- xxx
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Brief: Jean Oosthuizen verwar homself oor die duiwel | Rapport
Sondag, 20 April 2025
Dr. Albert Alberts, Knysna, skryf:
Jean Oosthuizen (“Kerk wil op twee preekstoele sit oor satanis”) spreek ’n warboel van gedagtes uit oor die doktorale studie van Tristan Kapp in die Universiteit van Pretoria (UP) se departement godsdiensstudies.
Hy verwys na die berig in Rapport, ’n brief van prof. Christo Lombaard, hoof van die departement praktiese teologie van die UP, die respons van die kuratorium en sleep sommer die NG Kerk by wat “op twee stoele sit”.
Die departement godsdiensstudies het in 2019 tot stand gekom en bied nagraads kursusse aan vir studente oor godsdiensverwante onderwerpe.
Dit sou ook ’n doktorale studie oor ’n wye reeks van onderwerpe, waaronder Kapp se studieveld, kon insluit, mits sy promotor gelukkig is met die onderwerp. Dis bitter eenvoudig.
Laat ek dit so aan Oosthuizen verduidelik: Die fakulteit geneeskunde bestaan uit verskeie departemente, soos die departement interne geneeskunde en die departement chirurgie. Ek sou ’n nagraadse studie oor byvoorbeeld operasietegnieke by die departement chirurgie kon doen, maar nie oor bloeddrukbeheer nie; dit hoort eerder by die departement interne geneeskunde.
’n Ingeligte persoon verwar nie die departement chirurgie met die fakulteit geneeskunde nie. Ek kan ook nie ’n doktorale studie by die fakulteit geneeskunde in geheel doen nie.
Dis duidelik dat Oosthuizen nie die begrip departement van ’n fakulteit verstaan nie.
Nou haal Oosthuizen sy gewone en afgesaagde strydbyl met die NG Kerk, wat verskeie briewe en ’n boek insluit, uit wat kom sedert sy afdanking by Kerkbode jare gelede. Die duiwel en gay mense word bygesleep, wat glad nie ter sake is met ’n doktorale studie nie en veral nie met die fakulteit teologiese studie nie.
Dit verwater net sy argument.
Kommentaar
xxx