Mag die kerk net die waarheid verkondig

*******

Mag die kerk net die waarheid verkondig | Netwerk24

Kobus Visser, Middelburg

17 Oktober 2024

Ek verwys na Marius Swart se brief “Hanteer verskille eerder op ’n Christelike wyse” (14.10).

Daar was en sal altyd verskille in die kerk wees omdat die kerk uit feilbare mense bestaan.

Daar is die laaste sowat 40 jaar baie ernstige verskille. Daar is basies twee groepe: die behoudendes en die liberales. Albei groepe beweer dat hulle die Bybel ernstig opneem as die Woord van God. Hoekom dan die verskillende interpretasies?

Die een groep glo in absolute waarheid en vir die ander groep is waarheid relatief. Die liberales glo dit is die wonderlikste ding as jy sê jy soek na die waarheid, maar die mees arrogante ding om te sê jy het die waarheid gevind. Vir hulle is dit ’n deug om te sê jy weet nie. Dit is egter ’n vals nederigheid.

Die bekende prediker Charles Spurgeon het gesê:

“Some speak of new developments as though we had not discovered the whole Christian religion yet; but the religion of Paul is the religion of every person who is taught by the Holy Spirit. We must not, therefore, indulge for a moment the idea that something has been discovered that might correct the teaching of Christ, that some new philosophy or discovery has arisen to correct the declared testimony of our Redeemer. Let us hold tightly to the faith that was once delivered unto the saints.”

God is lig en Hy openbaar die waarheid aan sy kinders wat ernstig daarna soek. ’n Mens kom nie deur geleerdheid tot kennis van God nie – deur jou verstand die oorsprong van jou kennis te maak nie. Ons kan God en die waarheid ken omdat Hy dit aan ons openbaar deur sy Gees (Johannes 17:3).

Dit beteken nie dat ons in ons persoonlike lewe alle waarheid in pag het nie, maar dat ons steeds besig is om te groei. Ons moet in liefde by die waarheid bly en die waarheid aan mense verkondig sodat hulle kan vrykom van hulle sonde. Hoe kan hulle vrykom as ons as kerk nie die waarheid verkondig nie? Mag dit waar word in die kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui