Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Dominee: Dis hoekom ek bedank uit die NG Kerk | Rapport
Ds. Pieter Prinsloo
Rapport, 23 Maart 2025
Die NG Kerk neem nou wraak teen gemeentes en dominees wie se enigste “sonde” is dat hulle getrou aan die Skrif wil bly, skryf ds. Pieter Prinsloo in ’n brief waarin hy sy bedanking as NG leraar aankondig.
Ek skryf hierdie brief met emosies wat nie woorde kan word nie. Ek skryf vir oulaas. Ek skryf ná drie jaar van pleit vir ’n welwillende oplossing vir die sinodaal-erkende teologiese vasgelooptheid in die NG Kerk.
Ek skryf met die hartseer wete dat daar ’n maklike, welwillende oplossing voorgestel is; ’n ware welwillende oplossing waarmee gemeentes volgens geloofsoortuiging gegroepeer kon word, sodat daar nie hofsake en wraakvervolgings in die naam van godsdiens moes losbars nie. Ek skryf met die ontnugterende besef dat die meerderheid teen daardie welwillende oplossing gestem het.
Ek skryf met die wete dat behoudendes gepleit het vir ware welwillendheid, maar toe deur die mag van die meerderheid in die koue gelaat is.
Die alternatiewe “welwillendheidsvoorstelle” wat aangebied is (teologies-kategoriale ringe), bevat ongelukkig slegs ’n skyn van welwillendheid. Die suigstokkie-aanbod van teologiese ringe maak art. 37 (uittrede van groepe gemeentes as ’n sinode) immers onmoontlik.
Ek skryf met die besef dat die gevolge van hierdie nie-welwillendheid daartoe lei dat my en andere se vrese nou al hoe meer gaan realiseer: kerklike hofsake dreig en het reeds begin; behoudende leraars, wat kompromieloos wil bly by die belydenisskrifte, word ironies genoeg as “skeurmakers” in die amp gestuit en afgedank deur ’n meerderheid wat teologiese kompromieë aanvaar het; kerkrade ontvang, onder die dekmantel van besorgde advies, dreigbriewe dat ringsoornames van gemeentebesture sal plaasvind as hulle nie inval by die “nuwe NGK” nie (die vars goedgekeurde art. 22.3 van die kerkorde hang soos ’n swaard bo kerkrade se koppe, gereed om subjektief en bevooroordeeld ingespan te word).
Die wraakgierige slagordes word opgestel, let wel, nie in ’n goddelose maatskappy nie, maar in ’n kerkverband wat bely dat Christus Here en Verlosser van die Kerk is. Slagordes word opgestel binne ’n verband waar “liefde” ’n goedkoop en misbruikte woord geword het.
Onder die misleidende dekmantel van ordehandhawing word wraakvervolgings en hofsake beplan. Soos genoem: Die skokkende ironie is dat die sogenaamde “tugoptredes” en hofsake vanuit die “nuwe NGK”, nie gemik is teen leraars en gemeentes wat die belydenisskrifte ondermyn nie; die slagordes is opgestel teen belydenisgebonde leraars en gemeentes wat kwansuis “onordelik” is omdat hulle weier om in te val by ruimtes wat die meerderheid goedkeur vir belydenisversakende teologiese strome in die NGK.
Iewers het hierdie wraakgieriges dus die groter prentjie van God en Sy Koninkryk verloor. Ek glo daarom dat al hierdie dreigende hofsake en wraakvervolgings voorkom kan word as alle betrokkenes net weer ’n Bybelse uitsig op die grootheid van die Skepper, en die geringheid van die mens het; ’n perspektief soos dit na vore kom in Psalm 8.
In Psalm 8 vind ons ’n loflied omdat die Here se Naam groot is op die ganse aarde. Hierdie Here het Sy majesteit in die hemele gelê. Te midde van hierdie grootheid van God lees ons in vers 3 van kindertjies (Hebreeus: kleuterouderdom) en suigelinge waardeur die Here vir Hom lof berei het. Maar ongelukkig lees ons ook in Psalm 8 van die Here se teenstanders; ons lees van die wraakgieriges wat Hy deur die lof van die kindertjies stil sal maak. Maar hoe lyk hierdie wraakgieriges en teenstanders wat lynreg staan teenoor die kindertjies waardeur die Here vir Hom lof berei het? Is hulle goddelose onkerklikes?
Ons hoef nie te wonder of hulle goddelose onkerklikes is nie; ons lees dat die Here Jesus op ’n dag weer na Psalm 8 sou verwys. Hy bevind Hom in Matt. 21 in die tempel waar ons die kindertjies van Psalm 8 weer vind; hierdie kindertjies sing skaamteloos hosannas vir die Seun van Dawid. Maar ongelukkig vind ons ook die wraakgieriges van Psalm 8 wat die kindertjies se lofgetuienis met venyn tot swye wil bring.
Maar wie is hierdie wraakgierige teenstanders van die Here? Die skokkende is dat die Here se wraakgierige teenstanders die destydse kerkleiers is! In hul godsdienstige venyn dring hulle selfs in die Naam van God daarop aan dat die lofgetuienis van die kindertjies verwerplik is en dat hulle getug moet word (Matt. 21:15-17).
Maar kom ons kyk verder wie hierdie destydse kerkleiers was wat die lofgetuienis van die kindertjies tot swye wou bring; direk hierna lees ons dat hierdie kerkleiers deur Jesus beskuldig word daarvan dat hulle God se kerk/wingerd vir hul eie godsdienstige belange gekaap het (Matt. 21:33-46). Die destydse kerkleiers het God se kerk vir hulle wraakgierige belange gekaap in ’n godsdienstige grootheidswaan wat lynreg teenoor die kindertjies se lofgetuienis oor die Here staan.
Daarom sou hierdie kerkleiers met wraakgierige magslustigheid reageer toe Jesus hulle beskuldig van kerkkaping (Matt. 21:45-46).
Let tog op: Hulle sou hierna in hul godsdienstige grootheidswaan en wraakgierigheid, eers die ware Seun van Dawid en later die kindertjies (gelowiges) wat Hom loof en aanbid, voor die howe bring en vervolg. Tog sou hulle met hulle skewe godsdienssin bly verkondig dat hulle wag vir die koms van die Seun van Dawid waarvan hulle ’n eiesinnige beeld in hulle koppe gehad het…
Ons sien ook elders hoe Jesus hierdie wraakgierige kerkleiers wat die kerk gekaap het, ontmasker as mense wat meer behep is met hul kerkordelike tradisies as met die gesag van die Woord. Daarom noem Hy hulle huigelaars (Matt. 15:3-9). Sulke huigelagtige leiers sal daarom iemand in sy gemeente, wat volhardend leef in ongehoorsaamheid aan die Woord, hoogstens ligweg aanspreek sonder om verdere stappe te doen, maar wee die gelowige/leraar wat kwansuis oortreder word van hierdie kerkleiers se bedenklike en kwaadwillige interpretasies van die kerkordelike tradisie; sulke “oortreders” moet met die hof gedreig word al staan so ’n leraar en die meerderheid van sy gemeente onwrikbaar by die Woord se gesag soos saamgevat in die belydenisskrifte. Geen wonder nie dat Jesus sulke huigelagtiges in Matt. 23 beskryf as blinde leiers; Hy maak ook die volgende sterk uitspraak teen hierdie leiers van die gekaapte kerk: “Van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (Matt. 23:28).
In die lig hiervan pleit ek by elke betrokkene in die NGK; as daar nog, te midde van hierdie tragiese teologiese vasgelooptheid, ’n greintjie integriteit in die NG magstrukture oorgebly het: Moet in Vadersnaam nie voortgaan met beplande wraakgierige vervolgings van kindertjies van die Here wat kompromieloos getrou bly aan die Skrif soos dit in die belydenisskrifte van die kerk saamgevat word nie. Moet hierdie vervolgings asseblief ook nie – soos destydse kerkleiers van Christus se gekaapte kerk – probeer doen in die naam van godsdienstige orde nie.
Die ringskommissie van Vaalrivier-ring se “liefdevolle” dreigbriewe gegrond op wanvoorstellings van die kerkorde en landswette het my verstom. Die ring se uitnodiging vir gesprek is ook verstommend in die lig daarvan dat ons elke moontlik informele en formele gesprekskanaal oor baie jare uitgeput het en ontnugter gelaat was.
Los asseblief ook ander gemeentes uit wat nog vasgevang is in hierdie magstrukture; hou op om hulle te probeer boelie tot oorgawe; los hulle om volgens hul geloofsoortuigings gesprek te voer en in hul gemeentes te handel volgens die meerderheid se gevoel.
Laat vaar asseblief dubbele standaarde rakende meerderhede en minderhede: Die vals bewering word gemaak dat wraakgierige ringe en sinodes bloot liefdevol opstaan vir gemeenteminderhede wat nie wil inval by die gemeentemeerderheid se besluite nie.
Tog weier hierdie selfde ringe en sinodes om liefdevol op te staan vir die belange van minderhede wat uitgestem word by sinodes en dan nie wil inval by sinodale meerderheidsbesluite nie.
Onthou ook: Gemeentes het nie die luukse wat lidmate het nie; lidmate kom en gaan onverhinderd as hulle nie aanklank vind by ’n gemeente nie; hulle kan dit doen sonder gevaar van verlies van eiendomme en finansiering. Leraars en gemeentes daarenteen, word nou vanuit wraakgierige kerkstrukture gedreig met verlies van werk, eiendomme en beleggings indien hulle – selfs met groot meerderhede – sou besluit om nie meer deel te wees van die NGK nie; leraars word in die amp gestuit omdat hulle “skeurmakers” is, terwyl hulle eintlik net kompromisloos staan by dit wat die NGK tot aan die begin van die vorige dekade bely het.
Gaan lees asseblief ook weer 1 Kor. 6 wat hierdie soort kleinlike, onordelike en wraakgierige hofsake verbied.
Mag die Here elke wraakgierige, wat howe toe wil gaan oor gemeentes se selfverworwe eiendomme en besittings, tot beskaming en bekering bring.
Ontvang hiermee my bedanking as leraar van die NG Kerk. Ek bedank teen die agtergrond daarvan dat ons hele kerkraad asook 95% van Tuinedal Gemeente (voorheen: NGK Sasolburg-Tuinedal) se lidmate gestem het om alle verbintenisse met die NGK te beëindig.
Mag ons almal alle wraakgierigheid laat vaar in die lig van ons nietigheid en verganklikheid voor die Here wat ons in Christus met heerlikheid gekroon het.
• Prinsloo is leraar van die Tuinedal Gemeente in Sasolburg.
Kommentaar
xxx