Eerder geroepenes in eenheid van ware geloof

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Eerder geroepenes in eenheid van ware geloof | Netwerk24

Ds. Jan Lubbe, Bloemfontein

07 Augustus 2024

Ek antwoord graag op dr. Henriëtta­ Klaasing se vrae in haar jongste brief aan my (“Leier­ se stellings nie klinkklaar”, 01.08). Ek is dankbaar dat sy die RSG-onderhoud op 23 Julie “onderhoudend” gevind het en saamstem dat ons “moet wegbly van ’n magspel”.

Haar eerste vraag is of ek “die eenheid van die kerk bo die waarheid van die Woord” stel?

Nóg die Nuwe Testament nóg ons Christelike belydenis maak so ’n teenstelling. In sy gebed vir sy dissipels en die kerk bid Jesus in dieselfde asem dat God ons “in die waarheid van sy woord sal heilig”, “ons ín Hom een sal maak sodat die wêreld kan glo” en dat “die liefde van God in ons sal wees” (Joh. 17:17-26). Paulus pleit oor dié “een liggaam, een Gees, een Here, een geloof, een God en Vader van almal” dat ons ons op “die eenheid wat die Gees bewerk”, sal toelê (Ef. 4:1-6). Wanneer die Heidelbergse Kategismus ons belydenis van die “een, heilige, algemene Christelike kerk” uitlê, word ons geroepenes genoem, “deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof”. Dís my oortuiging.

Klaasing se tweede opmerking – dat ek oor seksualiteit na die mediese wetenskap en sielkunde verwys het en nie ook na “wat in die Bybel (daaroor) staan nie” – veronderstel nog ’n teenstelling. My enkele opmerking in dié verband was dat ons as Christene na “goeie wetenskap” en die bevindings van “Christen-dokters en -sielkundiges” kan luister omdat ons menswees en seksualiteit deel is van God se skepping en húlle die eksegete van daardie Skeppingswoord. Dit doen geen afbreuk aan die ryk Bybelse spreke oor die misterie van liefde en seksualiteit, skoonheid, seën, skaamte, respek, versorging, erotiek, liefdestrou, gebrokenheid en vergifnis nie.

Derdens vra Klaasing: “Staan daar nie in die Bybel dat Jesus die enigste Weg tot saligheid is nie”? Drie keer in die onderhoud het ek – gedagtig aan Jesus se woorde dat Hy “die weg, waarheid en lewe (is)” en “niemand na die Vader (kom) behalwe deur My” (Joh. 14:6) – presies dít gesê: Christus is ons Heiland, enigste Middelaar tussen God en mens. Dat ek sy boodskap oor die “koninkryk van die hemel (wat) nabygekom het” glo en herken daar waar mense verander sodat lig, geloof, troos, sagmoedigheid, geregtigheid, barmhartigheid, reinheid en vrede ’n werklikheid word (Matt. 5:3-16).

Kommentaar

Daniel Louw

Jan Lubbe verdedig verniet. Kyk wat het hy gesê in sy onderhoud (RSG: Land en sand: Jan Lubbe (23 Jul 2024)):

Hier waar ek nou sit en oor my skouer kyk sal ek die boek van Desmond Tutu raaksien waarin die baie omstrede stelling is: “God is not a Christian”

In plaas daarvan om Tutu te kritiseer (en Tutu het nog baie meer oor hierdie onderwerp gesê) gaan hy voort:

As jy die vier evangelies lees …, het Hy nie in die eerste plek met mense gepraat oor hoe hulle in die hemel kom nie.

Waar is die hemel? Ek dink Jesus het gesê: die hemel is waar God is. En dit kan wees in die verhoudinge van mense, in die heelheid van die skepping. Waar is die hel dan? Waar God nie is nie.

Abraham het Jesus nie geken nie. En tog noem Hebreërs 11 Abraham een van die gelowiges wat in die hemel, …

Ons moet eerstens baie versigtig wees om my kerk, my tradisie, my lees van die Bybel te verhef tot “dit is die enigste weg na saligheid”. Ek het nie die waarheid beet nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui