ASM dagbestuur reageer op Namibië se besluit om weg te breek

Die ASM Dagbestuur reageer op Namibië se besluit om weg te breek.

Gekopieer vanaf Kerkbode.

21 Maart 2025

DIE NG KERK IN SUID-AFRIKA EN DIE BESLUIT VAN DIE NG KERK IN NAMIBIË OM UIT VERBAND MET DIE ALGEMENE SINODE TE TREE

Die dagbestuur van die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het met hartseer kennis geneem van die Sinode van die NG Kerk in Namibië (NGKN) se besluit op 20 Maart 2025 om uit algemeen sinodale verband met die NG Kerke in Suid-Afrika te tree.

Ons respekteer die selfstandigheid van die NG Kerk in Namibië en is bewus van die uitdagings wat in daardie konteks aan hulle as ʼn kerkfamilie gestel word, én dat daar ook ʼn eiesoortige roeping op hulle in hulle land wag. Ons respekteer ook die erns en sorgvuldigheid waarmee hul die afgelope vyf jaar oor hierdie stap besin het en in verskeie ontmoetings daar én hier, met ons daaroor in gesprek was. Ons belewenis in daardie gesprekke was dié van ʼn opregte soeke na begrip en waardering vir mekaar, omdat ons ten diepste één is in ons belydenis oor Wie God is en oor die genade wat Hy in Christus aan sy Kerk skenk.

Ons hoop om spoedig van die NG Kerk in Namibië te verneem en hul amptelik te kan ontmoet ten einde duidelikheid te verkry oor hoe ons hul besluit teologies moet verstaan, oor hoe hulle die pad vorentoe sien en oor hoe ons op ʼn nuwe en welwillende wyse ons gedeelde Christelike getuienis in Suider-Afrika sal kan laat hoor.

ASM Dagbestuur (2023-2027)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui