Is die Bybel nie meer God wat praat nie?

*******

Is die Bybel nie meer God wat praat nie? | Netwerk24

Fanie Le Roux, Parys

Volksblad, 30 September 2024

Die brief “Klagtes oor kerk gewoon onsin” (27.09) verwys.

Die algemene sinode se skewe Skrifbeskouing kom duidelik in hierdie skrywe na vore. Die Bybel is hoofsaaklik ’n (menslik) geskrewe boek wat ’n geskiedenis van ontwikkeling en redaksies deurloop het en wat deur mense en kerke verskillend geïnterpreteer kan word.

Dit propageer eintlik die relatiwiteit van Bybelse gesag. Daarom word geglo dat sekere dele van die Bybel minder gesag het as ander omdat dit uit ’n ander kultuur en tyd kom.

Ook dat ons nog steeds (evolusionêr?) op soek mag wees na die regte verstaan van die Bybel vir ons tyd. Wat eintlik beteken dat Skrifgesag bepaal word volgens die gangbare denke van ons sekulêre samelewing. Om polities korrek te wees is eintlik al wat belangrik is.

Dat die Bybel God is wat met ons praat, soos die Gereformeerde leer dit duidelik stel, verdwyn so gaandeweg uit die prentjie. Eintlik is dit die herlewing van die ou dwaling dat die Woord van God “in” die Bybel is.

Het ons kerkleiers dit nie in dogmageskiedenis geleer nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui