2004 NGK homoseksuele besluit

Kyk ook:

Hieronder volg die besluit van die NG Kerk se Algemene Sinode oor homoseksualiteit in 2004.

Let daarop dat daar die sondige aard van homoseksualiteit nêrens in hierdie besluit erken word nie.

Kyk ook kommentaar in [vierkantige hakies].

**************************

Dit is die roeping van die Kerk om die Evangelie van Jesus Christus in alle omstandighede en aan alle mense te bring. Daarom is dit die Kerk se taak om die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val, sodat die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus – ook met betrekking tot hierdie aspek van die lewe – tuisgebring kan word.

[Hou in gedagte dat seksuele uitlewing binne die huwelik tussen man en vrou deur God aan die mens geskenk is, en dus nie oor dieselfde kam geskeer kan word as die bevryding wat nodig is van ander seksuele uitlewings nie. Kyk onder andere na 1 Tess. 4:4 waar spesifiek gesê word dat elkeen sy eie vrou moet kry.]

Dit is ook die roeping van die Kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebrokenheid, ons lidmate op te roep en te begelei om in waarheid, en met liefde en deernis voor God, met mekaar om te gaan.

[Dit moet baie duidelik gestel word dat die kerk nie aan “vooroordeel” skuldig is as sy haar lidmate aanspreek oor duidelike sondes volgens die Bybel nie.]

In die lig hiervan vra die Algemene Sinode verskoning aan alle homoseksueles en hulle families, binne en buite die Kerk, vir elke geval waar die Kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seergemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die Kerk se optrede raakgesien kan word nie.

[Die kerk behoort om verskoning te vra as haar lidmate nie homoseksueles in liefde gewys het op die nodigheid van bekering van hierdie spesifieke sonde nie, en hulle nie probeer help het om hiervan verlos te word nie. Die kerk kan nie omverskoning vra omdat hulle nie hierdie mense se lewensstyl aanvaar het nie.]

Die Algemene Sinode is diep geraak deur die pyn en lyding, verwerping en eensaamheid van persone wat op een of ander wyse met die werklikheid van homoseksualiteit gekonfronteer is. Daarom onderneem ons om met mekaar saam op weg te gaan, deur:

  • In liefde mense te ondersteun op persoonlike vlak en die nodige onder-steuningsisteme daar te stel op alle vlakke.
  • Met die middele tot ons beskikking die nodige pastorale begeleiding te verskaf, as daar ’n behoefte is.

[Pastorale hulp en begeleiding behoort in die grootste liefde te geskied maar kan uiteindelik tug ook insluit wat kan lei tot uitsetting uit die kerk volgens die Bybel. Uitsetting sal hopelik nooit die uiteindelike resultaat wees nie – dit is ons diepste wens dat verandering sal plaasvind. “… as daar ’n behoefte is” mag nie beteken dat die homoseksuele persoon maar mag voortgaan met sy lewenswyse nie.]

  • Saam te besin oor wat ’n Bybels-gefundeerde pastorale model is om homoseksuele persone te versorg.

[“en te bevry” behoort hier bygevoeg te word.]

Die Algemene Sinode erken dat daar in die Kerk verskillende vertolkings is van die beskikbare Skrifgegewens oor homoseksualiteit.

[Die kerk behoort te aanvaar dat daar net een ware vertolking van die Skrif is oor homoseksualiteit, naamlik dat die uitlewing daarvan sonde voor God is. Die redenasie van verskillende moontlike vertolkings is onaanvaarbaar want, gemeet dááraan kan die Kerk ook nie byvoorbeeld verklaar dat Jesus ware God is nie, gegewe die uitsprake van baie moderne hoogsgeleerde teoloë wat Jesus se Godheid verwerp.]

Ons onderneem om die gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit met die oog daarop om die Kerk en ons lidmate op die mees verantwoordelike manier te dien.

[Ons glo dat die Bybel baie duidelik oor hierdie saak is alhoewel die presiese wyse van hulpverlening en berading, in alle afhanklikheid van die Here, sekerlik kan verbeter.]

Volgens ons verstaan van die Skrif kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou word. (Handelinge, Algemene Sinode 2002: bladsy 624, 12: 11, punt 2.)

[Laat ons vertrou dat die Algemene Sinode nie die Skrif in die toekoms anders gaan verstaan oor hierdie saak nie. Laasgenoemde punt kort die bykomende verklaring dat seksuele uitlewing slegs toelaatbaar binne die huwelik is. Dit is nodig om dit so te stel want alleen dán is dit duidelik dat homoseksuele uitlewing ontoelaatbaar is.]

In aansluiting by die Algemene Sinode van 2002 bevestig die Algemene Sinode 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

[Enige homoseksuele uitlewing – nie net promiskuïteit nie – is sonde voor God en moet dus veroordeel word. Kyk na die Skrifgedeeltes in Levitikus 18:22 en 20:13. Daar is wel goeie Bybelse redes om die doodstraf nie meer in die Nuwe-Testamentiese tyd daarvoor toe te pas nie, maar sekerlik verander dit nie die sondigheid van homoseksuele uitlewing voor God nie.]

Die Algemene Sinode is daarvan oortuig dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en dat hulle op grond van hulle doop as volwaardige lidmate van die Kerk aanvaar behoort te word.

[Geen mens wat volhard in die sondes wat pertinent in die Bybel uitgespel word, sonder die voorneme om daarmee te breek, behoort uiteindelik, nadat die pad van tug in liefde deurloop is, ’n lidmaat van die kerk te bly nie.]

Dit is ons oortuiging dat ons alle mense se getuienis oor hulle geloof en toewyding, sowel as hulle seksuele oriëntasie, ernstig moet opneem en hulle integriteit moet aanvaar.

[Enige mens wie se getuienis oor hulle geloof en toewyding strydig is met hulle optrede soos gemeet aan die Skrif, se integriteit kan nie aanvaar word nie.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui