Wanneer is Genesis 1 tot 11 geskryf?

Opsomming

Daar is ‘n debat oor wanneer Genesis 1 tot 11 geskryf is. Sommiges glo dat Moses dit geskryf het terwyl ander glo dat dit tydens ballingskap vir die eerste keer opgeteken is.

Volgens Joodse en Christelike tradisies is Genesis, saam met die ander vier boeke van die Pentateug, deur Moses geskryf. ‘n Mens kan egter nie uit die Bybel self aflei dat Moses ook Genesis geskryf het nie.

Daar is ‘n paar aanduidings dat Genesis 1 tot 11 nie eers jare later tydens die 70 jaar ballingskap opgeskryf is nie:

  • Genesis 5, 10 en 11 bevat detail geslagsregisters wat toledote bevat. Die toledote is ‘n aanduiding dat dit op kleitablette geskryf is deur verskillende mense.
  • Die sondeval moes ‘n werklike gebeurtenis wees omdat dit krities is tot die verstaan van die rede waarom Jesus na die aarde toe moes kom om vir ons plek aan die kruis te sterf.
  • Die Bybel verwys op heelwat plekke in die Bybel, uitgesluit Genesis, na Adam en Noag as werklike persone.

Hierdie inligting stem ooreen met die tabletteorie of Wiseman-hipotese wat sê dat Genesis op kleitablette geskryf is kort nadat dit gebeur het. Genesis is saamgestel uit hierdie bronne. Die oorspronklike samesteller van Genesis kon Moses wees, maar nie noodwendig nie.

Inleiding

Daar is ‘n debat oor wanneer Genesis 1 tot 11 geskryf is. Sommiges glo dat Moses dit geskryf het (ongeveer 1491 vC tot 1451 vC) terwyl ander glo dat dit tydens ballingskap (607 vC tot 537 vC) vir die eerste keer opgeteken is. Laasgenoemde glo gewoonlik dat Genesis 1 tot 11 nie letterlik gebeur het nie omdat ‘n letterlike verstaan van Genesis 1 tot 11 onversoenbaar is met die “wetenskap” (evolusie en miljoene jare).

Wat is opgeskryf in Genesis 1 tot 11

Kom ons kyk eers wat staan in Genesis 1 tot 11:

Die res van Genesis gee die geskiedenis van Abraham, Isak, Jakob en Josef wat na Egipte ontvoer is en hoe God redding gebring het deur Josef se drome.

Om te bepaal wanneer Genesis 1 tot 11 opgeskryf is, is daar ‘n paar dinge wat in ag geneem moet word.

Sê die Bybel dat Moses die outeur van Genesis was?

Volgens Joodse en Christelike tradisies is Genesis, saam met die ander vier boeke van die Pentateug (Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), deur Moses geskryf. In Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 4 word gesê:

Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium…

Die Nuwe Testament verwys ongeveer 80 keer na Moses as die outeur van die boeke Eksodus tot Deuteronomium (kyk Verwysings in die Nuwe Testament dat Moses die Wet opgeskryf het). Daar is egter nêrens in die Bybel ‘n aanduiding dat Moses die outeur van Genesis is nie. Dit beteken natuurlik nie dat Moses nie die oorspronklike outeur was nie, maar dit open die deur dat ander skrywer Genesis oorspronklik geskryf het.

Geen ooggetuies tydens skepping

Toe God die heelal geskep het, was daar geen ooggetuies nie. Dus moes God dit aan mense geopenbaar het. Ons weet van twee mense met wie God gepraat het soos ‘n vriend: Adam (Genesis 3:8) en Moses (Eks 33:11). Dit bring ons by vier moontlikhede:

1. God het dit aan niemand geopenbaar nie

As God dit aan niemand geopenbaar het nie, dan is Genesis 1 bloot ‘n mite wat uitgedink is.

2. God het self Genesis 1 geskryf

Ons weet dat God die 10 gebooie met sy vinger geskryf het (Eks 31:18 en Eks 32:16) en aan Moses gegee het na die uittog uit Egipte. Dit is moontlik dat Hy dit ook met Genesis 1 gedoen het.

3. God het dit aan Adam vertel

Ons weet dat God saam met Adam in die tuin van Eden gewandel het (Gen 3:8). Daarom sou God vir Adam kon vertel hoe Hy geskep het waarop Adam, wat 930 jaar oud geword het, dit self kon neerskryf of aan iemand anders kon vertel wat dit neergeskryf het.

Net soos Adam van die begin af kon praat, is dit seker ook moontlik dat Adam van die begin af kon skryf. En selfs indien Adam nie kon skryf nie, het hy 930 jaar gehad om aan ander te vertel sodat hulle dit kon opskryf.

4. God het dit aan Moses vertel

As Moses die oorspronklike outeur van Genesis was kon Genesis 1 mondelings oorgedra word of God kon dit aan Moses vertel het in die tent van ontmoeting waar Hy direk met Moses gepraat het.

Geslagsregisters

Reeds baie vroeg in die Bybel word gedetaileerde geslagsregisters gegee van die eerste mense op aarde:

  • Genesis 5: Adam tot Noag
  • Genesis 10: Sem, Gam en Jafet se geslagsregister.
  • Genesis 11: Van Sem tot by Abraham.

Hierdie geslagsregisters is in baie detail opgeteken. Genesis 5 begin soos volg met Adam se geslagsregister:

(3)Toe Adam 130 was, het hy die vader geword van ‘n seun, sy beeld, een soos hyself. Adam het hom Set genoem. (4)Nadat Set vir hom gebore is, het Adam nog 800 jaar geleef en seuns en dogters gehad. (5)Adam was dus 930 jaar toe hy gesterf het.

(6)Toe Set 105 was, het hy die vader geword van…

Die res van Genesis volg dieselfde formaat en hierdie formaat word ook in Genesis 11 gevolg.

Dit is baie onwaarskynlik dat hierdie inligting deur mondelinge oordrag alleen behoue sou bly totdat Moses dit kon opskryf in ongeveer 1491 vC. Tensy God hierdie inligting bonatuurlik aan Moses gegee het, soos God ook die Wet aan Moses geopenbaar het.

Hierdie geslagsregisters bevat egter toledote. ‘n Toledoot word gebruik om gedeeltes op ‘n kleitablet te begin of af te sluit, byvoorbeeld: “Hierdie is die generasies van…”.

Die voorkoms van toledote in Genesis is ‘n sterk aanduiding dat Genesis waarskynlik deur verskillende mense geskryf is.

Eerste aanduidings van geskrewe teks in die Bybel

Die eerste keer waar ons in die Bybel lees van mense wat dinge opgeskryf het is in Eksodus 17:14 waar die Here vir Moses opdrag gegee het om Sy woorde op te skryf. Kyk Verwysing na skrywers in die Ou Testament voor die tyd van Dawid.

Dit is egter algemeen bekend dat tablette reeds lank voor Moses gebruik was om geskiedenis op te teken in die antieke Nabye Ooste, veral in Mesopotamiese beskawings. In die Louvremuseum in Parys, Frankryk is daar ‘n kalksteenbeeld van ’n Egiptiese skriba uit die vyfde Egiptiese dinastie, ongeveer 2400 vC – dit is voor Abraham se tyd. Die skribas was belangrike persone in die gemeenskap wat die alledaagse besonderhede van hulle kultuur neergeskryf het.

Dit beteken dus dat geskrewe skrif reeds lank voor Moses bestaan het en dat die hele Genesis, veral die geslagsregisters, voor Moses opgeskryf kon wees.

Hoekom nie tydens ballingskap nie?

Daar is ‘n paar redes hoekom Genesis 1 tot 11 ware geskiedenis is en nie bloot as mites neergeskryf is tydens ballingskap nie:

Geslagsregisters

Soos reeds gesê, verwys die geslagsregisters duidelik na ware mense.

Sondeval

Die sondeval is krities tot die verstaan van die rede waarom Jesus na die aarde toe moes kom om vir ons plek aan die kruis te sterf. Dit word baie pertinent in Romeine 5:12-21 en 1 Korintiërs 15:21-56 genoem.

Verwysing na Adam as werklike persoon

Buiten Genesis, verwys die volgende dele in die Bybel na Adam:

  • 1 Kron 1 : As deel van die geslagsregister in 1 Kronieke.
  • Luk 3:38 : As deel van die geslagsregister in Lukas.
  • Rom 5:12-21 : Die ooreenkoms tussen Adam en Christus: Deur die oortreding van een mens (Adam) het sonde in die wêreld gekom en deur die gehoorsaamheid van een mens (Jesus) is die sonde oorwin.
  • 1 Kor 15:22,45 : Die dood het deur een mens (Adam) gekom en die opstanding uit die dood het ook deur een mens (Christus) gekom.
  • 1 Tim 2:13-14 : Paulus maak uitspraak dat die vrou onderdanig moet wees aan die vrou omdat Adam eerste geskape is.
  • Judas 1:14 “Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het.”

Volgens hierdie dele is dit duidelik dat Adam nie ‘n fiktiewe persoon was nie.

Verwysing na Noag werklike persoon

Buiten Genesis, is daar heelwat verwysings na Noag as werklike persoon:

  • 1 Kron 1:4 Geslagsregister
  • Jes 54:9 Soos met die waters van Noag is dit vir My: soos Ek met ‘n eed bevestig het dat die waters van Noag nie weer die aarde sal oorstroom nie, so bevestig Ek met ‘n eed dat Ek nie langer toornig op jou sal wees en jou sal straf nie.
  • Esg 14:14,20 God praat met Esegiël en noem Noag, Daniël en Job wat volgens Sy wil geleef het.
  • Mat 24:37-38 Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.
  • Luk 3:36 Geslagsregister
  • Luk 17:26-27 Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
  • Heb 11:7 Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red.
  • 1 Pet 3:20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.
  • 2 Pet 2:5 Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.

Dit is baie duidelik dat die skrywers van die Bybel geglo het dat Noag ‘n werklike persoon was en dat daar werklik ‘n sondvloed was.

Tabletteorie

Al bogenoemde het aanleiding gegee tot die tabletteorie, wat beweer dat verskillende aartsvaders (soos Adam, Noag, Abraham, ens) hul eie familiegeskiedenis op tablette opgeteken het. Hierdie rekords is later deur Moses of selfs ‘n ander redakteur saamgestel om Genesis te vorm.

Ten slotte

Persoonlik vind ek baie aanklank by die tabletteorie wat ongeveer die volgende sê:

  • God het aan Adam vertel hoe Hy die heelal geskape het.
  • As skrif nie reeds van die begin van die skepping bestaan het nie, het dit waarskynlik na 50 of 100 jaar ontwikkel na die skepping.
  • Die geslagsregister in Genesis 5 eindig met “Toe Noag 500 was, het hy die vader geword van Sem, Gam en Jafet.” Dit noem dus nie wanneer Noag gesterf het nie en is daarom hoogs waarskynlik reeds voor die sondvloed op kleitablette opgeskryf.
  • Genesis 1 tot 4, wat die skeppingsverslag insluit, is waarskynlik ook voor die sondvloed op kleitablette opgeskryf.
  • Noag het hierdie kleitablette saam met hom op die ark geneem om te bewaar.
  • Genesis 12 tot 50 is waarskynlik opgeskryf kort na die werklike gebeure.
  • Moses het dus slegs Eksodus tot Deuteronomium opgeskryf.

Bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui