Verandering van artikel 22 van die Kerkorde 2023

Tydens die NG Kerk se algemene sinode 2023 is punt 22.3 bygevoeg by artikel 22 van die kerkorde:

Artikel 22 lui soos volg en dui die byvoeging aan:

22.1 In meerdere vergaderinge word alleen die sake behandel wat daar tuis hoort of daarheen verwys is deur mindere vergaderinge en wat nie in mindere vergaderinge afgehandel kon word nie.

22.2 ’n Meerdere vergadering het die bevoegdheid om ’n saak wat ’n mindere vergadering moes afhandel, onder die volgende omstandighede te hanteer:

22.2.1 waar ’n mindere vergadering nie bestaan nie; en

22.2.2 in die geval van onvermoë of wanbestuur by die mindere vergadering.

Byvoeging:

22.3 ‘n Meerdere vergadering kan in die geval van wanbestuur of onvermoë ‘n mindere vergadering ontbind en hersaamstel en/of onder die meerdere vergadering se bestuur plaas.

Vir die NG Kerk se volledige kerkorde, kyk ngkerk.org.za. of kerkargief.co.za/acta.

In die tabel hieronder word vier scenarios van ‘n meerdere vergadering teenoor ‘n mindere vergadering gewys:

Meerdere vergadering Mindere vergadering
1 Algemene Sinode Streeksinode
2 Streeksinode Ringsitting
3 Ringsitting Kerkraad
4 Kerkraad Finansiële kommissie

Volgens behoudendes is hierdie besluit stil-stil gemaak om dit moeiliker te maak vir behoudende lidmate, vir leraars en kerkrade om deur kerklike kanale beswaar te maak teen die besluite van die algemene sinode wat in stryd is met die Bybel (kyk RSG: Konserwatiewe NG’s hou weer Koinonia Sinode (onderhoud met Anton Knoetze, 9 Sep 2024)).

Volgens behoudendes laat hierdie verandering toe dat byvoorbeeld ‘n Ring kan besluit om ‘n behoudende kerkraad te ontbind en sodoende behoudendes te verhoed om in opstand te kom teen die NG Kerk.

Om ‘n voorbeeld te noem: NG gemeentes Tafelberg, Die Strand en Hluhluwe het onlangs hulle bande opgeskort met die NG Kerk. Die Ringe van daardie gemeentes het daarna druk op die behoudende predikante en kerkrade geplaas en het die predikante selfs gedreig dat hulle geskors sou word. Indien die kerkraad egter by die predikant staan, is daar nie veel wat die Ring kan doen nie. Sou die Ring wel die predikant skors, sou die predikant hoogstens sy predikantstatus verloor en nie beroepbaar wees na ander NG gemeentes nie. As die kerkraad egter besluit om voort te gaan om die predikant se salaris te betaal, het dit geen impak op die predikant nie.

Behoudendes glo dat hierdie byvoeging tot artikel 22 poog om behoudende kerkrade te ontbind sodat die predikant nie beskerm kan word nie.

Volgens Johann Ernst:

Is die aanbeveling vir die byvoeging van Artikel 22.3 in die agenda vir die vergadering opgeneem? Die antwoord is: Nee. Dit is in die addendum tot die agenda opgeneem wat slegs ’n maand voor die vergadering elektronies gepubliseer is. Die Reglement van Orde bepaal dat verslae van taakspanne, waaronder die Algemene Taakspan Regte (ATR), minstens drie maande voor die vergadering ingedien moet word. Dringende sake wat binne die drie-maande-tydperk voor die vergadering voorkom en deur taakspanne behandel is, mag by wyse van addendumverslae, met verlof van die taakspan vir die agenda, ter tafel gelê word. Lubbe praat dus nie die waarheid as hy sê dat dit “lank voor die tyd” in die agenda gepubliseer is nie. In die verslag van die ATR word nie gesê of daar ’n opdrag tot die byvoeging van Artikel 22.3 gegee is nie. Daar is geen aanduiding van ’n “lang proses van konsultasie” nie. Veranderinge aan die Kerkorde geskied na deeglike studie. Dit het opsigtelik nie gebeur nie.

(Uit Blik op die Kerkorde: Word dit moeiliker om beswaar teen besluite van die Algemene Sinode te maak?, 13 Sep 2024, Johann Ernst):

Hieruit kan ‘n mens nie aflei dat die verandering onkerkordelik gedoen is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui