Kyk ook:
Die kerkraad van die NG gemeente Parys-Suid verklaar ‘n dispuut met die Algemene Sinode van die NG Kerk
25 November 2024
Verklaring van lojaliteit aan die NG Kerk
Die Kerkraad van die NG Parys-Suid gemeente bevestig en verklaar dat hy steeds soos in die hele geskiedenis van die gemeente vir die afgelope vyftig jaar, die volle Gesag van die Bybel as volledige, geïnspireerede en gesagvolle Woord van God (2 Timoteus 3:15,16) aanvaar. Daarom verklaar die kerkraad van die NG Parys-Suid gemeente dat hierdie Woord van God, onfeilbaar en genoegsaam is. Verder erken die kerkraad dat die Skrif duidelik en verstaanbaar is sodat ‘n kind die eenvoudige boodskap van God se sondaarsliefde in Christus kan verstaan . (Vgl die drie dinge wat ons moet weet om salig te lewe en te sterwe HK Sondag 1, Vraag en antwoord 2). Verder onderskryf die kerkraad die Tradisionele Gereformeerde Skrifbeskouing soos deur die Reformasie bepaal en oorgelewer is en tans in KO 1aanvaar en voorgeskryf word. Die kerkraad bevestig verder dat hy die beloftes (geloftes) wat lidmate en kerkraadslede afgelê het, steeds as heilig en bindend.
Skrifbeskouing
Die kerkraad glo dat die kern van die probleme in die NG kerk ten diepste teruggevoer moet word na die beskouing van die Bybel.
Al die tradisionele Gereformeerde beginsels van die Skrifbeskouing word volledig deur hierdie kerkraad erken en gehandhaaf, beginsels soos: Die Skrif verklaar homself asook die beginsel van: Norma normans, non normata (Die Skrif is die hoogste norm wat alle ander norme normeer en self nie deur enige norm bepaal of voorgeskryf word nie).
Geen veranderings of kompromieë
Ons herhaal: ons as ‘n Gereformeerde kerk bely en aanvaar alleenlik die Tradisionele Gereformeerde Skrifbeskouing en ons stel ons teen enige ander Skrifbeskouing wat hiermee in stryd is . Ons is nie bereid om enige Skrifbeskouing in die plek van die Gereformeerde Skrifbeskouing te aanvaar nie (Vgl Artikel 1 van die Kerkorde en ons lidmaat en kerkraadsgelofte) asook om enige Skrifbeskouing wat hiervan afwyk as kompromie of om enige ander rede, saam met die Tradisionele Gereformeerde Skrifbeskouing te aanvaar nie.
Liberale skrifbeskouing
Daarom verklaar ons ‘n dispuut met die Algemene Sinode wat in 2007 afgesien het van die Gereformeerde Skrifbeskouing en ‘n Liberale Skrifbeskouing aanvaar het waarvolgens die volledige Goddelike inspirasie asook die onfeilbaarheid en genoegsaamheid van die Skrif en dus ook die gesag van die Skrif ernstig in gedrang gebring is.
Strydig met die gereformeerde skrifuitleg
Hierdie kerkraad stel dit onomwonde dat die Skrifgebruik wat aanleiding gegee het tot die omstrede besluite (o.a. rakende die goedkeuring van selfdegeslagverhoudings) van 2015 en 2019 en wat weereens tydens die sitting van 2023 herbevestig is, strydig is met die Gereformeerde Skrifuitleg en daarom ten sterkste afgewys moet word en dat hierdie besluite teruggetrek behoort te word.
Dwaling
Die kerkraad verklaar dus ‘n dispuut met die Algemene Sinode oor sy Skrifhantering en Skrifbeskouing. Die kerkraad waarsku die Algemene Sinode dat hierdie Skrifbeskouing ‘n uitval van die Liberake teologie is wat tans in die Algemene Sinode voorrang geniet. Hierdie kerkraad kan die Algemene Sinode nie sterk genoeg waarsku en aanspreek nie, want hierdie Skrifbeskouing is deur die eeue deur die Christelike Kerk afgewys as dwaling. Wanneer die stelreël: “Die Bybel IS in sy totaliteit die Woord van God”, verander word na “Die Woord van God is IN die Bybel” het so ‘n kerk sy verbintenis met die Skrif en die tradisionele Christendom opgegee en in der waarheid opgehou om kerk van Christus te wees. Die kerkraad kan nie anders as om die Algemene Sinode as dwaalleraars te beskou solank die Algemene Sinode nie hierdie besluite en Liberale teologie afsweer nie.
Die kerkraad tree dus in dispuut met die Algemene Sinode oor die dwaling wat deur die Algemene Sinode gepropageer word.
Die gesag van ‘n foutiewe skrifbeskouing is nie meer die gesag van Christus nie
Die kerkraad wys verder die Algemene Sinode daarop dat elkeen wat lidmaat van die NG kerk is, homself moet onderwerp aan Artikel 1 van die kerkorde soos wat elke lidmaat ‘n dure belofte en gelofte voor God afgelê het. Die kerkraad wys die Algemene Sinode daarop dat Artikel 1 nog steeds die “grondwet” van die NG kerk is en dat kerklike vergaderings dienooreenkomstige besluite moet neem. Anders is sulke besluite kerkregtelik onwettig. Die kerkaad is dus van oordeel dat talle van die omstrede besluite vanaf die draai van die eeu deur die Algemene Sinode geneem is, die toets van die Skrif, Artikel 1, en die Belydenisskrifte nie kan deurstaan nie. Indien die Algemene Sinode ‘n ander of ‘n nuwer teologie wil navolg, moet hy die integriteit aan die dag lê om die bestaande Artikel 1 te verander of aan te pas alvorens onvanpaste en omstrede besluite geneem en afgedwing word. Dan moet die kerkordelike weë gevolg word om sulke groot veranderings te bring: byv die twee derde meerderheidsbesluit by die Algemene Sinode en ook by die Streeksinodes, Ringe en Kerkrade. En dit nie deur te forseer nie.
Dispuut om verandering te bring
Die kerkraad tree dus in ‘n ernstige dispuut met die Algemene Sinode hieroor en doen ‘n beroep op die Algemene Sinode om tot inkeer te kom en die skade wat hy aangerig het onverwyld reg te stel.
Ons is lojaal aan die kerkverband mits dit die gesag van Christus en Sy Woord verteenwoordig
Die kerkraad wil dit baie duidelik stel: As kerkraad van die NG kerk aanvaar ons die beginsel dat ons aan die breër verband deel het en ons sien die voordeel daarvan in en ons het nog altyd in die vyftig jare van ons bestaan hartlik saamgewerk en ons bydrae gemaak tot die breëre verband. Ons het dit gedoen omdat ons glo dat die gesag van Christus ons daartoe roep. Ons erken onomwonde dat die NG kerk net Een Hoof het en dit is Christus, ons Here en Verlosser. Hy is die Bruidegom en ons as kerk Sy bruid. Dit beteken dat NET HY die reëls maak en dat die hele kerk en sy vergaderings aan Hom en Sy Woord gehoorsaam moet wees. Let wel: Hy regeer Sy kerk deur Sy Woord en die Heilige Gees . Hy regeer Sy gemeentes deur die kerkrade, die Ringsgebied deur die Ringe, Sinodale streke deur die Streeksinodes en die hele kerk deur die Algemene Sinode wat oor sake besluit wat die hele kerk raak, soos Bybelvertaling , die kerklike leer , teologiese opleiding ens. Nie een van hierdie vergaderings is belangriker as ‘n ander of “hoër” vergadering nie. Elkeen van hierdie vergaderings tree op met dieselfde gesag, die gesag van Christus .
Daar behoort geen probleme te wees nie
Daarom behoort daar nie probleme te wees tussen die kerklike vergaderings nie, want elkeen luister na Christus en gehoorsaam Sy Woord en volg ons almal die Gereformeerde beginsels soos ons ooreengekom het, vgl Artikel 1 van die Kerkorde. Daarom behoort daar geen beluite te wees wat probleme oplewer SOLANK DIT GENEEM IS ONDER DIE GESAG VAN CHRISTUS, DEUR DIE WERKING VAN DIE HEILIGE GEES EN VOLGENS DIE WOORD VAN GOD SOOS ONS DIT AS GEREFORMEERDES VERSTAAN NIE. Ons het mos gekies om Gereformeerd te wees en dit (Artikel 1) nog nie verander of aangepas het nie.
Ongelukkigheid: Rooi lig
Die rede waarom daar soveel stryd en ongelukkigheid in die kerk oor die Sinodale besluite is , moet ‘n rooi lig laat aangaan by die Algemene Sinode: dalk stem die besluite nie ooreen met die Skrif nie, kan die ander kerkvergaderings dit nie aanvaar nie, omdat dit nie geneem is onder die gesag van Christus nie. Dit het waarskynlik nie die Skrif as basis nie. Daarom verwerp so baie lidmate en kerkrade die besluite van die Algemene Sinode, hulle beleef nie die gesag van Christus agter daardie besluite nie. En ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense (Hand 5:29).
Aan die vrugte word die boom geken
Om ‘n dispuut met die Algemene Sinode te verklaar het egter nou dringend noodsaaklik geword., want op die pasafgelope Algemene Sinode is voorstelle ter tafel geneem om aborsie op aanvraag asook gesamentlike aanbiddingsgeleenthede met ander godsdienste in ons kerke op gelyke vlak te reël. Dis wel nie aanvaar nie, maar terugverwys om weer daaroor te besin. Is dit ‘n poging om vir tyd te speel en te hoop dat dit later meer aanvaarbaar sal wees, soos wat dit met die selfdegeslagverhoudings gebeur het?
Die feit is: HIERDIE VOORSTELLE IS LETTERLIKE OORTREDINGS VAN DIE EERSTE EN SESDE GEBOD SOOS SELFDEGESLAGSVERHOUDINGS DIE OORTREDING VAN DIE SEWENDE GEBOD IS.
HIERDIE VOORSTELLE MOES GLAD NIE EERS TER TAFEL ONTVANKLIK GEWEES HET NIE !!!
WIL DIE ALGEMENE SINODE ONS KERK NOU LEER OM DIE GEBOOIE TE OORTREE???
Ons kan nie langer wag of stilbly nie
Daarom kan hierdie kerkraad nie langer wag of stilbly nie. Drastiese optrede het nou nodig geword. Daarom tree ons nou in dispuut met die Algemene Sinode.
**********
Kommentaar
Daniel Louw
NG gemeente Parys-Suid is van die laatkommers wat hulleself by die lys van dolerende gemeentes gevoeg het (November 2024). ‘n Mens is dankbaar dat hulle verder gegaan het en ‘n amptelike dispuut met die Algemene Sinode verklaar het. Ek het egter min hoop dat dit enige impak sal hê. Die vraag is of hierdie dispuut werklik meer beteken as doleansie. Na my mening sou opskorting ‘n sterker standpunt wees as ‘n dispuut.
En dan is die vraag: indien die NG Kerk nie verander nie, wat dan? Daar is geen ultimatum of datum gekoppel aan hierdie dispuut nie.
Help dit?