Moet ek die kerk verlaat?

Die volgende is geskryf deur Leon Foot van die NG Kerk Vrystaat.

Leon het homself al velemale bewys as iemand wat ‘n ruimhuisbenadering voorstaan en hier doen hy dit weer.

Die ironie is dat hy hierdie geskryf het tydens ‘n dwaalleerondersoek teen die moderator, Jan Lubbe – kyk NG moderator in die sop oor ‘ander weg na verlossing (2 Feb 2025)

************

Moet ek die kerk verlaat?

Deur dr Leon M Foot, Uitvoerende Amptenaar van Bedieningsbegeleiding

30 Januarie 2025

‘n Medegelowige skryf nou die dag aan my oor die vraag of hy die kerk moet verlaat. Hy noem homself een van die “verkramptes” wat ‘n probleem het met die “liberale” neiging in die kerk. Hy verskil van die NG Kerk oor bepaalde besluite wat in die laaste paar jaar geneem is: Kan dié met nuwe sienings nie eerder loop en ‘n eie kerk stig nie?

Is dit die oplossing? Geen verskil is genoegsame rede vir kerkskeuring nie. Die Suid-Afrikaanse landskap is vol bewyse daarvan: gelowiges wat eintlik dieselfde glo, maar wat verskillende kerke gevorm het.

Dalk help die Geloofsbelydenis van Nicea ons hiermee. Hierdie belydenis, wat vanjaar 1700 jaar oud is, kom uit ‘n tyd toe die gelowiges nog een was. Natuurlik was daar verskille, maar hulle kon saam bely oor dit wat hulle aan mekaar bind.

Ons kom uit ‘n tradisie waar ons maklik oordeel oor mense wat van ons verskil – asof ons volledig reg en hulle volledig verkeerd is. En tog skryf Paulus aan die gelowiges in Rome om mekaar te aanvaar al verskil hulle oor kos en heilige dae en wat ook al.

Ons het meer wat ons aan mekaar bind as wat ons verdeel. Slegs wanneer ‘n Christus-verduistering intree, kan ons dit oorweeg om weg te breek. Tot dan luister ons (behoorlik) na mekaar, praat ons (liefdevol) met mekaar, en aanbid ons die een Heer, Jesus Christus wat ter wille van ons saligheid neergedaal het

Die Geloofsbelydenis van Nicea

Die Geloofsbelydenis van Nicea is vanjaar 1700 jaar oud! Dit is opgestel in die jaar 325 nC in die antieke stad Nicea (deesdae Iznik in Turkye) tydens ‘n kerkvergadering onder leiding van keiser Konstantyn.

Van al ons belydenisse is hierdie een die mees ekumeniese, omdat dit aanvaar word deur bykans alle Christelike kerke: Rooms-Katoliek, Oosters-Ortodoks, Anglikaans en die meeste Protestantse kerke.

Die Geloofsbelydenis van Nicea

Ons glo in een God,
die almagtige Vader,
die Skepper van hemel en aarde,
van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus,
die eniggebore Seun van God,
voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God,
lig uit lig,
ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie,
een in wese met die Vader,
deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid
uit die hemel neergedaal
en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword;
Hy het mens geword;
onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,
en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader,
en Hy sal met heerlikheid terugkom
om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

Ons glo in die Heilige Gees,
wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit,
en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.

Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die
toekomstige bedeling.
Amen.

Kommentaar

Daniel Louw

Leon sê: “Geen verskil is genoegsame rede vir kerkskeuring nie.”

Dit is twak! Die Bybel is vol daarvan dat jy jou van dwaalleraars moet afskei. Kyk

Leon sê: “Slegs wanneer ‘n Christus-verduistering intree, kan ons dit oorweeg om weg te breek.”

Dit sou interessant wees om te weet wat hy met “Christus-verduistering” bedoel.

‘n Mens sou baie maklik kon redeneer dat daar reeds lankal ‘n Christus-verduistering in die NG Kerk ingetree het. Kyk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui