Besluit: NGK Namibië breek weg van Algemene Sinode

Sinode besluit 20 Maart 2025

Gekopieer vanaf Kerkbode.

Tydens die sinodesitting van die NG Kerk in Namibië wat van 19-22 Maart 2025 te NG Kerk Suiderhof in Windhoek, Namibië plaasgevind het, is daar tydens die vergadering met ’n twee derde meerderheid besluit:

1. Die sinode neem kennis dat die Moderamen op die vergadering van 7 November 2023 bevestig het, dat daar genoegsaam uitvoering gegee is aan vier van die vyf prosesse soos uitgespel in die sinodebesluit van Maart 2022, naamlik:

1.1. Uitklaring van regskwessies rakende Artikel 37.

1.2 Uitklaring rakende ’n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NG Kerk.

1.3 Uitklaring rakende toekomstige teologiese opleiding.

1.4 Uitklaring rakende finansiële kompensasie vanaf Algemene Sinode.

2. Die sinode neem kennis dat die Moderamen op 7 November 2023 besef het dat die vyfde proses soos uitgespel in die besluit van Maart 2022, naamlik deeglike kommunikasie met die gemeentes om hulle te betrek in die besluit en onderskeie prosesse, nog nie afgehandel is nie.

3. Die sinode neem kennis dat die Moderamen besluit het dat verdere kommunikasie met gemeentes sal plaasvind gedurende 2024 en hierdie kommunikasie proses teen November 2024 afgehandel moet wees.

4. Die sinode neem kennis dat die Moderamen op 7 November 2023 besluit het om die nodige voorstelle te formuleer vir die 2025 Namibiese Sinode waar die proses finaal afgehandel word.

5. Die sinode neem kennis dat die Moderamen op die vergadering van 19 November 2024 bevestig het dat daar genoegsaam uitvoering gegee is aan deeglike kommunikasie met die gemeentes en dat die 2022 Sinode besluit om los te maak van die Algemene Sinodale verband van krag word.

6. Die sinode neem kennis dat die Moderamen bevestig dat ons verhouding met die Algemene Sinode nou verander het. Die NGKN is dankbaar vir die Matteus 18-pad wat die Algemene Sinode bereid was om saam met ons te stap. Die NGKN is dankbaar vir die vele ontmoetings, gesprekke, vergaderings en korrespondensie oor ‘n tydperk van twee-en-‘n-half jaar.

7. Die sinode bevestig dat die Moderamen in goeie trou uitvoering gegee het aan die 2022 besluit.

8. Die sinode gee opdrag dat die Moderamen die Algemene Sinode Moderamen (ASM) sal inlig dat die NGKN uit die Algemene Sinodale verband tree sodra die besluit geneem is.

9. Die sinode besluit dat die nodige verwysings na die verhouding tussen NGKN en die Algemene Sinode in die Kerkorde van die NGKN soos voorgestel in die verslag van die aktuarius van die agenda goedgekeur word en dat die aktuaris so gou moontlik die gewysigde Kerkorde aan die Moderamen voorlê vir goedkeuring en gebruik totdat die nuwe Kerkorde tydens die volgende Sinode finaal goedgekeur kan word.

10. Die sinode dra dit aan die Moderamen op:

10.1 om in die lig van God se Woord en Gees die nuwe bedeling wat vir die NGKN aangebreek het;

  • die sinode van die NGKN met onderskeiding te begelei; en
  • in pastorale proses die kerk te begelei in versoeninge en onderlinge verhouding
  • samewerking en ondersteuning op te soek met ander rolspelers in die Koninkryk;
  • sodat die gemeentes en sinode van die NGKN op alle terreine ons roeping en bediening kan uitleef, terwyl ons in die groter Liggaam van Christus diensbaar kan wees en ‘n getuie van die Koninkryk in ‘n gebroke wêreld sal wees.

10.2 om uitdrukking te gee aan die sinodebesluit van 2016 rakende die vorming van ‘n Reformatoriese Geloofsgemeenskap in Namibië.

10.3 om binne 6 maande op grond van Reglement 26 punt 4.3.2 oor “Gedeelde verhoudinge”, ‘n proses plan goed te keur waarvolgens die NGKN met die Algemene Sinode en ander kerke sal onderhandel om nuwe bilaterale ooreenkomste te sluit waar nodig.

10.4 om ‘n taakspan saam te stel wat in oorleg van gemeeentes en die moderamen die sinode sal bedien met ‘n hermeneutiese raamwerk waartoe die NGKN haarself verbind vir voortgaande en toekomstige teologiese en etiese gesprek.

11. Die sinode volstaan hiermee dat die 2022 Sinodale besluit afgehandel is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui