Kyk ook:
- Opsomming: NG Kerk Namibiese sinode breek weg
- ’n Saak vir kerkskeuring (Daniel Louw)
- Dit help nie om algemene sinode te ontbind (Daniel Louw, 18 Mei 2022)
- Die rede vir NGKN se uittrede uit AS (Düring Cornelius, 24 Mrt 2025)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Johan van der Merwe | Federale raad is nie ’n ‘vloekwoord’ nie! | Kerkbode
Deur Johan van der Merwe / 16 April 2025 / Johan van der Merwe, Rubrieke
Gebeure op die reis van die NG Kerk die afgelope paar jaar het die kerk voor nuwe uitdagings gebring – veral wat kerkverband aan betref. Pogings van sinodes om hulle bande met die Algemene Sinode los te maak, die ontstaan van Koinonia-sinode en die onlangse besluit van die NG Kerk in Namibië om uit verband met die Algemene Sinode te tree dui nie net op ’n bedreiging vir die huidige vorm van kerkverband nie, dit bied ook unieke geleenthede. Een daarvan is om te waag om weer ’n Federale Raad tot stand te bring.
Lees ook: Johan van der Merwe | Namibië: Verleentheid of geleentheid?
In die geskiedenis van die NG Kerk is ’n federale vorm van kerkeenheid niks nuuts nie. In 1862 het die Loedolff-saak die gemeentes gedwing het om naas die Kaapse sinode nog drie afsonderlike sinodes in onderskeidelik die Vrystaat (1864), Natal (1865) en Transvaal (1866) te stig. Hierdie gebeure het egter nie die onderlinge band op grondvlak tussen gemeentes verbreek nie. Die gemeentes wat hulle in die verskillende sinodes bevind het, was steeds NG gemeentes met NG lidmate! Om hierdie verbondenheid aan mekaar te bevestig is ’n Federale Raad van NG Kerke tot stand gebring wat vir die eerste keer op 13 Maart 1907 deur ds AI Steytler in die Susannasaal in Pretoria geopen is. Elkeen van die deelnemende sinodes het wetgewende, regsprekende en administratiewe mag behou en besluite van die raad was slegs adviserend en moes as voorstelle by die sinodes dien.
’n Belangrike gevolg van hierdie vereniging was die ontstaan van De Gereformeerde Kerkbode wat die afsonderlike mondstukke van die sinodes – De Kerkbode (Kaap), De Fakkel (OVS) en De Vereeniging (Transvaal), vervang het. Ander federale kommissies wat tot stand gekom het, was die Sondagskoolkommissie (1925), die Armesorgraad (1933), die Sendingraad (1942), die Jeugraad (1945), die Raad vir die Bestryding van Maatskaplike Euwels (1946) en die Evangelisasieraad (1952). Vir vyf en vyftig jaar was hierdie raad wat in die omgang as die Raad van Kerke of die Federale Raad bekend was, die vergestalting van die onderlinge eenheid in die NG Kerk. In 1957 het afgevaardigdes van die Sinode van Suidwes-Afrika ook sitting geneem op die raad.
Lees ook: Brief: Lesse vir Suid-Afrika uit die NGKN se sinodale proses
Miskien wys hierdie geskiedenis uit dat die stigting van ’n Federale Raad in die huidige konteks van die NG Kerk spreekwoordelik nie ’n vloekwoord is nie. Dit kan eerder ’n belangrike stap in ’n ou-nuwe rigting wees. Alhoewel die vestiging van so ’n liggaam bepaalde kerkregtelike uitdagings bied, mag dit dalk net help om die onderlinge eenheid wat steeds op grondvlak tussen lidmate en gemeentes bestaan, te bevestig en – wie weet – wat moontlik ook tot groter eenheid onder die gereformeerde kerke in Suid-Afrika kan lei.
Prof Johan van der Merwe is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk en dosent in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.
Kommentaar
Daniel Louw
‘n Mens moet onthou dat Johan ten alle koste kerkeenheid sal bepleit. Dit help egter nie daar is op ‘n manier strukturele eenheid, maar daar is geen eenheid in die Gees nie. Streng gesproke het die Algemene Sinode geen besluite op gemeentes afgedwing nie, maar dit het ondraaglik geraak vir gemeentes om op enige manier geassosieer te word met hierdie besluite. Dit is juis die rede waarom sommige gemeentes hulle verband opgeskort het en sommiges selfs die band heeltemal verbreek het en waarom Namibië weggebreek het van die Algemene Sinode. Kyk ook:
- Die rede vir NGKN se uittrede uit AS (Düring Cornelius, 24 Mrt 2025)
- Brief: Namibiese dominee moet besef: Eenheid in NG Kerk is ’n klug (Bernhard Ficker, Rapport, 6 Apr 2025)