Kerkleiers praat met presidensie oor nasionale dialoog, korrupsie

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kerkleiers praat met presidensie oor nasionale dialoog, korrupsie | Netwerk24

Ruhan Friedrichs

14 April 2025

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het vandeesweek met die presidensie by die Uniegebou in Pretoria vergader om kwessies van “nasionale en pastorale” belang te bespreek.

Die raad het onder leiding van biskop Sithembele Sipuka, sy president, ’n vergadering met pres. Cyril Ramaphosa, adj.pres. Paul Mashatile en kabinetslede gereël waarna verskeie kerkleiers by die Uniegebou verwelkom is.

Mzwandile Molo, woordvoerder, sê in ’n verklaring hulle is bemoedig nadat Ramaphosa erken het die raad speel ’n belangrike rol en het ’n belangrike bydrae gelewer tot vrede en enigheid in die geskiedenis van Suid-Afrika.

“Ramaphosa se erkenning het die grondslag gelê vir ’n oop en eerlike gesprek.”

Volgens Molo het verskeie kerkleiers maatskaplike kwessies soos die nasionale dialoog, korrupsie en die voortslepende stryd teen misdaad geopper.

“Daar is ook gepraat oor die behoefte om aandag te gee aan nasionale genesing en versoening en om Suid-Afrika se G20-presidentskap te gebruik om die behoeftes van die mees kwesbare mense te bevorder.

“Die raad het sy ondersteuning vir ’n dialoog bevestig en herhaal sy beroep van 2017 vir ’n nasionale gesprek wat daarop fokus om maatskaplike fragmentasie, morele agteruitgang en die verlies aan vertroue in openbare instellings aan te spreek.”

Molo sê die kerkleiers het benadruk vir die nasionale dialoog om aanneemlik te wees onder die mense wat dit wil bevoordeel, moet dit integriteit hê en ’n paneel van gesiene mense moet aangestel word wat onafhanklik is en die proses kan lei tot voordeel van die land.

“Die proses moet vry wees van die manipulasie van die politieke en ekonomiese elite. Die raad verwelkom Ramaphosa se voorneme dat alle vlakke van die samelewing aan die nasionale dialoog sal deelneem.

“Wat korrupsie betref, het die raad sy diepe kommer uitgespreek dat die voorstelle van die Zondo-verslag nie geïmplementeer is nie. Daar is strafloosheid weens ’n gebrek aan vervolging van die mense in hoë plekke wat by korrupsie betrek word en daar is ’n gebrek aan gevolge vir diegene wat by die Zondo-verslag betrek word.”

Volgens Molo het die relevante ministers wat die vergadering bygewoon het die staat se planne en strategieë voorgelê om korrupsie hok te slaan.

“Die ministers het ook verduidelik wat die staat doen om misdaad te bekamp. Ons het ’n beroep gedoen dat alle pogings verskerp word om dié pandemie, wat miljoene lewens verwoes, die hoof te bied.

“Die ministers het aangedui hulle sal met die kerkleiers saamwerk in hierdie inisiatiewe omdat daar altyd ’n aptyt vir die profetiese stem van die Kerk is in dié konteks.”

Die kerkleiers het ook hul kommer geopper oor die twis in die regering van nasionale eenheid.

“Gegewe die verskeidenheid van die sake wat voorgelê is, die gewig daarvan en tydbeperkings, het die partye hulself daartoe verbind om vorentoe tyd opsy te sit om meer indringend oor die kwessies te vergader.”

Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, het nie op navrae gereageer nie.

Van die kerkleiers wat die vergadering bygewoon het, sluit in Lulama Ntuta, visepresident van die raad, aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika, Bert Pretorius van die Rhema Family Churches, en Jan Lubbe van die Nederduitse Gereformeerde Kerke in Afrika.

– ruhan.friedrichs@media24.com

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui