NG moderator in die sop oor ‘ander weg na verlossing’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG moderator in die sop oor ‘ander weg na verlossing’ | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 01 Februarie 2025

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, is vertroulik deur die kerk verhoor weens beskuldigings dat hy in ’n radio-onderhoud stellings gemaak het “wat radikaal van die amptelike en kerkregtelike standpunt van die kerk verskil”.

Die ringkommissie van Bloemfontein-Noord het in November ’n ondersoekliggaam aangestel wat stil-stil ’n voorlopige ondersoek begin het om te besluit of daar ’n formele kerklike tugondersoek teen Lubbe ingestel moet word.

Die ondersoekliggaam het besluit om nie ’n formele kerklike tugondersoek in te stel nie, maar aanbeveel dat verdere gesprekke gevoer moet word oor die teologiese kwessies wat aan die lig gebring is.

Die klaer, emeritus professor Johan Janse van Rensburg, appelleer nou teen dié besluit.

Sowel Lubbe as Janse van Rensburg het op 2 Desember agter geslote deure hul saak gestel.

Janse van Rensburg voer aan Lubbe het op 23 Julie verlede jaar in ’n onderhoud op RSG dinge gesê “wat die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte van die Kerk uitdruklik weerspreek”.

Een van die mees omstrede stellings in die onderhoud was toe Lubbe na die boek van wyle aartsbiskop Desmond Tutu God is not a Christian verwys het.

Lubbe het gesê: “Hier waar ons nou sit, as ek nou oor my linkerskouer kyk, sal ek die boek van Desmond Tutu op die rak raaksien waarin die stelling is wat hy gemaak het wat baie omstrede is: God is not a Christian.”

Volgens Janse van Rensburg het Lubbe in die onderhoud daarop gewys dat mense wat nie in Jesus Christus glo nie, steeds gered kan word.

Lubbe het in die onderhoud Abraham as voorbeeld gebruik en gesê: “Abraham het Jesus nie geken nie en tog noem Hebreërs 11 Abraham een van die gelowiges wat in die hemel, by wyse van spreke, by God is nou nadat hy gesterf het terwyl hy die naam Jesus nie geken het nie. Hoe is dit moontlik?”

Janse van Rensburg meen hierdie uitspraak is direk in botsing met die “tradisionele Reformatoriese teologie”, wat beklemtoon dat geloof in Jesus Christus die enigste weg tot verlossing is.

Volgens Janse van Rensburg se interpretasie van Lubbe se onderhoud het die moderator gesuggereer dat alle gelowe ewe geldig is en dat mense wat nie in Jesus Christus glo nie, steeds gered kan word.

Volgens hom insinueer Lubbe dat die geïnstitusionaliseerde kerk mensgemaak en verganklik is en dat dit nie moontlik is om tussen ’n ware en valse kerk te onderskei nie.

Lubbe het gesê: “Ons moet eerstens baie versigtig wees om mý kerk, mý tradisie, mý lees van die Bybel te verhef tot die enigste weg na saligheid toe.

“Ek het nie die waarheid beet nie, trouens, ek waarsku dikwels die katkisante: As jy in ’n kerk gaan sit en daai kerk sê vir jou ‘as jy nié hier by óns is nie, is jy verlore’, dan moet jy jou beursie en jou selfoon vat en uitstap, want dan het jy met ’n kultus te doen, ’n sekte.”

Volgens Janse van Rensburg het hierdie stellings die vraag laat ontstaan of Lubbe nie die belangrikheid van die kerk as ’n instelling ondermyn nie.

“Ds. Lubbe het ook ’n probleem met die onderskeid tussen ’n ware en valse kerk. Dit is syns insiens nie moontlik om te onderskei en te verklaar dat ’n bepaalde geloof of kerk waar of vals is nie. Daarmee verwerp ds. Lubbe die duidelike uiteensetting van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die kenmerke van ’n ware teenoor ’n valse kerk word daarin duidelik uitgespel.”

Janse van Rensburg sê in sy klag dat hy “geen vreugde daarin vind om hierdie klag te lê nie”.

“My liefde vir Jesus Christus, die Koning van die Kerk, my Reformatoriese passie en my lojaliteit teenoor die NG Kerk laat my nie toe om met die opsigtelike dwalings in die RSG-onderhoud vrede te maak nie.”

Volgens Janse van Rensburg is “die integriteit van die NG Kerk op die spel wanneer die geestelike leier van die Kerk in die openbaar stellings maak wat radikaal van die amptelike en kerkregtelike standpunt van die Kerk verskil”.

Janse Van Rensburg sê in sy appèlaansoek die prosedure wat in die aanvanklike ondersoek gevolg is, voldoen nie aan die vereistes van die Kerkorde nie en dat hy nie behoorlik in kennis gestel is van die bevindinge en besluite nie.

Lubbe sê by navraag die kerklike ondersoek is nou in die hande van die sinodale appèlliggaam.

“Ek vertrou dat hulle dit ordelik en deeglik sal hanteer.”

Volgens Lubbe is hy besig om sy repliek teen die beweringe aan die appèlliggaam op te stel.

“Ek kan daarom nie kommentaar oor die saak lewer nie.”

Hy vertrou dat die appèlliggaam sy bevinding bekend sal maak nadat sy ondersoek afgehandel is, sê Lubbe.

Leon Foot, skriba van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, het bevestig dat ’n appèlliggaam aangestel is om vas te stel of daar gronde is vir Janse van Rensburg se appèl.

nuus@rapport.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Vir meer oor wat Jan Lubbe in die radio-onderhoud gesê het, kyk RSG: Land en sand: Jan Lubbe (23 Jul 2024).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui