en oortuigings bó die getuienis van die Gees verhef. Alleen Gód se Woord bly ewig; verbum Dei manet in aeternum (Jesaja 40:8) – nie óns, menslike verklarings daarvan. Laat ons daarom ophou om mekaar te verketter.

Die NG Kerk in Suider-Afrika is as gereformeerde kerkverband getoë en gelouter deur ons eeue-oue belydenis oor God Drie-Enig en Sy verlossingswerk in ons lewens. Wat ons oor Christus glo – God uit God, Lig uit Lig; vleesgeword deur die Gees, gebore uit die maagd, verneder, gely, gesterwe, opgestaan, nou lewend aan Gods regterhand vanwaar Hy na ons toe kom – word in daardie geloofswoorde betuig. Dat die name van Maria en Pontius Pilatus daartussen staan, vertel hóe aards en werklik die Evangelie vir ons is. Dit bemoedig ons wanneer ons in groot én klein gemeentes rondom Woord en sakrament byeenkom; gestaltes van die liggaam van Christus; onderling vir mekaar omgee; ecclesia completa, volledig Kerk. Nie die énigste of selfvoldaan nie – ons verlang na mekaar, soek mekaar op, vra raad, vat hande. Dít is “kerkverband”: Ons bely ’n eenheid én beleef verskeidenheid. Laat ons ophou om verdeeldheid te saai.

Die NG Kerk in Suider-Afrika is ʼn missionale Kerk, gestuur na mekaar en ʼn wêreld in nood, met Woord én brood. Ons word gestuur om in ʼn tyd van groeiende polarisasie en ekstremisme wêreldwyd, na mekaar te draai; vrede te maak in ons huise en buurte, in ons gemeentes. As Moderamen is ons verbind tot konstruktiewe gesprek waarin ons mekaar respekteer, in liefde by die waarheid bly oor wie ons is en wat besluit is, begrip vir mekaar se sieninge nastreef. Waar foute gemaak is, moet ons mekaar dit help raaksien, vergewe, regstel en verder saam op weg gaan. Geen gelowige of gemeente mag weens hul gewetensoortuiging – voor God en sy Woord – gebind of gedwing word nie; ons is in Christus vrygemaak. Terselfdertyd beteken dit nie dat ek kan maak wat ek wil, ten koste van ander òf die Here se gemeente nie; ons het ʼn Kerkorde. Ons word opgeroep om te waak teen selfsug, jaloesie, twis, bitterheid, gekonkel, vyandskap en alles wat onrein is; om ons te beklee met Christus en die vrug van die Gees – Efesiërs 4 en Galasiërs 5. Laat ons gepas en ordelik optree (1 Kor. 14:40).

Ons word ook geroep om weer die gesprekke met ons broers en susters in die VGKSA, NG Kerk in Afrika en Reformed Church in Africa, die Hervormde- en Gereformeerde Kerke in Suider-Afrika ernstig en opreg op te neem. Daarom dat ons sáám op Sondag, 27 Oktober 2024, ons gedeelde erfenis uit die Reformasie wil gedenk. ʼn Week later, op Sondag, 3 November, ons gedeelde herkoms uit die eerste “Algemene Kerkvergadering” van 1824, twee eeue gelede. Hoe kan ons egter dankie-sê sonder om te dink aan die diepste ellende, verwoesting en wanhoop in Palestina waar by die 50 000 lewens al verloor is? Ons moet op Sondag, 6 Oktober 2024 – ʼn jaar ná die uitbreek van daardie geweld – bid vir vrede, getuig oor geregtigheid en die helpende hande versterk. ʼn Gebed om vrede wat óók die Oekraïne, Nigerië en ander plekke van konflik insluit.

Laat ons woorde én dade van vrede spreek.

Ons Sinodelied uit Miga 6 verlede jaar en soos verwoord in ons Roeping 200+ bevestig dit:

“Ons wil doen wat reg is, ons wil liefde bewys, ons wil lewe voor U, bedagsaam loop.”

En ons hoor dit in Jakobus se woorde weerklink:

“… die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.” (3:13, 17-18)

Hartlike groete, hou moed: Christus is ons wysheid!

Ds. Jan Lubbe

Voorsitter: Moderamen van die Algemene Sinode.

Drie gedagtes op “Elders gesien | Jan Lubbe skryf: Herderlike brief by die begin van die lente 2024”

DS HENNIE VAN SCHALKWYK

29 AUGUSTUS 2024 AT 06:33

Die Mederamen se vertolking van die tydsgees is baie goed en aktueel.
Nou is juis die tyd vir vrede en saam staan.
Dit wat ons anders maak, is juis die liefde van God wat ons dring om een van die vrugte van die Heilige Gees naamlik vrede te leef.
Christus het immers gesê:
“My vrede laat ek vir julle na…”
Kom ons leef dit uit en andere sal God se werking in ons lewe raaksien.
Tot Sy eer. Soli deo gloria

RIAAN ESTERHUYSE

29 AUGUSTUS 2024 AT 08:37

Dankie jan waardeer.

MATTHYS STREICHER

29 AUGUSTUS 2024 AT 11:22

Jy kan nie as leier (Sinode) moeilikheid veroorsaak, en dan skynheilig pleit vir vrede nie. Wie het in die eerste plek verdeel? Tog die Sinode! Jy kan ook nie fundamentalisme en vrysinnigheid aanval en dan voorgee jy is outomaties skrifgetrou terwyl jy in dieselfde asem te kenne gee jy is vrygemaak in Christus maar tog net nie gebind en gedwing “deur Christus” nie. Christus en die Woord is sinoniem. Jou geloofsoortuiging is tog Gees gedrewe. Moet ek dan nie daarna luister nie, en maar liewer na die wêreld?

Verdere kommentaar

Daniel Louw

Dit help veel jy sê dat die Moderamen verbind is tot konstruktiewe gesprek as Koinonia Sinode al vele versoeke gerig het om gesprek te voer.

Die vraag is egter: Waaroor kan daar nog sinvol gepraat word.

Miskien is dit tyd dat beide partye erken dan die paaie so gou moontlik moet skei om hierdie lyding te stop.

Kyk Koinonia en die NGK: Skeuring is al oplossing (4 Apr 2024) en Tyd dat Koinonia egskeiding met NGK inisieer? (18 Apr 2024)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui