Dominee Frikkie skuldig aan die negende gebod?

Ds Frikkie van Niekerk van Die Strandgemeente in die Kaap is onlangs aangekla van die aflegging van vals getuienis. Dit is nadat hy op Hervormingsondag op 29 Oktober 2023 tydens ‘n erediens ‘n skrywe van prof Hoffie Hofmeyr voorgelees het waarin hy na “ernstige dwalinge” in die NG Kerk verwys het. ‘n Jaar later het die Ring hom skuldig bevind waarop Ds Frikkie die volgende skrywe aan sy gemeente uitgestuur in Oktober 2024:

Liewe vriende in Jesus Christus,

Baie dankie vir u gebede en ondersteuning oor die afgelope ses jaar, maar veral die afgelope drie maande sedert die klag van die oortreding van die negende gebod, (Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie) amptelik deur dr Christo Benadé, ds John en mev Martie Smit van Suiderstrand, teen my as leraar by die Ring van Somerset-wes, ingedien is.

Klagstaat

Die klag wat ondersoek sal word, behels dat u, ds Frikkie van Niekerk, u skuldig gemaak het aan die oortreding van die negende gebod: “Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie” (Eksodus 20:16; 2020-vertaling), deurdat u op 29 Oktober 2023 aan die einde van die Hervormingsdiens wat u as prediker en liturg gelei het, by die Strand moedergemeente, ’n verklaring voorgelees het. Hierdie verklaring het die volgende openlike leuens bevat:

“Ons getuienis is dit: verskeie ernstige dwalinge wat in die NG Kerk geduld en bevorder word onder die dekmantel van diversiteit, die filosofie van die ruim huis, is byvoorbeeld:

  1. Die ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte;
  2. Sy liggaamlike opstanding;
  3. Die ontkenning van Satan as ’n persoonlike wese;
  4. Die ontkenning van die Godheid van Jesus;
  5. Die minagting van die gesag van die Bybel;
  6. Asook afwykende Skrifbeskouïngs;
  7. on-Skriftuurlike besluite oor sake soos selfdegeslagverhoudinge en die Christelike huwelik.

Hierdie stellings verdraai die waarheid, bring verwaring en rig skade aan in Die Strand Moedergemeente, deur dat lidmate wat nie daarmee saamstem nie, sonder meer van die kerk vervreem.

Bevinding

Die gevolmagtigde ringstugliggaam van die Ring van Somerset-wes oordeel dat u, ds Frikkie van Niekerk, u wel skuldig gemaak het aan die oortreding van die negende gebod: “Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie” Eksodus 20:16; 2020 verklaring, soos gestel in die voorafgaande klagstaat.

In die beredenering van die tughandeling het die tugliggaam besluit om u slegs skriftelik te waarsku oor u optrede, met verslag aan die kerkraad as u werkgewer, asook die ringskommissie.

Eerstens is dit opmerklik dat Ds Frikkie met so ‘n ligte straf weggestap het na die skuldigbevinding van ‘n ernstige wandaad: As ‘n ampsdraer in die NG Kerk het hy volgens die Ring nie net gelieg nie, maar hy het ook die NG Kerk se naam beswadder in die proses.

Tweedens is dit nie Ds Frikkie se eerste “oortreding” nie. In 2021 is hy en sy gemeente ook van leuens aangekla nadat hulle besluit het om te doleer (kyk Opsomming: Die Strand doleer).

Daar is twee moontlikhede hoekom hy so lig daarvan afgekom het:

  1. Die NG Kerk tug mos nie meer mense nie (kyk Lys van leerdwaling aanklagtes).
  2. Die Ring weet dat hulle bluf met die skuldigbevinding.

Die Ring het vir hulleself ‘n lat gepluk toe hulle ds Frikkie aangekla het:

  • As die Ring hom onskuldig sou bevind het, dan sou dit ‘n erkenning wees dat daar growwe dwaling in die NG Kerk is.
  • As die Ring hom ‘n swaarder straf wou gee, sou die saak verdere aandag trek en dit wou die Ring waarskynlik vermy omdat die dwaling in die NG Kerk net nog meer uitgelig sou word.

Dit is waarskynlik daarom dat Ds Frikkie slegs met ‘n ligte tikkie oor die vingers weggekom het.

Om terug te kom na die kwessie of Ds Frikkie valse getuienis afgelê het met die sewe genoemde punte. Vir elkeen van die genoemde punte is daar meer as genoeg voorbeelde wat gebruik kan word om dit te staaf:

1. Die ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte

Kyk Die NG Kerk en Jesus se maagdelike verwekking.

2. Jesus se liggaamlike opstanding

Kyk Die NG Kerk en Jesus se opstanding.

3. Die ontkenning van Satan as ’n persoonlike wese

Kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose.

4. Die ontkenning van die Godheid van Jesus

Kyk Opsomming: Peter Nagel aangekla vir leerdwaling.

5. Die minagting van die gesag van die Bybel

Punt 1 tot 4 hierbo is niks anders as om die gesag van die Bybel te minag nie. Kyk ook Die NG Kerk en skrifgesag.

6. Afwykende Skrifbeskouïngs

Alles wat reeds genoem is, is genoeg bewys dat daar afwykende Skrifbeskouings in die NG Kerk geduld word. Kyk ook:

7. On-Skriftuurlike besluite oor sake soos selfdegeslagverhoudinge en die Christelike huwelik

Die NG Kerk het ruimte gemaak vir selfdegeslagverhoudings, wat die Bybel ‘n gruwelike sonde noem, en verder gegaan deur ‘n besluit goed te keur om ‘n huweliksformulier te skryf vir selfdegeslaghuwelike. Kyk

Gevolgtrekking

Net soos in 2021 kon die Ring weereens nie daarin slaag om te oortuig dat Ds Frikkie leuens vertel het nie. Trouens, die Ring het maar net weereens ‘n geleentheid geskep om die dwalinge in die NG Kerk uit te wys.

Verder is dit baie duidelik dat dit die Ring is wat skuldig is aan valse getuienis – nie Ds Frikkie nie.

1 thought on “Dominee Frikkie skuldig aan die negende gebod?”

  1. Dis duidelik dat Frikkie en die kerkraad van Strand gemeente in dieselfde bootjie is as Petrus en Johannes was in Hand. 4.
    Hulle is reg maar dit pas nie die Groot Raad se verkeerde teologie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui