Kyk ook:
- EFF ontvang NG Kerk ‘hartlik’ en praat oor landsake (19 Jan 2018)
- Kerkleiers praat met presidensie oor nasionale dialoog, korrupsie (14 Apr 2025)
- RSG: NG Kerk deel van afvaardiging wat met Cyril gesels (16 Apr 2025)
- Gaan sulke gesprekke enigsins verskil maak? (Bernhard Ficker, 22 Apr 2025)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Kerkleiers vergader met Cyril: Wil band tussen kerk en owerheid versterk | Rapport
Magdel Louw
Sondag, 20 April 2025
Kerke kan ’n sterk invloed oor die regering uitoefen deur aanspreeklikheid van die land se leiers te eis, sê dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk.
Daarom was korrupsie verlede week hoog op die agenda in die gesprekke tussen kerkleiers en die presidensie.
Die vergadering waarop pres. Cyril Ramaphosa en kabinetslede met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) samesprekings gevoer het, was die eerste in sy soort sedert 2019.
Die gesprekke was “brutaal eerlik”, met spesifieke verwysing na klagte teen en ondersoeke na korrupsie teen senior regeringslui.
“Biskop Sithembele Sipuka, president van die SARK, het onder meer die kwessie oor Phala Phala reeds in sy openingswoorde aan die president by die naam genoem en die president het dit aangehoor. Daar is ook krities gevra waarom daar nog nie genoeg gedoen is ten opsigte van die Zondo-kommissie se aanbevelings nie en harde vrae is gevra oor die hoë misdaadsyfers,” sê Venter.
Ramaphosa sê onder meer die land het die kerke nodig “om ons nasie te resussiteer”. Hy het ook gepraat van die “herverbintenis tussen die kerk en die owerheid”.
Venter sê die SARK is ’n belangrike, kritiese stem. “ ’n Beduidende deel van die Suid-Afrikaanse samelewing identifiseer as Christene. Die regeringsleiers sal daarom moeilik die morele gewig wat so ’n gesamentlike stem van kerke dra, kan ignoreer,” sê sy.
“Ja, politiek en kerk moenie gemeng word nie, want elkeen het sy eie roeping. Maar dis twee instellings wat met mekaar in gesprek móét wees. Regeringsleiers behoort raak te sien dat die netwerk van kerke in Suid-Afrika baie naby aan grondvlak leef en daarom eerstehandse inligting oor gewone burgers se uitdagings kan oordra. Ons het daarom ook oor swak dienslewering gepraat en hoe dit die moreel van ons gemeenskappe afbreek en mense se lewensgehalte inperk.”
Die beloofde nasionale dialoog, waarvan nog niks gekom het nie, en die verswakking van waardes en verontmensliking wat deur armoede en ongelykheid veroorsaak word, is ook bespreek.
“Soos baie Suid-Afrikaners is ons as kerkleiers en gemeentelede diep besorg oor die politieke spel in die RNE wanneer dringende nasionale uitdagings – veral dit wat die arm en weerlose mense raak – ernstige en verenigde aandag vereis,” sê Sipuka.
Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, het spesifiek oor “genesing en versoening” met Ramaphosa gepraat.
Hy het daarna verwys dat versoening net kan gebeur waar daar ’n oop, veilige ruimte is vir almal om hul verwondheid te deel. “Dat ons die waarheid kan vasstel van wat voor 1994 gebeur het, maar ook wat die afgelope drie dekades ná 1994 gebeur het,” sê Lubbe.
“In so ’n ruimte kan ’n mens dan sê ek is jammer oor my aandeel, daar kan ’n skulderkenning wees en vergifnis gegee word, en dan moet uit so ’n ruimte opgestaan en reggehelp word wat verkeerd gegaan het,” sê Lubbe.
“Kritici kan hier vinger wys na die NG Kerk en selfs sê ‘kyk wie praat’, maar hy (Lubbe) het nie in dié gesprek voorgegee om op enigiets te roem, anders as om suiwer te verkondig wat God se woord ons leer, nie,” sê Venter.
Tien kerkleiers het die 30 denominasies wat deel van die SARK vorm by die gesprekke verteenwoordig, en die vergadering het twee uur geduur. Die president het onderneem om die relevante departemente te vra om oor spesifieke kwessies met kerkleiers in gesprek te tree. Reeds die volgende dag het die eerste kerkleier ’n uitnodiging vir so ’n vergadering ontvang.
Venter sê hulle hoop dat kerke genooi sal word om te dien in adviesrade en werkgroepe wat beleidsinvloed het en diskoers kan beïnvloed.
Ramaphosa het by navraag gesê die regering waardeer die bereidheid en vasbeslotenheid van die SARK om saam met hulle te werk om die bekommernisse aan te pak.
Kommentaar
xxx
Met verwysing, “…hy (Lubbe) het nie in dié gesprek voorgegee om op enigiets te roem, anders as om suiwer te verkondig wat God se woord ons leer, nie..”
Wat ‘n leuen. Hul verkondig vir dekades groot dele van die Bybel nie meer nie, en verwater die erns en gewig van soveel gebeure in die Bybel. En wil die heeltyd oor hul eie wonde praat dag na dag, jaar na jaar…niks ANDERS as die ‘pynboom afgod’** waarvan die Bybel só praat nie, waarvoor die eertydse Israeliete gebuig het. En die ’pynboom’ gee hul water al vir jare, en dié boom, se hout gebruik hul vir ‘brood bak’ om hul honger te stil vir aanbidding deur ander, sodanig nou alreeds, HULSELF ís nou al die ’PYNBOOM’, en vra van ander om voor húl woorde te buig en aan te neem en te ‘koester’ om hul warm te maak.
Een ding het ek al geleer: sodra mens teen ‘pynboom’ praat – wat WEIER om die Bybel waarlik te lees of na te luister, te internaliseer, daaroor te dink, daaroor te bid, te gehoorsaam, te leef, waarlik ten volle en ten diepste te preek – dan verander die ‘pynboom trane’ in onbeheerste woedebuie. NIKS anders as bose geeste wat vanuit so sodanige persoon optree, en vanuit haar/hom se kerk, en vanuit haar/hom se kerkruimtes, en in haar/sy se sosiale sfere optree nie.
Watter KLUG het die SARK nie geword nie.
En mens wonder onwillekeurig, of die VSA se Pres. Donald Trump – wat die ‘groentakkie’ aan Suid-Afrikaners gegee het om aansoek te doen vir ‘refugee status’ waar hul deur die SA Regering/ANC misbruik word – ooit bewus is van sulke denke wat hy na die VSA só gulhartig nooi. Donald Trump hou nie van jellievisse nie, en ek is bevrees, hy is nie bewus van hul ware innerlike karakter nie. Ek hoop waarlik hy word ingelig – en vra ALLE aansoeke indiepte uit, na hul denominasie verbintenisse, en of hul enige korrupsie waarvan hul weet, al ooit aan die Regering of die SAPS bekend gemaak het.
Die SARK se deelnemende leiers, verkondig aan hul eie lede wat hul nie eens naastenby oorweeg om sélf te volg nie. Maar hul preek ánder moet dit doen wat na hul luister. En die MISDAAD met sy groot en wye veld in aard met duisende voorbeelde, word nooit by die naam genoem, en aan hul eie lede voorgehou nie? Moet Cyril nou elke kerkdiens bywoon of wat, om te hoor dat SA ‘n groot MISAAD probleem het by JSE-maatskappye, en in die privaatsektor, en op soveel vlakke? Ek kan Pres. Ramaphosa gerustel: moenie hul kerkdienste bywoon nie, want hul preek nie eens teen MISDAAD van hul eie lede, wat so lieg en bedrieg nie.
Luister baie, baie fyn na SARK se leiers se woorde en hul preke: dit klink soos ‘n ”GROK-Large Language Model” wat verwys na ‘n groot bron van inligting (soos die Bybel), en beweer dit is soortgelyk aan die konsep van WAARHEID en OMVATTENDE INSIG, en hul noem dit san sommer ook ‘suiwer’, want wie sal nou lieg oor só gewigtige saak? Die duiwel, ja.
… een groot klug.
Plaas dat hul HUL SONDES en HUL KERKLEDE se sondes voor Cyril Ramaphosa en Jacob Zuma bely, hetsy wit, swart, bruin, Engels, Afrikaans, Xhosa, Zoeloe, Sotho, Venda, Duits, Portugees, Spaans, Russies, Italiaans, Frans, ens. Miskien sal beide Ramaphosa en Zuma dan die LIG sien dat SUID-AFRIKA se motor na ‘n afgrond afstuur – soos ‘n TITANIC wat besig is om te sink – en BEHEER WORD word deur deur hom, en sy maters, en die DA, EFF, MK, PA en ook die SARK se leuens in hul eie lewens en oor ander…insluitende ARCELORMITTAL SOUTH AFRICA se ”$-leuens”.
Suid-Afrika se Kerkleiers, is hoogmoedig. Hul vlieg hoog, en terg GOD – Esegiël 16:26 “Jy het ook gehoereer met die kinders van Egipte, jou baie sinlike nabure; en jy het jou hoerery vermenigvuldig om My te terg.”
Die Boek van ESEGiëL is nie ‘n romantiese storieboek nie, maar ‘n boek van diepe self-ondersoek.
** Jesaja 44:14 Een gaan sederbome afkap, en hy neem ‘n steeneik of ‘n eikeboom en laat een vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het ‘n pynboom geplant, en die reën het dit grootgemaak.
Jesaja 44:15 Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ‘n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar ‘n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.